Is mos Oos deur Jaco Alant
’n Afgelegde professor in Durban, KwaZulu-Natal, dink terug en probeer sin maak van sy verlede. Hy leef met ’n vrou in sy herinnering – Mied. Deur die oënskynlike diefstal van sy geel Volkswagen Kewer met sy hond Os-Moses agterin, ontmoet hy ’n Afrikaanssprekende Zoeloe-meisie, Mandie.
Hy word Mandie, haar Ma Nxasana en ’n gestremde kind na wie Ma Nxasana omsien, Gumanam, se vertroueling. Intussen word hy lastig geval deur oproepe van ene John wat ’n MA wil doen oor eko-literatuur en mineurskrywers.
Is mos Oos is ’n surrealistiese, byna absurde roman, ’n verhaal van verandering wat ontvou in die spel van name en die vervloeiing van uiterstes: hede/verlede, man/vrou, leuen/waarheid, lewe/dood.
Jaco Alant is sedert 2008 medeprofessor in Frans aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy was tussen 2013 en 2016 redakteur van die vaktydskrif French Studies in Southern Africa en is ’n voormalige president van die Vereniging van Franse Studies in Suid-Afrika (AFSSA).
Sy gepubliseerde akademiese artikels is meestal op die gebied van (Franse) literêre teorie en hy is die skrywer van ’n boek oor Afrikaans wat in Frankryk gepubliseer is. Hy het ook al enkele meningstukke oor Afrikaans tot LitNet bygedra. Hy woon in Durban saam met sy vrou, Busisiwe, en sy dogter, Nomonde.