Na die wette van Afskeid en Herfs deur Eddy van Vliet
Die Vlaamse digter Eddy van Vliet is een van die kragtigste stemme in die Nederlandse digkuns van ná die Tweede Wêreldoorlog. Sy gedigte word gekenmerk deur universele temas soos die liefde en dood. Die digter bou met beeldende taalgebruik ’n brose binneplaas in ’n bedreigende wêreld, ’n tydelike verblyf tot en met die onafwendbare verval. Sy bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ’n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet.
Van Vliet se gedigte is intens outobiografies, veral ten opsigte van die afwesige vader. Die digter is ’n romantiese genealoog wat diep put uit ’n veelbewoë lewe, maar hy bly weerbaar met ironie en selfrelativering.
Eddy van Vliet (1942-2002) het dertien digbundels die lig laat sien. Sy werk is bekroon met die Reina Prinsen Geerligsprijs (1967), die Arkprijs van het Vrije Woord (1971), die Jan Campertprijs (1975) en die Staatsprijs voor Poëzie (1989). Die Afrikaanse uitgawe, Na die wette van Afskeid en Herfs, is ’n keur uit sy werk.