Dis goed en wel dat daar effe verligting is in die inperkings wat die volk soos skape in ‘n drukgang beheer, maar wanneer kom alles nou op ‘n end?
Vlak twee, wat van toepassing is vanaf 13 September, laat die mense sug van verligting, maar besef hulle dat ons nog steeds nie vry genoeg is nie? Vir hoe lank nog gaan ons toelaat dat ons soos graad een kinders moet doen wat die ‘hoof’ sê?
Selfs John Steenhuisen, DA-leier, het gesê hoewel die verligting van die beperkings verwelkom is, ‘sou die enigste moontlike rede vir verdere beperkings wees om almal ouer as 18 jaar die kans te gee om ingeënt te word’.
Wat baat ‘n aandklokreël vanaf 23:00 tot om 04:00? Wie baat daarby?
Waar is die ‘ubuntu’ waarmee feitlik almal in die land groot geword het?
En presies wat is die doel met die dae en tye waarop alkoholverkope ‘wettig’ is? Mense mag nou Maandag tot Vrydag tussen 10:00 en 18:00 alkohol koop. Voorheen was die verkoop van alkohol vir tuisgebruik beperk van Maandag tot Donderdag. Al verskil wat die dae en tye maak is dat mense net bloot genoeg alkohol koop om hulle deur die naweek te sien. Dié wat wil baklei, mekaar met messe steek, of dronk bestuur, kan dit steeds doen nadat hulle hierdie ekstra voorraad opgedrink het. Nie waar nie? Hoe help dit dan beddens oophou in hospitale vir wanneer mense met Covid opgeneem moet word?
Byeenkomste is nou beperk tot ‘n maksimum van 250 mense binnenshuis waar dit voorheen 50 was en buitelugbyeenkomste sal tot 500 beperk word, teenoor 100 in die vorige inperking. Het Cyril vergeet dat maskers veronderstel is om te help keer dat die virus versprei, so hoekom kan die stadions nie halfvol gepak word as almal soos skape maskers dra nie?
Begrafnisse bly beperk tot hoogstens 50 mense, en soos voorheen word nagwake en na-begrafnisbyeenkomste nie toegelaat nie.
Dink Ramaphosa dat enige inperkings wat nog steeds toegepas word, meer mense gaan oorreed om ingeënt te word? Die wat reeds hul spuite gehad het, het dit vrywillig gedoen. Die wat nie ingeënt wil word nie, gaan nie sommer van plan verander nie. Ek sluit myself hierby in.
Die inentingsouderdomme word al hoe laer ingestel. Hoekom sien niemand enige hooggeplaastes se kinders of kleinkinders wat ingeënt word nie? Kom, Cyril, wys bietjie daarvan…
Suid-Afrikaners moet binnekort bewys lewer van inenting teen Covid-19 om toegang tot openbare ruimtes te verkry.
Volgens Ramaphosa tree die entstofpaspoort binnekort in werking.
Hy het gesê dat die departement van gesondheid na maniere kyk om die paspoort in te voer en gesê dat hy meer besonderhede hieroor sal gee wanneer hy die maatreëls hersien.
‘Ons sal ook verdere inligting verskaf oor ‘n benadering vir entstofpaspoorte, wat as bewys van inenting vir verskillende doeleindes en gebeurtenisse gebruik kan word, sodat mense kan aantoon dat hulle ingeënt is. Die departement van gesondheid kyk na ‘n verskeidenheid meganismes in ander lande om dit elektronies deur middel van selfone of ander demonstrasies te doen,” het Ramaphosa gesê.
Oor inentings, het Ramaphosa gesê: tot dusver is meer as 7-miljoen mense volledig ingeënt, met ten minste 14,6-miljoen dosisse entstowwe toegedien.
Daar is oorweldigende bewyse dat die entstowwe veilig is, en dit is aan Suid-Afrikaners om hierdie boodskap aan hul vriende en familie te versprei, het die president gesê.
Waar is die bewyse?
‘Hoe gouer ons almal ingeënt word, hoe gouer kan ons sportplekke vir toeskouers oopmaak, hoe gouer ons almal ingeënt word, hoe gouer kan ons toeriste in ons pragtige land verwelkom. As ons almal ingeënt is, kan ons gouer by ons vriende en familie kuier, hoe gouer kan ons terugkeer na kantore en ander werkplekke. Hoe gouer ons ingeënt word, hoe gouer sal ons ons ekonomie weer in volle werking kan kry en werk kan skep wat ons land nodig het. Dit is belangrik dat ons, wanneer ons ingeënt word, alle ander kritieke gesondheidsintervensies kan herstel en die druk op ons gesondheidsorgwerkers kan verlig.
“Dit is elkeen se taak om ons familielede, vriende en medewerkers te oortuig dat inenting veilig is en dat dit hul lewens kan red,” het Ramaphosa gesê.
Ons as Suid-Afrikaners het reeds vir hoe lank buitengewone opofferings gemaak om te voldoen aan die gedwonge beperkings en regulasies wat selde verduidelik of geregverdig word.
Volgens Ramaphosa sal alles terugkeer na normaal sodra almal ingeënt is. Is dit nie oneties om so iets op mense te forseer nie?
Geforseerde COVID-19-entstowwe onder ‘n EUA (Emergency Use Authorization) is wetlik en eties problematies.
Is dit eties as weieraars van Covid-entstof in hospitale en dokterskantore weggewys word?
Is dit eties as weieraars van Covid-entstof dit doen op grond van allergieë, of folisofiese en geloofsoortuigings?
En Cyril, is ‘n wortel nie meer effektief as ‘n stok nie?