Skip to main content

Tekwane-inwoners in Mpumalanga het Sondag gehoor hoe president Cyril Ramaphosa bieg dat die politieke party wat hy lei nie perfek is nie, en dat hy die kiesers se bekommernisse sal probeer adresseer.

‘Jy het die reg om vingers te wys en my as president te kritiseer,’ het Ramaphosa aan die inwoners gesê. ‘Ons aanvaar dit.’

Saterdag het die ANC, onder leiding van Ramaphosa, sy verkiesingsveldtog geloods. Hulle het Soweto-gemeenskappe besoek en het by die Nomzamo informele nedersettings in Chiawelo en Naledi aangedoen. Daar het inwoners gekla oor die gebrek aan elektrisiteit. Ramaphosa en sy party het gemengde reaksies van die gemeenskappe gekry. Sommige het die beloftes verwelkom terwyl ander die party die middelvinger gewys het.

Ramaphosa en sy afvaardiging was egter Sondag hartlik verwelkom by Tekwane.

Nadat inwoners ‘n brug wat ineengestort is en wat herstel moet word, uitgewys het, het Ramaphosa gaan luister na wat sommige inwoners te sê het. ‘n Verkeersopleidingsstudent het gekla dat ‘n leerlingskapprogram gestaak word en Ramaphosa gevra om in te gryp.

‘Wat ek julle kan belowe is dat die aangeleentheid aangespreek sal word met die twee leiers van die party in hierdie gebied asook met die regering, en as dit nie anders kan nie, sal ek persoonlik toesig hou dat dit behoorlik aangespreek moet word, want as ‘n burger en ‘n jong mens het jy het die reg om te eis dat hierdie saak behoorlik aangespreek word,” het hy aan die vrou gesê.

Amanda Koza van TimesLive berig oor die ontvangs van Ramaphosa in Soweto, waar hy sy besoek met ‘n ‘Tsek!’  tegemoet gekom het; dìt vanaf woedende inwoners wat sonder krag sit.

‘n Ander inwoner wat in Tekwane-Suid woon, het aan Ramaphosa gesê dat daar ‘n gevaarlike pad is wat dringend geteer moet word.

Sy het gesê: ‘Mense sterf altyd daar. Ons moet die pad regmaak en daar is baie stof en mense het sinus en ons het borsinfeksies, ons kinders is siek. Kan die raadslede asseblief hierdie pad teer en ‘n dreineringstelsel insit? Ons stem vir jou. Jy moet ons belowe dat jy iets daaraan sal doen.”

Ramaphosa het geantwoord: ‘Ek stem saam met jou, ons moet die paaie teer, en dit is ‘n projek wat ek landwyd wil implementeer.

‘Soms, ja, neem dit tyd, en dit is hoe regerings werk. Hulle beweeg baie stadig, hoewel ons probeer om die pyn te verminder. Maar terselfdertyd is dit ‘n sorgsame regering – een wat omgee op die manier waarop hy probeer het om die vele probleme aan te spreek.”

Op baie plekke, sê Ramaphosa, word mense gearresteer omdat hulle hul leiers gekritiseer het, maar dit was nie die geval in SA nie. ‘Ons laat julle toe om selfs te protesteer en die president te kritiseer.’

Hy het die gemeenskap aangemoedig om in die komende verkiesings te registreer en te stem. ‘Ek is beïndruk met die manier waarop julle jul kommer uitgespreek het. Julle het nie hierheen gekom om iets te breek of te beskadig nie. Wat julle hier gedoen het, is om julle ander reg uit te oefen, naamlik om te kla, te protesteer, en jul plakkate toon julle ontevredenheid en pyn, en ek kan dit ook op julle gesigte sien. Julle klagte is dus geregistreer en daar word aandag daaraan gegee.”

‘Die ANC sal nie in my hande in duie stort nie,’ belowe Ramaphosa

Hy het gesê dat die stemreg ‘n mensereg is wat hulle moet uitoefen. ‘Julle kan natuurlik stem vir wie julle wil, jul kan vir enige party stem. Dit is ook jul basiese mensereg en jul verantwoordelikheid as burger van hierdie land. Ons regering is altyd op soek na, [en wil die] probleme wat ons in ons land het, regstel en aanspreek. Hierdie regering is daartoe verbind om dit te doen en dit is ‘n luisterende regering. ”

Hy het die gemeenskap belowe dat werk aan die herstel van die ineengestorte brug volgende week sal begin. ‘Moenie moed verloor nie, want ons is besig. Ek het hierheen gekom om jul bekommernisse te sien en te hoor. Moet asseblief nie hoop verloor nie. Jou taak is dat jy gaan stem en ons sal ons deel doen,” het hy gesê.

‘n Ander vrou het Ramaphosa huilend genader nadat sy na bewering deur ANC-vrywilligers aangerand is wat probeer het om die skare wat om hom vergader, te beheer. Hy het die provinsiale leiers aangesê om dringend aandag aan die saak te gee.

Hy het ook die gemeenskap geprys omdat hulle maskers gedra het tydens die byeenkoms. ‘Ek wil hê dat julle ingeënt moet word. Elke persoon moet ingeënt word sodat ons ons kan verdedig teen die verspreiding van die virus. Ek is ingeënt, so ook die premier en die provinsiale voorsitter. Ek wil dus hê dat elkeen van ons ingeënt moet word, sodat ons mekaar beskerm.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!