Soos in die vorige artikel aangedui is die fokus van hierdie opvolgartikel op die ontwikkeling van die kognitiewe vaardighede wat u kinders nodig het vir die effektiewe verwerwing van kennis, beroeps- en lewensvaardighede. Die term, ‘kognitiewe ontwikkeling’, is ‘n wetenskaplike term, een wat deur sielkundiges gebruik word wanneer hulle na die ontwikkeling van mense se denkvaardighede verwys. Alhoewel daar nie universele eenstemmigheid is oor hierdie proses nie, is daar tog aspekte daarvan waaroor meeste wetenskaplikes saamstem. Vir die doel van hierdie artikel kyk ons vlugtig na een van hierdie teorieë, die van Jean Piaget, nie omdat dit noodwendig beter of meer geloofwaardig is as ander teorieë oor hierdie aangeleentheid nie maar omdat een van die bekendste voorstanders van tuisskoolonderig, Maria Montessori, se benadering tot die ontwikkeling van kinders se denkvaardighede hoofsaaklik aan Piaget se teorie ontleen is.
Volgens Piaget, ‘n Fransman wie se nuuskierigheid oor die ontwikkeling van kinders se denk- en taalvaardighede geprikkel is deur die manier waarop sy eie kind gedink en leer praat het, vind die ontwikkeling van menslike denke in drie fases plaas. In die eerste fase is die mens se denke bloot reaktief van aard, ‘n respons op dit wat hulle sintuiglik ervaar. Hulle gebruik dan wat hulle sintuiglik ervaar as verwysingsraamwerk vir verdere leer. Dit doen hulle deur dit wat hulle sintuiglik ervaar te vergelyk en van mekaar te onderskei. Sodoende leer hulle eerstens om in hul omgewing te oorleef en tweedens om dit op so ‘n manier te doen dat hulle kognitief, moreel en sosiaal kan groei/ontwikkel. Kortliks gestel, volgens Piaget, is dit dus aanvanklik deur hul sintuiglike ervarings dat mense sin maak van die omgewing waarin hulle leef en dat hierdie sintuiglike ervarings dan dien as verwysingsraamwerke vir verdere leerprosesses.
Tydens die tweede fase begin hulle name aan dinge gee. Of hierdie benamings korrek is of nie maak nie saak nie: wat belangrik is, is dat hulle ooreenkomste tussen dinge raaksien en op grond daarvan die ding/e met mekaar vergelyk of ‘n naam gee. Sy eie kind het byvoorbeeld alle viervoetige diere aanvanklik ‘hond’ genoem omdat die enigste viervoetige dier in haar omgewing ‘n hond was. Dit was nie net die begin van haar taalontwikkeling nie maar ook van die ontwikkeling van haar denkprosesse: die aantal voete wat ‘n dier gehad het was die kriterium wat sy as basis gebruik het vir die benaming van die diere wat sy gesien het.
Tydens die derde fase begin hulle sintuiglik bewus raak van verskille tussen dinge – kleur, grootte, geluide ensovoorts. Op grond daarvan begin hulle vir hierdie dinge verskillende name gee – nie net van die ontwikkeling van hulle kognitiewe denkvermoë nie maar ook van hulle vermoë om taal te gebruik om hul bewussyn van hierdie verskille uit te druk. Hierdie gesamentlike ontwikkelingsproses – kognitief en linguïsties – hou nooit op nie. Dit kan en moet egter voortdurent uitgebrei en versterk word d.m.v. dinamiese, wederkerige en inter-aktiewe prosesse. Met ander woorde, ‘n kind wat op sy/haar eie grootword, sonder die nodige stimulasie en interaksie met voorwerpe en mense sal heel moontlik uiteindelik kognitief sowel as taalgestremd wees. By implikasie sal sulke kinders sukkel om die akademiese en ander kennis en vaardighede wat hulle moet bemeester ten einde effektief in die volwasse wêreld te funksioneer.
Alle kinders, ongeag hulle ouderdom, kan en moet dus steeds sintuiglik gestimuleer word teneinde hulle kognitiewe denkprosesse te verbreed en te verfyn. Nadat hulle die basiese denkprosesse bemeester het wat Piaget beskryf het, moet hulle nog leer om tussen kreatiewe, kritiese en laterale denke te onderskei en moet hulle in staat wees om die toepaslike denkproses te gebruik in die identifisering, ontleding en oplossing van probleme. ‘n Indringende bespreking van die teorieë oor elkeen van hierdie tipes denke sal hopeloos te veel van ons tyd in beslag neem. Al wat u nou daaroor hoef te weet is dat kritiese (linkerbrein) denke gewoonlike gebruik word om probleme te identifiseer en ontleed, kreatiewe (regterbrein) denke verskillende oplossings vir probeme te vind, en laterale (heelbrein) denke om die gepaste oplossing vir elke probleem te identifiseer en toe te pas of gebruik.
U vra uself dalk nou af wat al hierdie teorietiese inligting met tuisskoolonderrig te make het. Die maklikste manier om dit te doen is om te kyk na manier waarop leidende figure in die veld van tuisonderrig hierdie tipe inligting gebruik in die skep van onderrigleerruimtes, die keuse van leermateriaal en die gebruik van spesifieke onderrigleermetodes en/of aktiwiteite. Een so ‘n persoon was Maria Montessori, n baanbreker op die gebied van tuisonderrig. Wat hierna volg is ‘n kort opsomming van die kern elemente van haar tuisonderrigmodel, een wat in die 1890s reeds ontwikkel is en steeds dwarsoor die wêreld gebruik word.
Soos Piaget het Montessori geglo dat die omgewing waarin kinders leer die regte wêreld moet reflekteer. Met ander woorde, dit moet kinders van alle ouderdomme in dieselfde klaskamer akkommodeer, hulle sintuiglik motiveer om te leer, asook hulle in staat stel om hul sintuiglike ervarings te gebruik as basis vir verdere leer (kognitiewe en taalontwikkeling). In so ‘n klaskamer kies kinders nie alleen hulle eie leerdoelwitte, nie maar bepaal hulle ook die pas waarvolgens hulle wil leer sowel as die metodes en beskikbare leermateriaal wat hulle vir die doel wil gebruik. Die rol van die persoon wat vir ontwikkeling verantwoordelik is, is om seker te maak dat die omgewing waarin die kinders leer hulle in staat sal stel om hierdie dinge te doen. So ‘n omgewing is een waarin kinders van verskillende ouderdomme deur middel van die sintuiglike leermateriaal hul eie leerdoelwitte kan bepaal, self kan besluit watter van die beskikbare leermateriaal hulle daarvoor wil gebruik, hoe hulle dit wil gebruik en hoeveel tyd hulle telkens daaraan wil spandeer. Soos in die regte wéreld moet so ‘n omgewing byvoorbeeld kleurvol en sintuiglik stimulerend wees. Wit mure sonder prente, plakkate en/of ander voorwerpe sal dus nie werk nie. Selfs ‘n helderkleurige sagte mat en kussings wat na willekeur rondgeskuif kan word, sou hulle visueel sowel as fisiek/lyflik – sag, hard, donsig, grof, ensovoorts – kon stimuleer.
Die verskille tussen kinders moet in ag geneem word in die skep van so ‘n omgewing. Kinders wat byvoorbeeld geneig is om hiperaktief of senuweeagtig te wees sal byvoorbeeld beter leer in ‘n ruimte wat in ‘n ligte, kalmerende kleur geverf is terwyl diegene wat sukkel om wakker te bly dalk ‘n helderder kleur nodig het. Party van hulle sal dalk hul boeke in alfabetiese volgorde, in terme van grootte, kleur of vakgebied wil rangskik, ander gee nie om nie solank hulle weet waar dit is. Party mag daarvan hou om by ‘n lessenaar te sit en leer, ander mag dalk in ‘n gemaklike leunstoel wil sit-lê terwyl hulle leer. Party moet knibbel terwyl hulle leer, ander nie; party leer beter met musiek in die agtergrond, ander vind dit steurend. Om hulleself oor hierdie dinge te laat besluit dra nie net by tot die ontwikkeling van hul kritiese/logiese en kreatiewe/emosionele denkprosesse nie maar dra ook by tot die ontwikkeling van die vermoë om te beplan, besluite te neem en, omdat hulle met die gevolge van hul besluite sal moet saamleef, hul self-dissipline.
Dit is ook die verantwoordelikheid van die persoon wat verantwoordelikheid vir kinders se leer aanvaar om die gepaste leermateriaal te ontwikkel, dit so te rangskik dat dit kinders se belangstelling prikkel en hulle dus lus maak om dit te gebruik. Hy/sy al aan die begin van ‘n ‘les’ aan die kinders verduidelik watter leermateriaal vir watter doeleindes gebruik kan word en hoe hulle dit vir daardie doel kan aanwend. Daarna is die kinders in beheer van hul eie leerprosese: die fasiliteerder hou net ‘n wakende oog oor wat gebeur. Sy/hy meng nie in met die proses self nie tensy ‘n kind spesifiek om hulp vra en selfs dan verduidelik sy slegs hoe die kind die probleem anders sou kon benader; sy/hy los dit nie vir die kind op nie. Die tipe leermateriaal en metodes wat Montessori aanbeveel om kinders in staat te stel om self verantwoordelikheid vir hulle leerproses te aanvaar, die doel waarvoor en die manier waarop kinders dit kan gebruik, asook wat die fasiliteerder kan doen om te verseker dat elke kind sy potensiaal sal bereik is ‘n onderwerp vir die volgende artikel. Tot dan, lekker werk aan die skep van ‘n sintuiglik ryk maar geordende leeromgewing waarin u kinders sal floreer.