Skip to main content

ISAAC CLOETE

“Ons slaan ons oë op na die berge: waar sal ons hulp vandaan kom?” So bid ‘n familie nou terwyl hul geliefde hulpeloos in pyn lê en kreun na ‘n ongeluk.

Boonop is personeel by die Matjieskloof-kliniek buitekant Springbok glo traag om aan Neil Cockrill (49) pynpille en medikasie te voorsien.

Volgens sy oom, Raphael Cockrill, was Neil, reeds op Maandag, 15 Augustus, deur ‘n motor raakgery. Hy was net een aand in die Springbok-hospitaal, waar hulle vasgestel het dat sy voet op drie plekke gebreek is.

Hierna was hy ontslaan en meegedeel om eers te wag tot 13 Oktober. Dan sal hy deur ‘n spesialis in Upington (400km ver) geopereer word.

Raphael sê: “Ek en my vrou, Evelyn, het intussen probeer om vroeër ‘n datum vir hom te kry by die spesialis. Ons het toe ‘n afspraak by die spesialis vir 8 September gekry. Die klinieksuster het egter vergeet om ‘n booking by die ambulans te maak.”

Dieselfde suster (aan Die Waarheid bekend) by die Matjieskloof-kliniek het blykbaar ‘n tweede keer vergeet om by die ambulans ‘n booking vir Neil te maak.

Ook het ‘n dokter (aan Die Waarheid bekend) by die Springbok-hospitaal aanvanklik vergeet om ‘n datum op sy verwysingsbrief te plaas. Dit word benodig vir ‘n geleentheid met die ambulans.

Toe die joernalis by Neil se plek opdaag, waar hy alleen woon, was ‘n treurige en armoedige toneel sy voorland.

Neil het op ‘n koue sementvloer onder twee komberse gelê. Die woning is sonder elektrisiteit en ander noodsaaklike geriewe. Sy gebreekte voet lyk soos ‘n gedraaide stuk vleis wat net met ‘n wit verband verbind is.

Neil het kreunend gesê: “Ek was besig om tussen geparkeerde karre te loop in die hoofstraat. Hierna het een van die karre eers oor my been gery. Toe die driver dit opmerk, het hy reverse en weer oor my been gery.”

Volgens Neil wou die driver weer vorentoe ry om blykbaar weg te jaag. Gelukkig het iemand dit gesien en hom gestop, anders sou hy vir die derde keer oor sy been gery het.

Hy het vertel dat sy voet na alle kante kan draai, want dit is basies deur die kar se wiel afgery. Hy verduur baie pyn en kan nie beweeg nie. Ook mag hy nie eens op ‘n rystoel gehelp word nie, behalwe deur hospitaalpersoneel.

Intussen is Raphael en sy vrou, Evelyn, rasend omdat Neil nie by die spesialis kan uitkom nie. Ook het die kliniek ook nog nie weer van hulle laat hoor nie.

Ten spyte van vele oproepe het niemand die foon by die Matjieskloof-kliniek geantwoord nie. Die Springbok-hospitaal het op vrae teen druktyd ook geen kommentaar gelewer nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!