Help! My viervoetige troeteldier se asem ruik sleg!
Slegte asem is een van die algemeenste probleme by honde en katte. Hoewel ‘n klein persentasie van diere vanweë geen oënskynlike rede slegte asem het, het die meeste diere wat daaraan ly een of ander tand of mediese probleem. Nierversaking, diabetes en mangelontsteking is van die moontlike mediese oorsake daarvan. Die meeste gevalle word egter deur onderliggende tandprobleme veroorsaak en dit is waaroor hierdie artikel gaan.
# Hier is ‘n paar interessante feite wat deur Bergbos dierekliniek en Landbouweekblad verskaf is. (bergbosvet.co.za).
Tot 85 % van honde ouer as vier jaar het een of ander tandverwante probleem. Die algemeenste van hierdie probleme is periodontale siekte. Dit behels inflammasie van die ligamente wat die tand in die tandkas anker. Die oorsaak daarvan is plaak wat op die tandemalje opbou en geleidelik omgeskakel word in tandsteen. Tandsteen bestaan uit ‘n mengsel van mineraalafsettings en bakterieë wat ‘n harde dop buite-om die tand vorm.
Tandsteen kan ook langs die nek van die tand af beweeg, die tandvleis wegskuif en sodoende die tand losmaak. Dit lei tot infeksie van die tandvleise en is die nommer een oorsaak van slegte asem in diere wat nie net onaangenaam vir die eienaar is nie, maar ook skadelik vir die dier se gesondheid kan wees. In ernstige gevalle kan die infeksie vanaf die tandvleis deur die bloedstroom versprei na ander organe soos die niere, lewer en selfs die hart. Periodontale siekte is meer algemeen in ouer diere, maar kan ‘n probleem in jonger diere wees, veral in sekere rasse, soos Yorkshire Terriers, Miniatuur Worshonde en Maltese Poedels.
Ander tandprobleme wat mag voorkom is tandfrakture, verslete tande en tandwortelabsesse. Frakture is meer algemeen in honde en word gewoonlik veroorsaak deurdat hulle aan harde voorwerpe soos klippe en bene kou, gevegte met ander honde en motorongelukke. Absesse word gevorm wanneer die pulpholte blootgestel raak weens verslete of gebreekte tande. Die infeksie versprei deur die pulpholte en wortelkanaal na die punt van die tand waar die abses tussen die wortel en die omliggende been gevorm word. Dit is gewoonlik ‘n baie pynlike toestand en mag sigbare swelsel van die dier se gesig of kaak veroorsaak.
Tekens dat jou viervoetige moontlik tandprobleme het:
Slegte asem
Kou moeilik
Skuur die gesig op die vloer na ete
Verloor eetlus
Tande verkleur
Tandvleise wat bloei
Los tande (dit is normaal by jong diere, hulle wissel tande tussen vier en ses maande)
HOE OM DIE PROBLEEM TE BEHANDEL
Indien enige van die bogemelde tekens aanwesig is, sal dit raadsaam wees om die dier na u naaste veearts te neem vir ‘n behoorlike ondersoek. Tandsteen kan slegs verwyder word onder narkose d.m.v. ultrasoniese skalering. Dit word gevolg deur polering van die tande om verdere opbou van tandsteen te verhoed. Gebreekte tande moet óf getrek word óf verwys word na ‘n spesialis vir wortelkanaalbehandeling.
HOE OM DIE PROBLEEM TE VOORKOM
Daar is verskeie produkte beskikbaar om die opbou van plaak en tandsteen te voorkom. Praat gerus met u veearts daaroor. Sekere troeteldierkosse is spesiaal geformuleer om die opbou van plaak te voorkom. Daar is ook ‘n verskeidenheid kouspeelgoed en ander koubare produkte sowel as tandepasta en tandeborsels vir troeteldiere beskikbaar.
Hopelik na die veearts besoek en behoorlike behandeling sal Fiefie se oopmond soene meer aanvaarbaar wees …