Tong-in-die-kies sterre, soos voorspel deur Madame Zee
RAM 21 MAR – 19 APR
Jy sal ‘n duidelike oplewing van hernude energie voel. Jy sal dit dus maklik vind om verlief te raak. Wees bedag hierop, veral as jy getroud of in ‘n verhouding is. Daar lê baie veranderings vir voor, insluitend ‘n reistog. Dink daaroor om ‘n blog oor die reis te doen. Jy mag dalk net deur ‘n tydskrif betaal word daarvoor.
As jy enkel is gaan jy saans ‘n aansienlike deel van jou tyd verwyl deur lang gesprekke per selfoon met ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag te voer. Onthou, die inperkings veroorsaak kluisenaarskoors, en jou brein sal maak dat jy na enige grashalm gryp wat blyk dat dit jou lewe sal opkikker. Is jy voorbereid daarvoor? Dit kan ‘n avontuur of nagmerrie wees, afhangende van watter tipe alkohol jy geniet.
STIER 20 APR – 20 MEI
Jy sal hierdie week maklik nuwe vriende met ander mense maak. Jou welsprekendheid sal op ‘n baie hoë vlak wees, en jy sal soos ‘n vis in die water voel in die geselskap van mense met intellektuele belangstellings. Hang daar rond want jy sal baie leer. Of nie.
Jy gaan ook jou kennis wil verdiep, aanmeld vir ‘n kursus of groepsklasse. Onthou, vermy liefs kursusse wat baie energie verg, want jy is nou in ‘n lui bui. Geniet die week teen ‘n stadige pas, en skryf neer wat jy leer. Dit ontaard dalk in ‘n lekker storie.
TWEELING 21 MEI – 20 JUN
Die wind sal vandeesweek voluit in jou seile waai. Dit sal nie net vir jou opvallend wees nie, maar ook vir mense wat jou ken. Maak net seker dat jy die kans goed benut, want alle oë gaan op jou gerig wees.
Jou emosionele lewe sal ook floreer – dit geld vir beide eensame mense en die wat in verhoudings is. Doen iets wat jou kan laat ontspan in jou vrye tyd. Begin ‘n nuwe stokperdjie, soos hoe om skemerkelkies te meng. Ek het volle vertroue in jou om ‘n heel nuwe een te ontdek. En plaas dan jou resep hier op die blad sodat ons dit kan uittoets.
KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE
Jy sal ‘n beduidende ontwikkeling in jou sosiale lewe waarneem. Van nou af gaan al jou vrye tyd ingeneem word deur nuwe vriende en nuwe interessante dinge. Moenie te veel goed op jou skouers neem nie, want jy sal nie by alles kan uitkom nie.
Een van jou kennisse gaan jou in die versoeking probeer lei om iets aan te pak waarmee jy nie gemaklik is nie. Onthou, dit kan van 4 tot 8 maande neem om ‘n dagga-plant te kweek. Dit hang af van waar dit groei. Maar as jy dit binnenshuise groei, kan jou plant na slegs ‘n paar weke blom! Jy moet besluit of jy wel die kans wil waag.
LEEU 23 JULIE – 22 AUG
Jy kan doen met ‘n bietjie humor hierdie week. Dit is baie belangrik dat jy donker situasies vermy want jou geduld is aan die dun kant. Leer om vir jouself te lag, want dit gaan jou dra wanneer jy probleme met jou gade of by die werk ondervind.
As jy sukkel om die snaaksheid in situasies raak te sien, lees ‘n bietjie op oor die ANC se kiesersbeleid vir die komende munisipale verkiesing op 1 November. Dit sal jou uit jou maag lat laag. Jy mag dalk daarna aan die grens gaan, maar probeer sterk wees.
MAAGD 23 AUG – 22 SEP
Daar sal dié week ‘n paar onverwagte gebeurtenisse in jou lewe wees. Jy word dalk uit die bloute ouma of oupa, of jy sal uitvind dat jou ma dalk eintlik jou suster is. Moenie dat hierdie dinge jou lewe omverwerp nie. Jou week gaan te besig wees met verpligtinge om jou aan hierdie dinge te steur.
Ondanks alles wat jou onkant gaan vang sal jy mettertyd besef dat dinge gebeur soos wat dit moet, en dat alles aan die einde die moeite werd sal wees. Belê in ‘n goeie kultivar wyn.
WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT
Hierdie is ‘n week waarin jy gaan skitter met kreatiwiteit, moed en vinnige optrede. Jy sal die aandag van ander soos ‘n magneet aantrek, veral dié van die teenoorgestelde geslag.
Aan die einde van die week sal jy ‘n nuwe geleentheid kry om ‘n ekstra inkomste te verdien, wees dus voorbereid daarop.
In die middel van die week sal jy oorweldig word deur ‘n passievolle bui. Maak net seker dat die kinders eers slaap, en dat jou gordyne nie deursigtig is nie.
SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV
Jou alledaagse lewe gaan handomkeer verander. Jy gaan baie nuwe, interessante kennisse maak. Dit gaan jou laat besef dat die lewe oor meer gaan as kerk, werk, eet, bad en slaap.
Jy droom al hoe lank van ‘n reis, en daar is baie interessante plekke wat jy kan besoek wat jou siel sal laat nuut voel. Wees braaf, en doen iets wat mense nooit gedink het jy sal doen nie. Plaas gerus foto’s van jou ekskursie.
BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES
Jy gaan met nuwe oë na jou foutlose, maar oninteressante bestaan kyk, en dit sal jou laat besef dat die tyd om iets te waag nou aangebreek het. Ek praat nou nie van mal goed doen soos voor bulle hardloop in Pamplona nie, of om ‘n hangsweeftuig aan te skaf nie.
Begin met klein stappies, en soos wat jou selfvertroue groei, kan jy groter dinge aanpak. Sluit aan by ‘n lyndansgroep. Wie weet, dalk is jy ‘n Michael Flatley in wording.
STEENBOK 22 DES – 19 JAN
As die vorige weke vir jou suksesvol was, ‘n tyd waarin jy jou geestelike krag kon versterk en jouself kon bevry van alledaagse probleme en twyfel, gaan die komende week sorg dat jy in ‘n optimistiese bui wees. Daar sal natuurlik mense om jou wees wat nie daarvan gaan hou nie, maar wie gee om?
Jy verdien dit om breëskouer, vol selfvertroue, en met ‘n groot glimlag die week tegemoet te gaan.
As daar mense is wat jou bui wil ondermyn, maak vir hulle koffie. Jy sal dit mos nie kan verhelp as daar ‘n druppel speeksel in die koppie val nie, of hoe? Mens roer dit vinnig weg.
WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB
Hierdie is die week waarin jou sprankelende persoonlikheid duidelik na vore gaan kom. Op die horison wink daar geleenthede vir ‘n paar veranderinge, maar voordat jy dit neem, kyk of dit regtig in jou belang is.
Jou kop gaan nou vol idees wees, en jy gaan moontlik in die versoeking kom om iets onbesonne aan te vang. Wag eerder vir 48 uur voordat jy iets aanpak. Dalk gee die ure tussen-in vir jou die wysheid wat jy nou kort. Hospitale is vol Covid, en jy wil nie daar aansterk tussen mense wat kuggies het nie.
VIS 19 FEB – 20 MAART
Jou onderdrukte ambisies gaan nou viervoet uit die kas klim hierdie week. Die blitsige tempo waarteen alle twyfel wat jy met jou saamgedra het, verdwyn, sal selfs vir jou verbaas. Nou is die tyd om jou huis te orden, die wêreld om jou te organiseer, en ‘n nuwe blaadjie om te slaan.
Koop daardie haarstuk as jy bles is. Gaan vir ‘n privaat waks, al doen jy dit onder ‘n vals naam. Eet roomys totdat jou maag pyn. Hoekom? Want jy kan!