Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Gemeente is nou half herderloos na ‘n moewiese geveg met hul predikant.En soos elders is dit ook maar weer die beswaardes teenoor die nie-beswaardes… ’n dominee met sy ondersteuners en ‘n dominee met sy teenstaanders.

Midde in die geveg is ds Eddie Leeuw (foto), VGK-predikant inSteinkopf, Namakwaland. Hy (asook die kerkraad) is intussen deur die Ring geskors sonder salaris. Ook moes hy die pastorie verlaat.

Blykbaar weet baie gemeente-lede  nie rêrig waarvoor nie.

Maar behalwe die aanslag teen hom sit hy boonop met n sterfgeval in sy gesin na n gru-ongeluk, sowat n maand gelede.

Die geveg het so hand uitgeruk dat hordes gemeentelede verlede Sondag na die kerk opgeruk het. Hier was die kerklike woelinge op die spits gedryf tydens n onstuimige ope-lugvergadering oorkant die kerk. Kerkbroer en -suster het hier hul borste skoon gemaak.

Omstaanders vertel anoniem dat dit egter soos n vuurwarm politieke debat gelyk en klink het.

“Gemeentelede het agter n oop bakkie plek ingeneem en vuurwarm speeches gemaak. Kort-kort het van die ‘uiters moeilike’ gemeentelede hande geklap of met aggressie geantwoord op die stellings van ‘n kerk-antie.”

In n video kan gesien word hoedat hierdie antie soos ‘n presidentsvrou praat dat die teerpad weergalm.

Mercia Cloete, lid van die kerk het omgekrap gesê: “Hou op met groepe-vorming en strewe eerder na eenheid. Hier is ‘n geval van eenheid versus skeuring. Ons moet egter op n respekvolle manier van mekaar verskil. Here, help!”

Intussen het ‘n brief uitgelek wat ‘n bekende ondersoekende joernalis van Steinkopf aan die kerkraad gerig het. Sy is Cathy Drage-Dlodlo, tans hoof van die nuusafdeling by radio OFM in Bloemfontein.

Sy het geskryf: “Oor Sondag se gebeure het ek my kop in skaamte laat sak. Die voortslepende tweestryd is n skreiende skande vir die kerk waarin ek opgegroei het. En behalwe dit, is ds Leeuw nog stukkend van rou nadat sy vrou verongeluk het.”

Volgens Drage-Dlodlo, het die kerkraad haar brief beantwoord. Hulle het ook te kenne gegee dat sy gerus, maar op haar eie, voort kan gaan met haar ondersoeke oor die woelinge.

Die skriba, Lea Bezuidenhoudt, wou geen kommentaar lewer nie.

Intussen het oom Pieter de Klerk, woordvoerder, van die dagbestuur van die Steinkopf kerkraad laat weet dat hy nie alleen namens hulle kan praat nie. Hy het voorgestel dat die media die dagbestuur persoonlik gaan sien op Steinkopf.

Leeuw het gesê dat hy tans besig is om ‘n “geliefde pastoriemoeder,” sy vrou, Karen, se begrafnisreeling te tref, vir Saterdag se teraardebestelling. Sy was op 31 Augustus in n gru-ongeluk betrokke. Hy het ook vertel dat die Ring en nie die kerkraad nie hom geskors het.

Hy’t verder net gesê: “Ek sal later met die media praat. Tans ondersteun die gemeente en gemeenskap ons as gesin in hierdie moeilike tyd.”

 

 

 

 

 

Leave a Reply