Met die winter nou amptelik agter die rug, kan lesers hulle solank voorberei vir lastige muskiete.
Luidens ’n verklaring van Shüné Olivier en Jaisharee Raman, navorsers by die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) wat weerstand teen malaria moniteer, is internasionale muskietdag op Vrydag 20 Augustus gevier.
Dit was op dié dag dat Sir Ronald Ross in 1887 ontdek het dat muskiete malaria aan die inwoners van Indië oorgedra het. Olivier en Raman het gesê malaria word in die meeste gevalle deur muskiete oorgedra. Geen muskiet kan egter die HIV-virus, ebola- of die koronavirus aan mense oordra nie, het hulle gesê.
Navorsers is steeds verstom hoe muskiete hul weg vind na ’n gasheer, selfs binne-in geboue waar lugversorging gebruik word.
Daar is reeds sowat 3 500 spesies muskiete geïdentifiseer waarvan slegs vyf spesies sover bekend vir mens en dier gesondheidsgevare inhou. Die res is egter net lastig spesies. Die wat volgens NIOS gevaar inhou is:
Die Culex genus-muskiet, wat saans aktief is en gewoonlik hul eiers naby waterbronne lê. Hierdie spesie word gewoonlik geassosieer met die Westelike Nyl-virus en Japannese enkefalitis (breininflammasie en allergie). Dit word egter nie in Suid-Afrika aangetref nie.
Aedes-muskiete (swartkleurig, met wit of silwer vlekke) kan in die dag gevind word en is geneig om in plekke soos motorbande of gate in bome te paar. Hul eiers word in bedompige, nat plekke gevind. Die siektes wat hierdie spesies kan oordra sluit onder meer geelkoors en die gevreesde zika-virus in.
Dan is daar ook die Anapholes-muskiet, wat geken word aan hul sagte zoemgeluid. Dit staan bekend as ’n dodelike muskiet, bruin- of swartkleurig met gevlekte vlerke. Hierdie muskiete is veral tussen sonsondergang en sonsopkoms aktief. Hierdie muskiete word gekenmerk deur die skuinsposisie waarin hulle op ’n oppervlak sit. Hulle lê hul eiers op wateroppervlaktes.
Wyfies van die Anapholine-spesie sak toe op hul prooi omdat die warm bloed die muskiet se eierproduksie bevorder. Hierdie wyfiemuskiete “byt” eintlik, hoewel mense in die volksmond praat van muskiete wat “steek”. Mannetjiesmalariamuskiete is skadeloos en speel ’n ekologiese rol met die bestuiwing van plante.
Die laaste spesiesoort is die Toxorhynchites-muskiet, meer bekend as olifantmuskiete, wat nie oor enige bytvermoë beskik nie. Hulle larwes eet gewoonlik ander muskieteiers.
Die navorsers het voorts gesê mense moenie kraanvlieë met muskiete verwar nie, hoewel hulle oor dieselfde bou beskik. Kraanvlieë is nie skadelik nie.
Olivier en Raman se raad aan mense is om die nodige teenmiddels aan te skaf in gebiede waar muskiete gevind word en om onder ’n muskietnet te slaap.
Hulle voer verder aan dat medisyne beskikbaar is vir mense wat malaria wil voorkom, maar het gewaarsku dat teenmiddels nie noodwendig malariasimptome kan verminder nie. Juis daarom moet mense dadelik hul geneesheer raadpleeg en inlig watter gebied hulle besoek het.
Entstowwe vir geelkoors en vir Japannese-enkefalitis is wyd beskikbaar voordat reisigers vertrek na gebiede waar dié insekte voorkom.
Lesers kan die departement van gesondheid se webtuiste, www.health.gov.za/malaria/ besoek om hulself te vergewis van gebiede waar malaria algemeen voorkom en die nodige voorsorgmaatreëls tref voordat hulle daarheen reis.