Skip to main content

So sit ek en De-Bra op ‘n dag – voor die virus tyd – styf langs mekaar in ‘n KLM vliegtuig op pad na Nairobi lughawe. Sy het ‘n vakansie vir twee met ‘n dames-armdruk-kompetisie by ‘n kroeg langs Wild Waters gewen en omdat ons jare al vriendinne is, word ek natuurlik saamgenooi.

Die sitplekke is nou en ons voel soos beeste in ‘n drukgang. Al verskil is dat ons nie gedip gaan word nie.

“Moet die vrou langs my so wyd wees?” mor De-Bra met ‘n sug. “Haar bo-arm plak aan my skouer vas.”

“Hei, netnou hoor sy jou,” fluister ek groot-oog.

“Nee wat, sy praat ‘n ander taal as ons land se mense. Sy moet van die noorde af kom.”

Ek is nogal beïndruk dat De-Bra weet van ons land se mense se taal.

Die lugwaardin kyk simpatiek na De-Bra wat letterlik soos ‘n sardien tussen my en die ‘vrou van die noorde’ sit en offer verskeie versnaperinge as troosprys.

Arme De-Bra se twee hande is oorkruis op haar knieë net sodat sy in die sitplek kan pas. Sy beduie dat ek ons albei se neute en sap moet aanvat want sy kan nie beweeg nie.

“As ek diep-aar-trombose kry, dagvaar die bliksems,” fluister sy twee ure later.

My neute is lankal op en ek eye De-Bra s’n.

“As jy daaraan vat…” dreig sy nors.

Ek vat toe maar nie daaraan nie.

Die vrou van die noorde se liggaam werk klaarblyklik nie so lekker teen 35 000 voet van die aarde af nie. Sy blaas letterlik elke paar sekondes af. Dis nie klank-hard nie. Dit klink net asof haar boude hardop sug.

De-Bra, wat al vir ‘n ruk lank toe-oog probeer het om die tyd om te wens, se oë vlieg oop.

Dis die eerste keer wat ek haar sonder woorde sien. Haar mond gaap oop en toe soos ‘n elektriese garagedeur met ‘n kortsluiting.

Die een ‘pfuiiiit’ klank moes vlak by rooi uie verbygetrek het in die bakleiery om te ontsnap, want De-Bra se mooi blou oë swem nou in trane. Haar rooi gesig word stadigaan pers, en ek besef dat sy haar asem ophou. Dit sal nie deug as sy nou dooi nie. Ek sien nie kans om die vreemde alleen aan te pak nie, en al genade is dus om haar hard met my elmboog in die sy te pomp.

Nou kyk, ek het ‘n sterk maag, maar toe daai uieklank my tref, het ek byna hardop begin bid om die aandag van die borrels wat nou na my keel se kant toe stoot onder beheer te bring. En ek is glad nie ‘n kerkmens nie.

De-Bra vroetel hier bo ons koppe en ek besef dankbaar dat sy probeer om die suurstofmaskers beet te kry.

Die een lugwaardin sien die twee hande wat hortend gryp na elke liewe knoppie in die dakrak se bodem, en sy drafstap nader net om twee sitplekke voor ons so skerp te briek dat haar lugwaardin-skoen se hakkie morsaf breek.

“Nein, nein,” prewel sy. “Come wis me,” praat sy Engels met ‘n swaar Duitse aksent en leun oor die vrou van die noorde sonder om in te asem voordat sy De-Bra uit die sitplek help. “You too,” skreeu sy van ver af vir my.

Ek probeer oor die uitgerysde vrou klim sonder om haar verder te laat afblaas en hang soos ‘n vink vorentoe voordat ‘n man in die oorkantste ry sitplekke opvlieg en my help. Ek kon nie later onthou of ek dankie gesê het deur die uienewels nie.

Nietemin, die lugwaardin was besig om De-Bra se gesig met ‘n klam lappie af te vee in die deel tussen ons sitplekke en eersteklas toe ek deur die ligblou gordyntjie bars.

“Daar is nie ‘n manier wat ek vir nog twee ure langs daardie uiebom gaan sit nie,” sê sy met geklemde kake. “Ek sal uitpass!”

“A bomb?” vra die lugwaardin in ‘n skril stem. “We haf a bomb on ze airplane?”

“Ag jimmel,” klap De-Bra haarself teen die voorkop toe die maer meisie wegtrippel. “Ek sien sy het darem ‘n ander paar skoene gekry,” laat De-Bra droogweg hoor.

Skaars ‘n minuut later staan ‘n blok van ‘n man voor ons. Dolf Lundgren se moer. Die ou se arms lyk asof hulle laerskool-kinderkoppe ingesluk het.

“Did you say that we have a bomb on board?” vra hy met ‘n ysblokstem terwyl daar ‘n spier langs sy kakebeen peristaltiese bewegings uitvoer soos wat hy sy emosies probeer beheer.

De-Bra bars uit van die lag en beduie in my rigting. “Sê … jy … hom.”

Nou ja toe, nadat ek die situasie verduidelik het sonder om enige emosie te wys, las ek toe sommer by dat ek ‘n joernalis is, en ‘n berig oor hierdie ervaring gaan skryf vir die reuse koerant waarvoor ek werk. Net daarna word ek en De-Bra aan ons elmboë deur nog ‘n gordyn gedruk.

“Ladies,” glimlag hy soos net ‘n opgepompte Duitser kan, styf en dreigend: “you two will be welcome to remain in Business Class for the remainder of the flight. No?” vra hy, maar mens kon aan sy gesig sien dat hy nie wou hê ons moet die weelde weier nie.

En ons het ook nie. Ons was natuurlik te bang om die kaptein in die gesig te vat. Ons almal weet moes wat die Duitsers deur die geskiedenis aangevang het….

Vier ure en vyf minute later stryk die beestrok neer. Ek en De-Bra was nogal spyt dat die vlug verby was.

Min het ons geweet wat nog vir ons voorlê.

Maar wag, ek vertel later meer. Vir nou gaan ek eers op die stoep kuier met ‘n lekker glas rooiwyn…

Leave a Reply