DIRK LOTRIET
Die debat rondom die verpligte vaksinering van werknemers laat my kopkrap.
As ek ‘n werkgewer was, sou ek sekerlik wou hê dat al die werknemers in my maatskappy immuun teen ‘n kwaai virus moes wees. Die voordele is voor die hand liggend – jou personeel gaan nie by die huis bly omdat hulle siek is nie, hulle kan die virus nie by mekaar aansteek nie en jou personeel gaan jou kliënte nie met die virus besmet nie.
Ongelukkig is die regte wêreld nie so eenvoudig nie. Dis maklik om op die fiksie van die gewilde opinie oor Covid-inentings in te koop, maar in die regte wêreld werk goed eenvoudig nie soos in die idilliese denkbeeldige maatskappy hier bo nie. Ons moet ons laat lei deur iets wat wetenskap genoem word, en wetenskap het maar die manier om nie in te koop op drogredenasies nie.
Al het jy Covid-inentings gekry, moet jy steeds maskers dra en sosiale afstand handhaaf, se die wetenskaplikes. Die Covid-inentings, vertel hulle ons, is redelik effektief as dit by die bekamping van die verspreiding van die oorspronklike Alpha-variant van die coronavirus kom. Maar niemand kry meer die Alpha-variant nie. Dis so 2020…
Deesdae is die Delta-variant die algemene ene, en die vaksines help nie eintlik om oordraging daarvan te voorkom nie. ‘n Beduidende studie wat onlangs in Israel oor die effektiwiteit van die Pfizer-entstof se voorkoming van besmetting met die Delta-variant gedoen is, het bevind dat die entstof kort na die toediening van die tweede dosis net 39% effektief is om jou teen besmetting met die Delta-variant te beskerm. Ses maande na die tweede dosis het dit reeds tot 16% effektiwiteit gedaal.
Die Wêreld-Gesondheidsorganisasie beskou meer as 50% beskerming as die minimum om ‘n entstof as effektief te beskou.
Die eienaar van ‘n maatskappy moet dus in ag neem dat werknemers wat die inenting gehad het, volgens wetenskaplike bevindinge nie juis minder geneig is om Delta op te doen as werknemers wat nie ingeënt is nie. Hulle gaan mekaar en jou kliënte en verskaffers aansteek, vaksiene of nie.
Maar, se die wetenskaplikes, as jy ingeënt is, is die waarskynlikheid groot dat jy asimptomatiese Covid gaan kry.
En dit is hier waar die probleem lê. Wil jy eerder hê dat jou Covid-positiewe werknemers in ‘n plas sweet by die huis lê, of wil jy hê hulle moet werk toe kom, salig onbewus dat hulle die virus het en mense links en regs aansteek?
Die regsgeleerdes wat oor die saak gepols is, sê ‘n werkgewer het die reg om sy besigheid te beskerm en dat hierdie reg swaarder weeg as individue se reg om self te besluit of hulle die vaksiene wil neem.
Uit die redenasie hier bo, lyk dit vir my of ingeënte mense ‘n groter gevaar vir ‘n onderneming inhou as nie-ingeënte mense. Wie behoort dan afgedank te word omdat hulle Covid makliker gaan versprei?
Persoonlik dink ek nie iemand behoort gedwing te word om hom met enigiets te laat inspuit nie. En dit is onmenslik om enigiemand af te dank terwyl daar nie naastenby ‘n vaksiene is wat oordraging van die virus verhoed nie.
Maar ek dink dit is hoog tyd dat werknemers ingeënte werknemers weekliks ‘n Covid-toets laat ondergaan. Die wetenskap steun die teorie dat hulle die superdraers is. Dis in ons ekonomie se belang.