Die Jomo Kenyatta Internasionale Lughawe, wat so heet sedert 1978, is baie kleiner as wat ek en De-Bra gedink het.
“Mens kan sien ons is niks gewoond nie,” lag sy toe ons staan en giggel vir die klein vervoerband waarop ons bagasie na ‘n lang ruk begin aankom.
“Weet jy waarheen ons moet gaan om ons vlug na Mombasa te haal?” vra ek toe al ons bagasie by ons voete staan. Dit lyk of ons vir weke weggaan.
Habari za jioni mabibi na mabwana kom daar skielik ‘n stem oor ‘n interkomstelsel. En dan volg dit in Engels. Good afternoon ladies and gentlemen. Dieselfde stem vertel ook weer in albei tale dat vlug KQ834 na Mombasa deur hek D1 aan boord moet gaan aangesien die vliegtuig oor 10 minute sou vertrek.
Ek en De-bra hol rond soos hase op Duracel batterye en kom agter dat daar eintlik net een deur by die lughawe is waardeur passasiers nuwe vlugte haal. Die ander deur is vir mense wat arriveer.
“Hel, man, hoekom sê hulle nie net ingang een, twee en drie nie, en uitgang by die blêddie hek waardeur ons nou loop nie,” mor De-Bra terwyl twee sweetstraaltjies aan weerskante van haar slape afloop.
Dit is nogal bedompig hier op die ewenaar.
Daar staan ons twee toe, een moerawiese tas in elke hand, en wag vir iemand om ons te kom help. Daar is net een vliegtuig op die hele gebarste teerblad.
“Dit lyk soos ‘n Fokker,” mompel ek. Nou nie die grootte vliegtuig waarin ek iewers heen sou wou vlieg nie.
“Wie? Die vliegtuig of die ou wat op die trappie vir ons staan en waai?”
De-Bra weet duidelik fo… niks van vliegtuie af nie. “Dis ‘n soort vliegtuig,” help ek haar gou reg. “Lyk my daai ou roep na ons.”
Dit was toe so, en ‘daai ou’ was die vlieënier. Hy kreun toe hy De-Bra se een tas oplig en sy oë peul uit hul kaste soos iemand wat goiter-probleme het. “J-a-m-b-o,” groet hy deur stywe lippe, staar eers na die ander drie tasse en dan hoopvol na ons twee.
“Ag tog, laat ons die ou maar help, anders slaap ons vanaand hier,” fluister ek.
“Hy kan jou nie verstaan nie, so jy kan maar hard praat” lag De-Bra guitig voordat sy sommer self al drie die ander tasse optel.
Die vlieënier wag dat ons twee eerste die vliegtuig betree en pluk dan die vierde tas trappie vir trappie tot in die deur. Hy lyk of hy in kraam is. Sy asemhaling is hortend, sweet blink soos Elvis se kostuumsteentjies oral oor sy gesig, en sy knieë bewe so erg dat hy eers moet gaan sit voordat hy die krag bymekaar kon maak om die vleigtuig se deurtjie toe te klap.
Dis net ons twee in die vliegtuig. Die goitermannetjie het deur ‘n klein deurtjie verdwyn, en die volgende oomblik sien ons hoe een propeller aan die vliegtuigie se linkerkant aan die swaai kom.
“Wat de…help my gou om die tasse tot teen die agterkant te stoot,” beveel De-Bra. “Hier is nie eers bagasierakke in die vliegtuig nie.”
Die tweede propeller roer nog nie, en ons twee loer benoud rond op soek na ‘n nooduitgang indien nodig toe die vliegtuig skielik aan’t beweeg gaan.
“Hy beter daai ander enjin aan die gang kry anders vlieg ons al in die rondte,” sê De-Bra benoud.
“As daai ander enjin nie aan die gang kom nie, sal jy sien hoe vinnig ek deur so ‘n klein ruit bars voordat hierdie gedoente die grond verlaat,” belowe ek halfhartig.
Die vliegtuig stop weer, die klein kajuitdeur vlieg oop, en die vlieënier stamp die uitgang-deur oop.
Ons twee sit soos suurstoftekort-by-geboorte-kinders, ons monde onwillekeurig oop terwyl ons kyk hoe die maer mannetjie op en af spring en die propeller aan die draai probeer kry. Sy hand kom nie eers by nie.
“Wat probeer jy doen?” gil ek by die deur uit.
Die mannetjie beduie dat die olie in die propeller oud is en soms stol dit kliphard. Al wat kort is net ‘n bietjie beweging om dit te laat draai.
Daar staan De-Bra toe onder die propeller, en die goiter-outjie klouter blitsvinnig met sy een wit Bata tekkie in haar gevlegde hande, gee twee woeste stote aan die vaal stuk yster en koes vervaard toe dit skielik begin draai.
“Yes!” lag hy en huppel terug vliegtuig toe. “Come!”
G’n lugwaarding nie, g’n maak vas julle gordels nie. Niks. Net die vliegtuigie wat rukkerig vorentoe beweeg, en toe skielik, so asof die aanloopbaan te kort is, die lug in skiet.
Ek en De-Bra sit albei met verstokte oë in die sitplekke totdat die neus effe sak en ons regop kan kom sonder moeite.
Nou kyk, ek en De-Bra bid nie sommer openlik nie, maar op daai Fokker het ons. Kliphard. Ek weet nie op watter hoogte ons was nie, maar ons glo vas dat dit naby genoeg aan die grond was om te oorleef as die ding sou val.
Die kajuitdeurtjie skuif stil oop, en klein boksie wat deur ‘n donker hand vasgehou word, word in ons rigting gestoot. Binne-in is twee pakkies peanuts, en twee goedkoop houertjies sap. Amper soos Liqui-Fruit, maar meer ‘n onbekende naam, as jy weet wat ek bedoel.
Een uur, vyf minute en twee stywe nekke later begin die Fokker sak.
Die peanuts en sap is steeds onoopgemaak in ons klam hande vasgeklem toe die wiele die grond raak, en die Bata-boet kry nie eers tyd om die kajuit se deur oop te pluk nie, toe is ek en De-Bra al buite op die teerblad, ons bagasie by ons voete.
Hy lyk merkbaar verlig, seker oordat hy nie weer die tas hoef te dra nie.
“That way,” beduie hy en haal ‘n besemstok uit sy kajuit.
Daardie gesig van hoe hy die stok in die propeller – wat eers nie in Nairobi wou draai nie – druk om dit weer tot stilstand te dwing sal vir altyd by ons twee bly.
Nie eers die Toyota Venture wat ons kom oplaai het om ons na Diani Beach toe te vat, kon dit uit ons geheue wis nie. Ons kon dood gewees het!
Ek vertel julle later van die trippie op die veerboot, en die vakansie by die oord wat in die boek lyk of dit uit die paradys kom. In werklikheid … nee, wag, dis ‘n storie vir ‘n ander keer.