Skip to main content

Catherine Versfeld, ‘n digitale ontwerper by Primedia, het onlangs ‘n ander kontaklensoplossing gekoop weens die tekort aan haar gewone handelsmerk.
Sy sê dat sy altyd die AOSept-handelsmerk op die rakke langs ander kontaklensoplossings gesien het, maar altyd lojaal was aan ‘n spesifieke handelsmerk en dit nog nooit gebruik het nie.
“Ek het my kontaklense uit die bakkie gehaal, en ek het dit begin skoonmaak om dit in my oog te sit. Toe ek dit in my oog sit, het ek gedink ek gaan blind word. My oog het so erg gebrand, ek het na die badkamer gehaas en my oë begin spoel,” het sy vertel.
Sy het vinnig na haar oogkundige toe gehaas, haar oog was nog rooi en het steeds gebrand. Sy sê haar oog het herstel, maar sy kon nie haar kontaklense vir ‘n week gebruik nie.
Tabitha Munsami, ‘n oogkundige by Specsavers, sê daar is baie probleme hieromtrent aangemeld. “Met hierdie tekort wend baie mense hulle na alternatiewe oplossings, dikwels net wat op die rak oorbly,” sê Munsami. Sy het gesê dat daar nie baie waarskuwingstekens op die bottels is nie en dat mense nie die instruksies deeglik lees nie.
“AOSept is ‘n peroksiedoplossing, en jy moet jou lense in ‘n spesifieke bakkie sit, en jy moet dit minstens 6 uur lank oornag laat sit – en dit neutraliseer dan. Jy kan dit dus nie in jou normale bakkie vir kontaklense plaas nie,” het sy verduidelik.
Munsami sê kry eerder advies van jou oogkundige oor watter produkte jy moet gebruik.

Leave a Reply

error: Content is protected !!