Skip to main content

‘n Woedende ma van Randburg staar klagtes van haatspraak by die menseregtekommissie in die gesig nadat sy ‘n vyftienjarige leerling aan ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes Vrydag “nie ‘n mens nie, maar ‘n dier” genoem het.
Die seun het haar seun betrap waar hy ‘n meisie in die skool seksueel molesteer en die klein sekspes op die grond neergegooi en ‘n paar vuishoue op hom laat neerreën.
Die ma het die polisie na die skool ontbied omdat sy moeg daarvoor is dat ander kinders haar telg as “vet en dom” etiketteer. Volgens die twee seuns se klasonderwyseres het hulle al geruime tyd probleme met die voortdurende aggressie en uitlokking waarmee die getimmerde seun homself vermaak.
“Julle weet nie met wie julle te doen het nie. Ek sal hierdie saak na die media toe vat,” het die lywige ma gesê, in daardie stadium nog salig onbewus van haar kind se skaduloopbaan as seksuele aasdier. Haar identiteit is aan Die Waarheid bekend.
“Dit is die eerste keer in tien jaar dat so-iets by die skool gebeur,” het die hoof, wat die onderonsie opgebreek het, gesê.
Dit was byna die tweede keer. ‘n Ander klasmaat het die klein dikgat-pes ‘n week of twee gelede gedreig om na skool met hom af te reken toe die sekspes weer met sy uittarting vorendag gekom het. Toe die huistoegaan-klok lui, het die korpulente klein papbroek egter haastig na sy ma se luukse Mercedes-Benz toe gewaggel.
By die Honeydew Polisiestasie, waar die ridder op die wit perd se ma aangesê is om hom Maandagoggend by die Randburgse kinderhof aan te meld vir ‘n onderhoud met ‘n maatskaplike werker, het die ronde seun agter sy mammie weggekruip en vir die ridder se ma gesigte getrek terwyl die ma probeer het om skelm ‘n video te neem van die outjie wat haar seun getimmer het.
‘n Polisiebeampte het haar egter op heterdaad betrap en uitgetrap voordat hy haar beveel het om die video van haar foon af te vee, anders sal hy haar moet arresteer.
Die seun wat vir die meisie se eer in die bres getree het se stiefpa het gesê dat hy trots is op die seun se beginselvastheid, maar gee toe dat hy dit dalk beter kon hanteer het. “Maar dis maklik om agterna te praat. In die hitte van die oomblik dink mens nie altyd nugter nie, veral nie met so ‘n skobbejak wat hom reeds oor ‘n lang tyd ongewild gemaak het nie.”
• Die identiteit van die kinders, skool en leerkragte, sowel as die van die ouers is aan Die Waarheid bekend, maar word weerhou omdat minderjariges betrokke is.

Leave a Reply