Skip to main content

Die drywer se wit tande spook by De-Bra. “Hoe kry hulle dit so wit?” mor sy terwyl ons teen sterk skemer hop-hop deur die modderstrate van Mombasa ry. Waarheen weet ons nie. Ons weet net dat ons wel een of ander tyd by ‘n hemelse oord sal arriveer.

“Ek hoor hulle gebruik die as van ‘n uitgebrande vuur,” mompel ek, my gedagtes by dit wat ek deur die oop ruit aanskou.

Daar is nie ‘n duidelike pad nie. Hoe die drywer weet waar om te ry weet nugter. Geroeste sinkhuisies is aan weerskante van die baan waarin ons ry, en op sommige plekke is die pad so nou dat die drywers letterlik kantspieëltjies teen mekaar skuur in die slakkepas verbygang.

“Hei, al die deure maak binne-toe oop,” merk De-Bra op.

Dis waar, en ek het dit nie eers raakgesien nie. “Ek dink dis sodat die voertuie nie die deure afry nie,” raai ek.

Nou kyk, ons ry so stadig dat mens netsowel kan handskud met die hut-inwoners. Dalk ‘n koppie tee geniet.

Oh, my hat!” sidder De-Bra skielik en ek leun oor haar bobene om te sien wat sy sien.

In die een huisie sit ‘n ouerige vrou op ‘n ingeduikte koos. Ek weet wat sy doen, want haar oë staan stokstyf in haar beplooide gesig, en ons is so naby dat ek waterigheid oor haar oogballe kan sien vergader. Toegegee, sy het darem haar rok oor haar skoot, so mens kan nie die dele wat privaat is, sien nie.

Nietemin, De-Bra meen dat sy ten minste uit die oog kon sit.

Ek kan nie wegkyk nie. Haar stryd word myne en hier diep in my binneste wil ek haar met veelkleurige pompoms aanmoedig. Ek doen dit natuurlik, maar net in my kop.

Haar oogballe se wit word groter, en twee are bult vasberade weerskante van haar slape tot onder haarkopdoek in.

Dan, net toe die Venture wegtrek, sien ek die duidelike verligting op haar gesig. Jy weet mos, nes daardie een salm, wat stroom-op swem, en uiteindelik die reuse rots bemeester voordat hy sy verdure tog aanpak. Haar salm land met ‘n dowwe plof in die koos, en sy verdwyn uit my visie uit.

“Dit was nou weird,” giggel De-Bra. “Ek wou hande klap toe haar are gaan slap lê.”

Ek sê niks van wat in mý koppie aangegaan het nie.

Dit is nou byna donker, en iewers moet ‘n verkeersirkel onder die modder versteek lê want al die voertuie ry netjies in ‘n sirkel voordat hulle hul eie weë gaan.

“Not far now,” praat die drywer oor sy skouer.

In die verte sien ons liggies, maar ons had g’n idee wat dit was nie.

“Dalk die oord,” raai De-Bra. “Ek kan nie wag nie!”

Haar woorde het skaars in die halfsirkelvormige kanale van my koglea gaan lê – sodat my brein dit kan aanvaar as iets wat ek gehoor het -, of De-Bra gaan aan’t gil soos ‘n kind wat die naels wat sy ma afgeknip het, teruggeplak wil hê en besef dat dit nie gaan gebeur nie.

Haar arms swaai soos windmeule en ek kan hoor hoe kap sy haarself ‘n paar keer in die donkerte raak.

“Eina, bliksem,” gil sy en probeer regop kom terwyl die sitplekgordel nog vas is.

Haar gille is skrikwekkend. Soveel so dat ek onwillekeurig saam begin gil, want ek word nou ook skielik bewus van iets reusagtig wat binne-in die voertuig rondfladder.

Ek het ‘n heilige vrees vir vlermuise. Ja, ja, seker oor die mites dat hulle jou bloed sal leeg suip, maar niemand kon my nog ooit andersins oortuig nie. Ons twee se gille vorm ‘n baldadige duet. Sonder begeleiding.

Vlermuis se kind wapper winderig hier langs my hare en ek probeer onder De-Bra se pienk hempie inwurm.

“Wat … de … hel … maak … jy?” gil sy in ‘n vals sopraan stem terwyl sy die sitplek uit die raamwerk begin wikkel in die gestoei.

Ek weier om my oë oop te maak. As ek dit gedoen het sou ek gesien hoe lag die drywer so dat hy vir ‘n lang strook deur die boendoes ry. De-Bra se vetrol onder haar buuste voel gerusstellend. Ek laat los nie my greep nie.

Die liggies wat netnou in die verte was kom nou vinnig nader en ons sien dat dit aan ‘n veerboot behoort. Ons albei hou net lank genoeg op met gil totdat ons merk dat dit toe al die tyd nie ‘n vlermuis was nie, maar ‘n moerawiese mot. Die lae-lak-lepidoptera fladder toe so ewe by die oop ruit uit en verdwyn in die naglug.

Ons sak stil in ons stiplekke terug en staar stip voor ons terwyl die drywer die voertuig behendig tot onder in die veerboot se karparkeerplekke stuur. Dan skakel hy die enjin af en klim uit sonder om vir ons te kyk.

“Vir wat skud sy skouers so? Het hy tourettes?” mor De-Bra.

Die parkeerarea is goed verlig, en eers toe ander voertuie om ons begin parkeer, haal ons normaal asem en begin rondkyk.

“O jimmel, kyk hoe lyk jy!” lag De-Bra hardop.

Sy kan nie juis praat nie. “Jou hare lyk soos Cameron Diaz s’n. In There’s something about Mary,” kap ek terug. “En jou hemp is agterstevoor aan.”

“Dis jy wat my uitgetrek het! Gelukkig het ek ‘n stywe bra aan, anders was jy seker pens en pootjies binne-in die ding!” byt sy.

“Ag sjoesh! Ek kan nie help as ek gedink het dis ‘n vlermuis nie. Jy is die een wat eerste soos ‘n sterwende walvis begin gil het!”

De Bra se oë vernou. “Sê jy ek is vet?”

My brein werk op ‘n missie van sy eie. Veral nadat ek my alie af geskrik het. De-Bra se stem klink vir my soos ‘n deel uit Finding Nemo in my kop. Die een waar Dory walvis gepraat het. Ek begin lag. En ek kan nie ophou nie.

Later, baie later, besef ek presies wat daarna gebeur het. Ek vryf met my een hand oor my wang, daar waar ek steeds De-Bra se vyf vingers se buitelyne kan voel. Sy probeer nou al vir meer as vyftien minute vir my vertel dat ek histeries was, en sy my moes terughelp hede toe.

Ek wil niks van haar weet nie. Stilte is my heil. En dan, wanneer ek wil praat, gaan ek hierdie mêrrim met die pienk hare mooi vertel!

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!