Die hofsaak waarin twee mans aangekla word van die aanranding op ’n afgetrede boer van Bela-Bela, Marius Grobler (67), is uitgestel na aanstaande maand.
Marius Grobler (67), gewese boer van die Springbokvlakte, is glo op Saterdag 7 Augustus so erg aangerand dat hy in die hospitaal beland het. Hy herstel tans tuis nadat hy ’n heupvervangingsoperasie ondergaan het.
Grobler was onderweg na sy tuiste op die Thaba Monate-wildreservaat net buite die dorp toe hy na bewering ’n wit Ford Ranger-bakkie se spieëltjie met sy kar geskraap het. Albei bestuurders het van die pad getrek en ’n onderonsie het glo tussen Grobler en die twee mans in die ander voertuig uitgebreek.
Die twee verdagtes het volgens die polisie van die toneel gevlug en is weke later in Boksburg in hegtenis geneem.
Die twee verdagtes het op Dinsdag 7 September hul eerste verskyning in die hof gemaak. Gert Müller (43) en John Robinson (31) word aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die aanklag teen die mans het intussen verander na poging tot moord.
Die hof het reeds aan Müller borgtog van R1 000 toegestaan en Robinson op waarskuwing vrygelaat. Hulle moet weer op Dinsdag 12 Oktober 2021 in die hof wees. Die uitstel kom nadat die beskuldigdes aangedui het dat hulle regshulp wil inwin.
Die hof wag verder op forensiese inligting en die ondersoek duur voort.