Die Olimpiese gouemedaljewenner Simone Biles het Woensdag in trane uitgebars en getuig dat die “FBI ‘n blinde oog gedraai het” vir die veelvuldige berigte van mishandeling teen Larry Nassar, die voormalige Amerikaanse dokter van die Amerikaanse gimnastiekspan wat agter tralies sit omdat hy glo meer as 200 jong atlete seksueel misbruik het oor ‘n tydperk van byna twee dekades. Biles, saam met top-gimnaste McKayla Maroney, Aly Raisman en Maggie Nichols, het voor die regterlike kommitee van die senaat getuig oor hoe die FBI sy ondersoek na Nassar verkeerd hanteer het, en hul verslae langer as ‘n jaar geïgnoreer het, wat hom in staat gestel het om tientalle atlete te molesteer.
“Ons verdien antwoorde. Nassar is waar hy hoort, maar diegene wat hom in staat gestel het om dit te doen, moet verantwoordelik gehou word,” het Biles gesê.
Die verhoor van die senaat kom twee maande na ‘n verslag van die departement van justisie se kantoor van die inspekteur-generaal, met verdoemende getuienis oor die maniere waarop die FBI nalatig was in die ondersoek na Nassar. Dit het langer as ‘n jaar gesloer en wys hoe federale agente gelieg en getuienis vervals het om hul foute te verbloem.
In haar verklaring het Maroney gesê dat sy die eerste keer met die FBI gepraat het oor haar mishandeling deur Nassar in Julie 2015. “Die FBI het nie my mishandeling aangemeld nie, toe hulle uiteindelik my verslag 17 maande later gedokumenteer het, het hulle heeltemal vals bewerings gemaak oor wat ek gesê het,” het Maroney getuig. “Hulle het gekies om te lieg oor wat ek gesê het en om ‘n reeksmolesteerder te beskerm eerder as om my te beskerm.”
Al vier gimnaste het gesê hulle ken atlete wat in die tydperk van 17 maande deur Nassar gemolesteer is nadat die FBI die eerste keer in kennis gestel is van die aantygings teen hom. Die gimnaste beskryf ook die onprofessionalisme van die FBI-agente wat die Nassar-ondersoek hanteer het.