Skip to main content

DR BEVERLEY MALAN

Soos belowe, volg hier ‘n gedetailleerde beskrywing van die Montessorimetode, ‘n benadering wat besonder geskik is vir die motoriese, kognitiewe, psigiese en sosiale ontwikkeling van kleuters en kinders tot en met nege-jarige ouderdom. Die fokus van hierdie artikel is dus op die gebruik van hierdie metode vir kinders jonger as 10. Taal en syfer ontwikkeling asook die ontwikkeling van ouer kinders se kognitiewe ontwikkeling sal in die volgende artikel bespreek word.

Die Montessorimodel rus op twee pilare – die leeromgewing en die ‘onderwyser’ of, soos ons daarna sal verwys, die fasiliteerder – m.a.w. die persoon wat dit vir die kinders moontlik maak om te leer. Omdat die doel van albei hierdie komponente die kind se kognitiewe, psigiese, sosiale en taalontwikkeling as doel het, en omdat dit die fasiliteerder se verantwoordelikheid is om sodanige ontwikkeling te stimuleer en ondersteun, is dit belangrik dat hy/sy nie net ‘n fisiese leeromgewing skep wat hierdie soorte leer bevorder nie, maar ook seker maak dat die atmosfeer (die psigiese en sosiale leefruimte) van so ‘n aard is dat dit  die doelgerigte en doelmatige leer van al die kinders in die leeromgewing bevorder. Anders gestel, die fasiliteerder moet verseker dat die leeromgewing nie net die kinders lus maak om te leer nie maar dat dit hulle ook in staat stel om hulself te wees.  So ‘n leeromgewing moet nie net die kinders sintuiglik prikkel nie maar moet hulle ook psigies en emosioneel veilig en geborge laat voel. Slegs dan sal hulle die waagmoed aan die dag kan lê om te eksperimenteer, te skep en, bowenal, selfstandig/onafhanklik van ander se hulp en/of ‘inmenging’ te leer.

Ons het reeds in die vorige artikel gesels oor hoe u en u kinders te werk kan gaan om vir hulself ‘n leerruimte te skep. Wat ons nie beklemtoon het nie is dat die leeromgewing, as dit in u eie huis plaasvind, nie net die kamer/s is waarin die kinders se ‘formele’ leer gaan plaasvind nie maar u tuiste as ‘n geheel, m.a.w. die huis en die erf waarop dit staan, die diere wat daar woon, die groente en blommetuin, die swembad en braaiplek, ensovoorts. U kinders se leerproses vind dus nie net in hulle ‘formele’ leerrruimte plaas nie maar oral om hulle.  Volgens Montessori is dit wat daagliks in en om die huis gebeur, byvoorbeeld kosmaak, tafel dek en afdek, skottelgoed was, stryk, die huis skoonmaak, diere en plante versorg, ensovoorts ook leergeleenthede. Deur die doen van hierdie dinge ontwikkel kinders ‘n pligsbesef, verantwoordelikheid, ‘n sin vir gemeensaamheid met ander, omgewingsbewustheid en, deur hul kontak met die natuur, hoe hulle rustig kan word en/of hul energie so te herwin.

U vra uself seker nou af hoe die leermateriaal lyk, hoe dit gebruik moet word en wie dit ontwikkel. Die ontwikkeling van die leermateriaal is die verantwoordelikheid van die fasiliteerder maar u, as ouers, sou dalk kon besluit dat u dit graag self sou wou doen en/of dat u dit saam ander ouers sou wou ontwikkel. Dan, sou u besluit om ‘n buitepersoon as fasiliteerder te gebruik, u aan hom/haar te verduidelik hoe dit gebruik moet word. Omdat Montessori geglo het dat die kognitiewe ontwikkeling van kinders onder die ouderdom van nege jaar deur beweging gestimuleer word, word al die leermateriaal so ontwikkel dat of hul groot of hul klein motoriese spiere moet gebruik om ‘n aktiwiteit te voltooi.

Individuele aktiwiteite sluit byvoorbeeld die gebruik van boublokke of blikke vol houtblokke om kammatorings, huise, paaie, heinings, ensovoorts te bou; vorms soos driehoeke, sirkels, vierkante, trapesiums, ensovoorts wat hulle, soos in ‘n legkaart, op ‘n voorafbereide bord moet inpas; die bou van gewone legkaarte; die optel, ronddra en neersit van voorwerpe van verskillende lengtes (hulle moet dit op die punte vashou om ‘n begrip van lengte te ontwikkel), verskillende vorms en gewig; sortering van blokkies of voorwerpe in term van kleur, grootte, vorm, gewig, ensovoorts. Om hulle klein motoriese spiere te ontwikkel en hulle voor te berei vir lees, skryf en tel gebruik Montessori ook uitgesnyde skuurpapier letters en syfers wat op ‘n gladde bord gemonteer is en wat kinders dan met toe oë of geblinddoek met hul vingers moet navolg ‘trace’ – sodra hulle die gladde oppervlak van die bord onder hulle vingers voel moet hulle terugbeweeg na die betrokke letter of syfer.

Gesamentlike aktiwiteite sluit in verskillende ‘beweginspeletjies” – slenter, marsjeer, hardloop, spring, ensovoorts op ‘n krytlyn of tou op die maat van verskillende tipes musiek; bal en hoepelspeletjies, ‘hop scotch’, skattejag, ensovoorts. Sy sluit ook speletjes in wat van hulle verwag om daarop te konsentreer om rustig en stil te word. Een voorbeeld hiervan is om saam met haar doodstil te staan en te probeer om glad nie te beweeg of enige geluide te maak nie. Sy gebruik ook bord en prentkaartspeletjies om hul bewussyn van verskille en ooreenkomste tussen dinge te eien, konsentrasie te ontwikkel, en gesonde kompetisie en interaksie met ander te bevorder.

Anders as in ‘n ‘skool’ vind tuisskoolleer nie volgens ‘n spesifieke tydrooster werk nie. Die enigste tye wat altyd dieselfde bly is wanneer die ‘skooldag’ begin en wanneer dit eindig. Wat tussenin gebeur hang van die kinders en die fasiliteerder af. ‘n Tipiese Montessori skooldag sal gewoonlik begin met een of meer van die gesamentlike aktiwiteite wat hierbo genoem is. Daarna sal kinders wat nog nie die taak waarmee hulle die vorige dag besig was, afhandel en dán die leermateriaal wat hulle daardie dag wil gebruik gaan haal en begin werk. Omdat dit die kinders self is wat die leermateriaal en, by implikasie, die aktiwiteit wat daarmee gepaard gaan kies, is dit waarskynlik dat die take wat verskillende kinders doen van mekaar sou verskil. Dit is ook die kinders self wat besluit wat hulle leerdoelwit in elke geval is, hoe hulle die materiaal gaan manipuleer om daardie doelwit te bereik, en hoeveel tyd hulle aan die bereiking van elke doelwit wil bestee. Hulle kan ook self besluit wanneer hulle ‘n ‘breek’ of ‘n verandering nodig het. Hulle kan dan met iets anders begin, buite gaan rondloop, iets eet of drink, ensovoorts, mits dit wat hulle doen nie die ander kinders se konsentrasie versteur of hulle leerproses op een of ander manier onderbreek of verhinder nie. Elke kind aanvaar dus die verantwoordelikheid vir sy/haar eie leer.

Sodra ‘n kind ‘n aktiwiteit voltooi het, ongeag die tyd van die dag, sal die fasiliteerder hom/haar deur middel van ‘n ‘fundamentele’ les aan ‘n nuwe aktiwiteit met ‘n moelikheidsgraad wat gepas is vir die stadium van ontwikkeling soos deur die fasiliteerder waargeneem, aan hom/haar blootstel. Hierdie ‘les’ wat nooit langer as 3 to 5 minute sal duur nie bestaan daaruit dat die fasiliteerder die aktiwiteit aan die kind demonstreer en hom/haar dan ‘nooi’ om dit wat sy gedoen het na te doen. Sy/hy kyk dan wat die kind se gesigsuitdrukking en lyftaal suggereer oor sy/haar ‘gereedheid’ vir die taak. Stel die kind belang daarin, hoe voer hy/sy die taak uit? Indien die kind die taak ywerig is om die taak aan te pak los die fasiliteerder hom/haar uit maar hou hom/haar steeds dop om te sien hoe dit gedoen word en hoe lank dit die kind neem om dit te voltooi. Die fasiliteerder dui dan aan dat die kind suksesvol is en volg dan dieselfde prosedure om hom/haar aan ‘n soortgelyke taak met ‘n hoër moeilikheidsgraad voor te stel. Indien die kind nie belang stel, kans sien vir die taak of dit nie kan voltooi nie word hy/sy nie gekritiseer of gedwing om dit te doen nie.  Ook nie as hy/sy dit nie suksesvol voltooi nie. Die probleem, volgens Montessori, lê nie by die kind nie maar by die fasiliteerder wat die kind se gereedheid vir die spesifieke taak verkeerd geskat het. Sy/hy stel bloot aan die kind voor dat hy die materiaal kan wegsit tot ‘n ander dag wanneer hy daarvoor kans sien en herhaal dan die fundamentele les vir ‘n ander, meer toepaslike, taak.

Wat, sou u dalk vra, doen die fasiliteerder dan gedurende die loop van so ‘n ‘skooldag’? Die antwoord: hy/sy sit beslis nie by sy lessenaar nie. Om die waarheid te sê, dit is onmoontlik want Montesori-fasiliteerders het nie lessenaars nie. Hulle werk is om – vanuit ‘n spesifieke hoek/posisie, of terwyl hulle deur die klas beweeg – die kinders objektief dop te hou terwyl hulle hul ‘leerwerk’ doen.

Tydens hierdie ‘waarnemingproses’ fokus die fasiliteerder spesifiek op vier aspekte: (1) taakingesteldheid (d.i. watter leermateriaal die kind kies, hoe hy/sy dit gebruik, hoe dikwels hy/sy dieselfde taak herhaal, hoeveel take hy/sy op ‘n enkele dag aanpak en/of voltooi, en of hy/sy na ‘n onderbreking van dit waarmee hy/sy besig was met dieselfde taak aangaan of iets anders begin doen); (2) die kind se  emosionele en/of fisiese reaksie op die suksevolle of onsuksesvolle voltooiing van leeraktiwiteite en/of die gebruik van leermateriaal; (3) sy/haar omgang/interaksie met ander kinders, bv. of die kind poog om ander leerders te ondersteun of verhinder om ‘n spesifieke taak te verrig en (4) die kind se reaksie wanneer die fasiliteerder hom/haar vir een of ander rede roep, aanspreek of onderbreek.

Die doel van die waarneming is nie om die kind ‘reg te help’, te kritiseer of aan te moedig om ‘harder’ te probeer nie. Die kind se ‘sukkelpoging’ is ‘n belangrike deel van sy/haar ontwikkeling want dit bevorder sy/haar konsentrasievermoë, selfdissipline, en die tipe uithouvermoë wat hy/sy eendag gaan nodig hê om moeilike akademiese of tegniese kennis, beroepsvaardighede en ander uitdagings te bemeester/oorkom. As sy gedrag egter anders kinders se leerproses versteur sal die fasiliteerder intree deur die kind te roep en kalm en rustig aan hom/haar te verduidelik waarom sulke gedrag nie aanvaarbaar is nie.  Die primêre doel van die waarnemingsproses is eerstens om te bepaal hoe die kind uiterlik groei en ontwikkel, en tweedens om te bespeur wat binne in hom/haar aangaan – psigies, emosioneel en kognitief – terwyl hy/sy met ‘n taak/aktwiteit besig is. Sodoende kan die fasiliteerder bepaal hoe elke kind se persoonlikheid, denke, leerstyl, psigiese ingesteldheid, ensovoorts, ontwikkel. Omdat die insig wat hy/sy tydens hierdie waarnemingsproses verkry van kardinale belang is vir moontlike wysigings aan bestaande leermateriaal, die ontwikkeling van nuwe leermateriaal en gereelde gesprekke met ouers oor hulle kinders se vordering, sou die fasiliteerder sy/haar waarnemings skriftelik noteer ten einde dit aan die einde van elke dag te ontleed en in die beplanning van verdere leer en die ontwikkeling van gepaste leermateriaal en aktiwiteite te gebruik.

Indien u van ‘n buitepersoon (afgetrede onderwysers, onderwysers wat hul werk verloor het omdat hulle nie hulself vir Covid wou laat inent nie, of selfs skoolverlaters wat ‘n ‘gap’ jaar vat voor hulle die grootmenswêreld aandurf is almal moontlike kandidate) moet u egter seker maak dat die persoon nie van mening is dat ‘n kind ‘n leë vat is wat wag om met kennis en ervaring gevul te word nie: hy/sy moet die kind beskou as iemand wat sy/haar eie, unieke lewenspotensiaal wil, kan en moet ontwikkel.

‘n Rigiede fasiliteerder, een wat dink dat daar net een of meer ‘regte’ maniere is om te leer en/of kinders te onderrig sal beslis nie deug nie. Adverteer die posisie op Facebook, op u supermark se gemeenskapsbord of, soos die Engelse sou sê, ‘by word of mouth’. Voer dan ‘n in-diepte onderhoud met elke aansoeker om uit te vind hoe hulle self leer, hoe hulle dink ander mense leer, hoe hulle te werk sal gaan om kinders wat nog nooit op skool was te leer nie, ensovoorts. U sou hulle dalk ook aan u kinders wou voorstel en kyk hoe hulle met kinders omgaan voor u besluit. As u gerus voel dat die persoon die regte een is om u kinders in hul leerproses te begelei, praat oor wat u van hulle sal verwag en wat hulle verwag om betaal te word. Weeg dan die kandidate teen mekaar op en kies die een waarmee u die gemaklikste voel.

In die volgende artikel fokus ons op verskillende benaderings tot jonger kinders se taalontwikkeling sowel as op maniere waarop tuisskoolonderrig kinders in ander ouderdomsgroepe se breindominansie en gepaardgaande leerstyle kan identifiseer en gebruik as basis vir die verdere ontwikkeling en of versterking van die kritiese, kreatiewe en laterale denkprosesse wat hulle nodig het om akademies te presteer en die uitdagings, probleme en geleenthede wat oor hul pad kom tot hul en ander se voordeel kan bestuur.

Leave a Reply