Skip to main content

Die Wêreld-gesondheidsorganisasie (WGO) was verlede jaar op die randjie van ineenstorting toe die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, aangekondig het dat hy die VSA se finansiering aan die WGO gaan staak op grond daarvan dat dit China gehelp het om die omvang van die koronaviruspandemie te verdoesel en hopeloos te gereed was om die Chinese reaksie op die pandemie om politieke redes te prys.

Amerika, met sy bydrae van sowat 12% tot die totaal van $2,3 miljard wat dit in 2018 ontvang het, is die grootste bydraer tot die WGO en Trump se besluit om die geldkraantjie toe te draai het die voortbestaan van die internasionale gesondheidsliggaam in die gedrang gebring.

Miskien sou dit dalk die beste vir die wêreldbevolking gewees het. Trump het in sy vier jaar baie kritiek verduur. Baie daarvan was gegrond, maar dit lyk verbasend baie of sy kritiek teenoor die WGO nie misplaas was nie.

Die WGO was vroeg verlede jaar vol lof vir die Chinese hantering van die pandemie, ondanks China se aanvanklike ontkenning en toesmeerdery. Nadat China moontlik honderde gevalle na die res van die wêreld uitgevoer het en ‘n kritieke rol gespeel het in die vertraging van die wêreldwye reaksie, het die WGO g’n skewe word oor Beijing te sê gehad nie. Dieselfde WGO wat beide finansiering van China ontvang en op baie vlakke van die kommunistiese regime afhanklik is.

Sy internasionale kundiges het nie toegang tot die land gekry nie, totdat die direkteur-generaal Tedros Adhanom president Xi Jinping einde Januarie besoek het. Voor die tyd het die WGO die inligting van die Chinese owerhede onkrities herhaal en eers op 11 Maart verklaar dat die koronavirus ‘n pandemie is – al het dit weke tevore wêreldwyd versprei.

Ander Westerse leiers het ook reeds hulle frustrasie uitgespreek met die persepsie dat die Chinese Kommunistiese Party die WGO in hulle sak het, maar nadat ou vaak Joe Biden Amerika vanjaar weer onvoorwaardelik by die korrupte organisasie aangesluit het, is dit neusie verby met die vooruitsig dat die internasionale gesondheidsliggaam gedwing gaan word om ‘n broodnodige gedaanteverwisseling te ondergaan.

Sedert Biden se ommekeer, het die organisasie regimes soos Sirië en Wit-Rusland by sy uitvoerende raad gevoeg. Biden se administrasie het niks gedoen om dit te stop nie, behalwe om sy kommer’ uit te spreek.

Biden kan niks doen om te keer dat die WGO diktators bevorder of Chinese propaganda versprei nie – hy het reeds gewys dat hy Amerikaanse belastingbetalersgeld aan die WGO sal betaal, ongeag wat hulle aanvang.

Daar is geen gevaar dat hy van die tafel af wegstap nie. Hy het geen vermoë om die WGO-beleid of -prosedures te beïnvloed of om WGO-amptenare aanspreeklik te hou vir hul mislukkings tydens die pandemie nie.

Toe die Covid-19-pandemie in Desember 2019 uitgebreek het, het die regering van Taiwan, ontsteld oor die verwikkelinge in Wuhan, die Chinese stad waar die virus die eerste keer verskyn het, sy kommer teenoor die WGO uitgespreek oor die potensiaal vir mens-tot-mens-oordrag. Maar Taiwan het geen antwoord gekry nie.

In plaas daarvan het die WGO se direkteur-generaal, Tedros Ghebreyesus (wat danksy Chinese hulp tot die pos verkies is), agt dae en 8 000 gevalle nadat China ‘n noodgeval verklaar het, die amptelike Chinese kommunistiese retoriek steeds nagepraat: die koronavirus is nie oordraagbaar tussen mense nie, en dit is nie ‘n ‘openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale belang’ nie.

Dis verstommend dat die WGO Taiwan se poging tot ‘n bydrae klakkeloos kon ignoreer. Taiwan het die tweede beste gesondheidsorgstelsel ter wêreld (naas Suid-Korea), volgens die 2021-uitgawe van die tydskrif Health Care Index. Die verpligte gesondheidsversekeringsstelsel van Taiwan en die nuwe elektroniese stelsel vir gesondheidsrekords is ontsagwekkend.

Tog sit ons nietemin met die absurditeit dat een van die rykste, mees tegnologies gevorderde lande ter wêreld en een van die suksesvolste demokrasieë in Asië geen bydrae tot die internasionale stryd teen die Covid-pandemie kan lewer nie, want China erken hom nie as ‘n onafhanklike land nie.

Volgens China is Taiwan bloot ‘n provinsie van China en dis eintlik Beijing wat vir gesondheidsorg in Taiwan verantwoordelik is, en die WGO volg hierdie imperialistiese beleid slaafs na.

Omdat China Taiwan nie as land erken nie, mag Taiwan nie lid wees van die WGO nie.

‘n Jaar na die uitbreek van die pandemie, het Taiwan slegs 1 100 gevalle en twaalf sterftes gehad – sonder enige hulp van China of die WGO. Die totale besmettingsyfer van die land, wat sowat die helfte soveel mense soos Suid-Afrika het – staan op sowat 15 000 met 837 sterftes. Die afgelope maand is daar net agt mense aan Covid dood.

Maar in plaas daarvan om ag te slaan op Taiwan se waarskuwings, het die WGO China se ontkenning van mens-tot-mens-oordrag onderskryf tot 21 Januarie.

Terwyl dit lyk asof die WGO die wêreldwye bedreiging verkleineer, het Taiwan kragtige maatreëls getref vir sifting, toetsing, kontakopsporing en handhawing van kwarantyn. Hierdie maatreëls is ondersteun deur tegnologie en groot data, sowel as die samewerking van burgers wat uiters waaksaam gebly het weens hul traumatiese ervaring van 2003 met ernstige akute respiratoriese sindroom (SARS).

Besondere belangrik in Taiwan se benadering was deursigtigheid en oop inligting. Taiwan se sentrale kommandosentrum vir epidemies, wat na die SAID gestig is, maak steeds daagliks inligting bekend.

Dit kontrasteer sterk met China se aanvanklike verdoeseling van die uitbraak en die voortgesette onderdrukking van onafhanklike verslagdoening.

Die ervaring van Taiwan weerlê die misleidende geloof dat slegs lande met drakoniese outoritêre regulering die virus effektief kan bestry.

Die WGO het China se menseregtevergrype om inligting oor die pandemie toe te smeer geignoreer en die land se reaksie op die koronavirus geprys. Tedros het die Chinese reaksie sikofanties geprys as “die opstel van ‘n nuwe standaard vir uitbraakbeheer”.

Die WGO het China se amptelike infeksie- en sterftesyfers sonder kritiek aanvaar, selfs toe dit duidelik geword het dat Chinese joernaliste ‘verdwyn’, dokters stilgemaak word en nuus- en sosiale media-waarskuwings oor die uitbraak gesensureer word.

Amptelik het China tot dusver nog net 95 000 Covid-gevalle en 4 600 sterftes gehad. Die volledige verhaal van die Chinese statistieke sal waarskynlik nooit bekend wees nie – en beslis nie deur die WGO erken word nie.

Een rede is dat amptelike gegewens uit China dikwels hoogs twyfelagtig is -wat kan lei tot swak gesondheidsbeleid in ander lande, aangesien studies op grond van inligting uit China die eerste is wat gebruik word om COVID-19 te verstaan.

Ontelbare gevalle van mense wat tuis sterf in Wuhan – waarvan sommige in plasings op sosiale media beskryf word – sal waarskynlik nooit in die statistieke ingesluit word nie. En hoewel ‘n aansienlike persentasie asimptomatiese gevalle nie aangemeld is nie – wat ongeveer 50 persent meer bekende infeksies in China beloop, volgens ‘n verslag van South China Morning Post oor geklassifiseerde regeringsdata – aanvaar die WGO syfers wat deur Beijing gegee word, steeds op sigwaarde.

Die kwelvraag bly steeds hoe en waar die virus ontstaan het. Die WGO het aanvanklik verseg om enigiets anders te aanvaar as dat dit ‘n natuurlike virus is wat van dier na mens oorgedra is. Die besmette dier is waarskynlik van ‘n mark in Wuhan afkomstig, was die algemene verduideliking.

Dit begin nou gaandeweg meer moontlik lyk dat die virus uit ‘n virologie-laboratorium net ‘n katspoegie van daardie selfde mark af kan kom. Selfs Vaak Joe Biden het sy Amerikaanse spioene opdrag gegee om die herkoms weer te ondersoek.

‘n WGO-wetenskaplike wat Wuhan besoek het, glo dit is onwaarskynlik dat die virus van enige plek anders as die laboratorium af kom. Die Chinese wou egter geen dokumentasie oor die laboratorium aan die WGO-ondersoekspan beskikbaar stel nie.

Die WGO het aanvanklik viervoet vasgeskop oor die moontlike oorsprong, maar begin nou gaandeweg toegee dat dit moontlik is.

China se reaksie op die uitbreking was wreed en totalitêr. Ten spyte hiervan het die WGO die reaksie van China die basis gemaak van sy eie aanbevelings aan regerings regoor die wêreld.

Toe president Cyril Ramaphosa in Suid-Afrika die mees drakoniese regulasies ter wêreld ingestel het deur ondernemings wat nie as ‘noodsaaklik’ geag is nie te sluit, dokters en ander kundiges te sensureer en burgers tot hul huise te beperk uit vrees vir gevangenisstraf of aanranding deur veiligheidsmagte, was die WGO vol lof. Die ekonomiese skade is gerieflikheidshalwe geïgnoreer.

Maar hoekom sou die WGO hom oor lande soos Suid-Afrika se geldsake bekommer? Sy 7 000 werknemers het voor Corona gemiddeld byna R2 miljoen per person per jaar gekry – 23 keer soveel soos die gemiddelde Suid-Afrikaner.

Die WGO se salarisrekening is sowat 40% van sy totale begroting, en die geld wat hy aan vliegkaartjies spandeer, is meer as die gesamentlike bedrag wat aan die bestryding van MIV, hepatitis, malaria, tuberkulose en tropiese siektes, saam bestee word.

In die verlede was die mandaat van die WGO om globale reaksies op oordraagbare siektes, soos pes, cholera, pokke, poliomyelitis, tifus en malaria, te koördineer.

Sedertdien het hy hom begin bemoei met wetgewende en regulatoriese ingrypings wat ontwerp is om nie-oordraagbare ‘lewenstyl’-siektes te bekamp. Dit sluit in ‘n beheptheid met die totalitêre afdwing van gesondheid deur wetgewing en ‘n beheptheid met veldtogte teen tabak, alkohol, suiker, sout en enige ander klein plesiertjie.

Die standaardprosedure is klaarblyklik om mense die reg te weier om hul eie gesondheid en lewenstyl te bestuur, en in plaas daarvan om outoritêre maatreëls aan te beveel, soos verpligte gesondheidswaarskuwings, verbodswetgewing, advertensieverbod en buitensporige sondebelastings.

In sommige gevalle, soos die veldtog om die sout in die dieët te verminder, is daar nie eens ‘n goeie wetenskaplike basis om die einddoel te regverdig nie.

In ander, soos sy drakoniese anti-tabakveldtog, het hy in die verlede navorsingsbevindinge oor tweedehandse rook geïgnoreer om by sy eie opvattings te pas.

As gevolg van die politieke sensitiwiteit van sy lidlande, neig die WGO soms om onverbloemde kwaksalwery te bevorder. Die organisasie het byvoorbeeld onlangs 400 tradisionele Chinese medisynes by sy lys van aanbevole riglyne gevoeg.

In die proses moes hy baie kritiek verduur van bewaringsinstansies wat die WGO daarvan beskuldig dat hulle die uitwissing van bedreigde spesies bevorder deur middels aan te bevel wat gebruik maak van organe en ander dele van spesies soos jaguars, pangolins en renosters.

Weens sy oormatige politiek korrektheid en verskuifde fokus na ander gesondheidskwessies as oordraagbare siektes, het die WGO die afgelope jare dikwels vir brouwerk gesorg in sy reaksie op wêreldwye uitbrake.

Tydens die H1N1-grieppandemie in 2009, en weer tydens die Ebola-uitbraak in 2014, het die WGO onder kritiek deurgeloop. Die vrees om sekere lidlande aanstoot te gee, het dikwels tot hierdie brouwerk aanleiding gegee, presies soos wat sy knegtelike houding jeens China die coronavirus verlede jaar regoor die aardbol laat versprei het.

Hy het H1N1 as ‘n pandemie verklaar ondanks die feit dat dit nie aan die strengheidskriteria in sy eie pandemieriglyne voldoen het nie. In reaksie op medievrae, het die WGO sy pandemieriglyne summier van sy webwerf verwyder, wat die verwarring oor die erns van die uitbraak vererger het.

Dit het verder die identiteit van die advieskomitees geheim gehou, wat gelei het tot bespiegelinge oor belangebotsings waarby farmaseutiese maatskappye betrokke is.

Alhoewel H1N1 dieselfde virus was wat verantwoordelik was vir die uitbraak van die Spaanse griep tussen 1918 en 1920, was die nuwe soort veel minder dodelik. Tussen 700 miljoen en 1,4 miljard mense het dit opgedoen, maar die dodetal van tussen 150 000 en 575 000 was nie erger as dié van enige seisoenale griep nie.

Tydens die Ebola-uitbraak in 2014 is die WGO ook daarvan beskuldig dat hy te stadig opgetree het en ‘n uitbraak volledig verklaar het drie maande nadat dit in Guinee begin het. Teen daardie tyd dat dit reeds internasionale grense oorgesteek.

Die staatmaak op onbetroubare data, net soos met Covid-19, het dit onduidelik gemaak hoe die epidemie verloop en waar hulpbronne die nodigste was. Net soos met Covid-19, het dit regeringsstatistieke op sigwaarde aanvaar en die verklaring van die Ministerie van Gesondheid van Guinee dat die epidemie onder beheer is, nie betwis nie.

Dit was verkeerd. Die uitbraak het toe eers begin.

As die WGO nie ‘n beduidende rol kan speel om sy doel – om gesondheidskrisisse op te los – te verwesentlik nie, het hy nie meer ‘n bestaansreg nie.

‘n Politieke instelling soos die WGO sal beperk word deur fiksie (soos die Verenigde Nasies se “een China”-beleid) wat ‘n politieke pandemie op sigself is. Die onlangse geskiedenis van die groep onthul ‘n burokrasie wat toenemend van die werklike wêreld af wegbeweeg.

Die WGO het in reaksie op navrae beweer dat hy nou saamwerk met kundiges uit Taiwan – ‘n bewering wat die regering van Taiwan weerlê het. Taiwan het voortdurend koronavirusdata met die WGO gedeel, maar die WGO het hierdie inligting nooit aan sy lede bekend gemaak nie. Boonop het die WGO in ‘n statusverslag in Februarie oor die aantal gevalle in Taiwan ‘n verkeerde syfer gegee op grond van inligting wat deur China aan hulle gegee is.

Die dekadeslange uitsluiting van Taiwan is ‘n voorbeeld van hoe die wêreld se gesondheidsorg die politiek voor die openbare gesondheid stel. Regerings en besorgde wêreldburgers moet eis dat die WGO sy verpligting nakom – om die gesondheidsbelange van die wêreld te verteenwoordig, nie die van China nie – en die WGO aanspreeklik gehou moet word as dit misluk.

As die WGO nie aan die begin van verlede jaar so oor sy voete geval het om China tegemoed te kom nie, kon hierdie virus tot Wuhan beperk gewees het.

In plaas daarvan het dit regoor die aardbol versprei, miljoene mense doodgemaak en ekonomieë verwoes.

Die WGO is lief daarvoor om te sê die verlede is nie belangrik nie – dis die hantering van ‘n internasionale gesondheidsprobleem wat nou moet aandag kry.

Die probleem is egter dat die pandemie internasionaal geword het omdat die WGO ‘n gesondheidskwessie as ‘n politieke slaggat probeer hanteer het. Die herkoms van die virus is wel belangrik, want as die wêreld nie teen die skuldiges – China en sy handlanger die WGO – optree nie, is dit ‘n probleem wat weer en weer gaan voorkom.

Die wêreld kan die WGO nie langer bekostig nie. Ons verdien beter.

 

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!