Skip to main content

Die Modimolle-polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die gewapende rooftogte wat Saterdag 7 Augustus by twee vulstasies in Modimolle plaasgevind het.

Die rooftogte het in die oggendure van Saterdag 7 Augustus plaasgevind. Die verdagtes het in ’n silwer Volkswagen Polo van die toneel gevlug.  Hulle is na bewering ook betrokke by ander misdade in die streek.

Die Modimolle-taakspan, onder leiding van AO Ross Rossouw, het klaarblyklik inligting ontvang dat ‘n selfoon wat tydens een van die rooftogte gesteel is, gewys het dat die foon volgens die GPS-koördenate in Thabazimbi in gebruik was.

Een van die verdagtes, Frans Kgoale, is kort daarna in hegtenis geneem. Hy het die polisie na ondervraging na ‘n vermeende medepligtige gelei.

Die verdagte werk na bewering by die Sassa-kantoor in Thabazimbi.  Die silwer Polo is in sy besit gevind.  Daar was ook beslag gelê op ‘n speelgoedgeweer sowel as ‘n skootrekenaar wat in Mokopane as gesteel aangemeld is.

Mmotlana het na bewering een van die gesteelde selfone verkoop, maar dit is in ’n winkel op die dorp opgespoor.

Albei verdagtes het op Maandag 20 September in die Modimolle-streekhof verskyn en bly in aanhouding totdat hulle borgtogaansoek aangehoor word.

Leave a Reply