Skip to main content

Dit is ‘duim in die lug’ vanuit President Cyril Ramaphosa se hoek aangaande die vrystelling van die finale verslag vanaf die spesiale ondersoekeenheid (SIU) m.b.t. die gesondheidsdepartement se R150 miljoen digitale kommunikasie-kontrak debakel.

Onder die stuur van die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het baie twyfelagtige gebeure plaasgevind. Kontrakte vir nasionale veldtogte asook die daaropvolgende Covid-19-kommunikasiekontrak wat aan Digital Vibes toegeken is deur die National Health Insurance (NHI) was onder die vergrootglas geplaas.

Daar is duidelike bewyse in die verslag dat Mkhize ‘n botsing van belange gehad het. Vriende en kennise van Mkhize  – wat direk en indirek voordeel getrek het uit die kontrakte –  was aangestel onder ‘n Digital Vibes dekmantel, glo om toesig te hou oor twee veldtogte. Mkhize het versuim om hierdie inligting aan die presidensie te onthul.

Die verslag dui ook aan dat Mkhize doelbewus misleidend was deur belangrike inligting van die kabinet te weerhou en dat sy optrede ‘n direkte inmenging in die administratiewe uitvoerende gesag van die department van gesondheid was.

Mkhize het bedank nadat ‘n berig in Sunday Times gewys het hoe fiktiewe maatskappye gestig was om mededinging uit te skakel. Tahera Mather, sy vriendin, en Naadhira Mitha, Mkhize se voormalige assistent was hier betrek.

“President Ramaphosa het vroeg in Julie 2021 ‘n verslag en verwysing oor die Digital Vibes aangeleentheid van die spesiale ondersoekeenheid ontvang,” het die presidensie in ‘n verklaring gesê.

‘Die presidensie het daarna derde party kennisgewings gestuur aan alle persone of entiteite waarna in die verslag verwys word, sodat hulle ‘n geleentheid kan kry om beswaar te maak teen die publikasie daarvan of ‘n gedeelte daarvan.

‘Dit is gedoen in die belang van billikheid en in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), na ‘n aantal PAIA-aansoeke deur persone en partye wat die verslag wou sien.’

Die saga duur voort..

 

Leave a Reply