Skip to main content

Die ouma van die twee susters wie se ontbinde lyke Dinsdag gevind is nadat hulle twee weke vermis was, beskryf die emosionele toestand van die gesin na die gru-ontdekking as ‘verward en verpletter’.

Die lyke van Kamogelo Raphasha (7) en haar suster, Tshegofatso (5), is omstreeks 18:00 gevind. Hulle is sedert 23 Augustus vermis in die dorp Marobjane in die Senwabarwana-polisiëringsgebied in Limpopo.

Na wat verneem word, is hulle laaste gesien waar hulle saam met ‘n vrou, wat verwant is aan ‘n man met wie hul oumagrootjie ‘n verhouding het, geloop het.

‘n Verbyganger het die lyke in die weidingskamp langs die dorpie GaMashalane gevind. Die lyke, wat langs mekaar in die bos was, was reeds in ‘n toestand van ontbinding.

Die 41-jarige ouma, Regina Raphasha, het aan News24 gesê die 24-jarige ma van die kinders sukkel om die sterftes te hanteer.

Raphasha, wat saam met die kinders se ma in Gauteng woon, het gesê dat die susters by hul oumagrootjie in Limpopo gebly het en dat sy ‘verward’ was toe sy ‘n oproep van haar ontvang dat hulle weggeraak het.

‘Ek het gevra hoe dit gebeur het omdat die kinders amper nêrens heen gaan nie en ook vervoer van en na die skool gebruik.

“Sy [die oumagrootjie] het gesê ‘n vrou wat haar minnaar se dogter is, het kom kuier en saam met die kinders uitgegaan. Die vrou is die volgende dag gevind en toe sy gevra is waar die kinders is, het sy gesê sy nie weet nie.”

Volgens polisiewoordvoerder in Limpopo, brigadier Mojafela Motlapele, word vermoed dat die vrou verstandelik gestrem is.

Hy het gesê dat die vrou by ‘n bushalte gevind is en sy kon nie samehangende antwoorde aan die polisie gee toe sy oor die kinders uitgevra is nie.

Raphasha het gesê sy ken die vrou nie en toe sy na die nuus huis toe gaan om haar oor die vermiste kinders te konfronteer, beland sy in ‘n onderonsie met die vrou se pa.

‘Dit is ‘n vrou wat ek nie ken nie en toe ek haar probeer konfronteer, was haar pa kwaad vir my en het gesê ek moet nie met sy dogter so praat nie’.

Raphasha het gesê dat hulle twee weke lank na die kinders gesoek het totdat hulle die oproep ontvang het wat hul lewens verander het.

“Ons het hulle gesoek en selfs plakkate van vermiste persone oral gehad. Iemand het die kinders gevind en die raadslid gebel. Ons het toe ‘n oproep ontvang en na die toneel gegaan, en ons het gevind dat hulle nie meer met ons is nie,” het sy gesê.

Raphasha het gesê dat sy net ‘bly’ was dat die susters gevind is, maar wou hê die polisie moet die persoon vind wat vir hul dood verantwoordelik was.

‘Ons wil hê die polisie moet voortgaan met hul ondersoeke en uitvind wat werklik met ons kinders gebeur het,’ het sy gesê.

Intussen het die polisie gesê dat hulle moet vasstel of ‘n individu verantwoordelik gehou kan word vir die dood van die kinders.

Leave a Reply