Skip to main content

Die National Economic Fighters, ‘n nuwe politieke party wat geregistreer is om in groot dele van die Noord-Kaap aan die komende munisipale verkiesings deel te neem, beplan om sy verkiesingsmanifes die naweek bekend te stel.

Die party het kandidate geregistreer in die Nama Khoi (Springbok), Richtersveld (Port Nolloth), Kamiesberg (Garies) en Khai-Ma (Pofadder en Aggeneys)-munisipaliteite.

Volgens Dawid Marcus, leier van die party, spits die party hom veral toe op ekonomiese bevryding, met klem op die plaaslike gemeenskap se benutting van die minerale rykdom van die grond.

Hy verduidelik die nuwe party se wapen, wat ‘n opkomende son oor ‘n diamant met ‘n gekruisde graaf en pik daarin uitbeeld, soos volg: “Die opkomende son simboliseer ‘n opkomende party en die toekoms, die diamant die minerale rykdom van die omgewing en die gekruisde graaf en pik ons tradisionele waardes.”

Ofskoon die NEF die belange van die hele gemeenskap op die hart dra, is dit veral die lot van die Namakwalandse delwersgemeenskap wat baie gewig by hulle dra – ‘n eienskap wat die NEF vroeg-vroeg in die gemeenskap die bynaam van die Diggers-party besorg het. Die delwers is mense wat met rugbrekende hande-arbeid ‘n bestaan probeer maak, maar gebuk gaan onder beperkende regulasies en wetgewing wat groot korporasies bevoordeel en die klein delwers se inkomste geweldig beperk.

Verskeie van die kandidate wat die party in die komende verkiesing gaan verteenwoordig, is ervare plaaslike politici. Daar is selfs sittende en voormalige stadsraadslede onder hulle.

Renthia van Wyk (53, foto), die kandidaat wat in die Richtersveld vir die party staan, is ‘n uitstekende voorbeeld. Sy het jare vir die ANC gewerk en het selfs op die regerende party se plaaslike uitvoerende struktuur gedien.

Sy glo dat ontsettend baie in Port Nolloth kan verander om werk vir die plaaslike gemeenskap te skep. “Ons dorp is tradisioneel ‘n vissersgemeenskap,” sê sy. Die visserybedryf asook toerisme bied geweldige potensiaal, maar daardie potensiaal word van die gewone mense weggehou. Dit is in ‘n groot mate ‘n boetie-boetie stelsel wat net ‘n handjievol mense bevoordeel.

Van Wyk, ‘n bekende gemeenskapsaktivis, meen die ANC se klein meerderheid in 2016 se munisipale verkiesing in die Richtersveld kan op 1 November omgeswaai word.

Die Waarheid stem met haar saam.

DIE WAARHEID Sê:

Tradisioneel sukkel nuwe partye in die Suid-Afrikaanse politiek om kiesers se steun te trek, maar Die Waarheid glo vanjaar se munisipale verkiesings kan ‘n keerpunt wees.

In 2016 met die vorige plaaslike verkiesings het ons gesien dat stemgeregtigdes in groot hoeveelhede van die stembus af weggebly het. In die groot stedelike metros het die ANC gesukkel om volstrekte meerderhede te kry en Tshwane, Johannesburg en Port Elizabeth verloor aan koalisies.

Ons glo dat hierdie tendens vanjaar al hoe meer in kleiner plaaslike regerings gesien sal word.

Onafhanklike kandidate sowel as kleiner en nuwe partye kan ‘n ongekende gewildheid onder plaaslike gemeenskappe trek. Ons glo die kiesers kan veral besluit om hul kruisies te trek langs kandidate met ‘n bewese baanrekord in gemeenskapsaktivisme en plaaslike kwessies.

Die Waarheid glo die NEF se waardes van minder ingrypende regeringsregulering van bedrywe wat welvaart na plaaslike gemeenskappe kan bring, kom ooreen met ons eie idees. Met dit in gedagte, steun Die Waarheid die Diggers-party op 1 November.

Ons sal ons lesers die geleentheid bied om die veldtog van ‘n klein, nuwe partytjie in die stryd teen groot gevestigde partye soos die ANC, die DA en die EFF in vanjaar se verkiesings te volg.

In die volgende maand of wat sal ons Marcus se verkiesingsmanifes aan ons lesers bring, ons sal onderhoude met elke kandidaat publiseer en hopelik hulle sukses aan lesers rapporteer.

One Comment

  • Duncan Gill says:

    Dit is hoog tyd die gemidelde burger meer se te had het in sy eie omgewing en lokale munsipaliteite.Die idee dat ander mag ingryp in lokale besigheid is verkeerd en moet eiend kry.Laat die mens hulle eie pad inslaan en spesial as dit gaan oor die saak van hulle benuting van die minerale rykdome in elke gebied self!

Leave a Reply

error: Content is protected !!