DR. BEVERLEY MALAN
In die vorige artikel het ons gekyk na die finale voorbereiding vir die aanvang van u en u kinders se tuisskoolonderrigavontuur. Ons het spesifiek gekyk na die keuse van ‘n leerplan of planne. Ons het u daarop gewys dat meeste leerplanne uitkomsgebaseerd is, dat daar drie soorte uitkomste is (lang-, medium, en kort-termyn) en dat die leerinhoud (kennis, vaardighede en waardes) en onderrigmetodes wat in die leerplanne ingesluit is daarop gemik is om kinders in staat te stel om hierdie uitkomste te bereik. Dit is belangrik dat u tuisskoolleerplan ook op die wyse ontwikkel/opgestel moet word, maar met ‘n omvattender langtermyn uitkoms as bloot om u kinders voor te berei vir verdere studie of beroepsopleiding,
Die tipiese tuisskoolleerplan se hoofuitkoms moet wees om kinders doeltreffend (‘effectively’) en doelmatig (‘efficiently’) vir die volwasse lewe voor te berei. Dit beteken nie dat hulle nie ook vir verdere studie en/of beroepsopleiding voorberei moet word nie. Hulle moet, maar nie net daarvoor nie.
Soos in die vorige artikel aangedui beteken dit by implikasie dat u nie net die gewoontes, waardes, kennis en vaardighede om suksesvol by ‘n ewigdurend veranderende wêreld aan te pas by u kinders moet inskerp nie maar ook dat u hulle moet leer om dit krities en kreatief tot hulle en ander se voordeel te kan manipuleer.
Die eerste vraag wat u uself dus moet afvra is watter kennis, vaardighede, waardes en ingesteldhede al u kinders, ongeag hulle ouderdom, geslag of unieke talente en belangstellings, tydens hulle tuisskoolonderrigreis moet verwerf. Die antwoord wat u hierop gee moet die hoofdoel of primêre langtermynuitkoms van u tuisskoolleerplan wees.
Om dit te bepaal is nie so moeilik soos dit klink nie: u, as ouers, is immers reeds volwasse en weet wat dit is wat volwassenes moet weet en kan doen om produktief en gelukkig te wees. Nieteenstaande verskille tussen die beroep wat u en ander volwassenes volg, die manier waarop u met ander mense omgaan, en die waardestelsel waarvolgens u leef, is daar tog algemene ooreenkomste rakende wat volwasse gedrag is of nie is nie.
In die eerste plek behoort alle volwassenes byvoorbeeld die verskil tussen verantwoordelike of aanvaarbare en onverantwoorderlike of onaanvaarbare gedrag te verstaan en behoort hulle daarop ingestel te wees om sover as wat dit moontlik is altyd so op te tree dat hulle nie hulself of ander benadeel of in gevaar stel nie.
Ingesluit in sulke optrede is, onder andere, die keuses wat hulle maak, die manier wat hulle hulself gedra, hul interaksie met ander, ensovoorts. By implikasie moet een van u langtemynuitkomste dus wees om te verseker dat u kinders ‘n sin van verantwoordelikheid aanleer. Hoe doen u dit? U het geen geskrewe leerplan daarvoor nodig nie.
Al wat u moet doen is om u kinders van kleinsaf te leer om die moontlike gevolge van hulle dade te oorweeg voordat hulle tot handeling oorgaan, en om dan so op te tree dat hulle nie hulself of ander in die proses benadeel nie.
Daar is verskillende maniere waarop ouers hierdie doel kan bereik. In ‘n tuisskoolprogram sou u byvoorbeeld van die tegnieke/benaderings wat volg gebruik kon maak. Een manier om dit te doen is om seker te maak dat kinders die verantwoordelikheid aanvaar om alledaagse/gewone takies wat ‘n gesinslewe makliker maak pligsgetrou – sonder betaling – uit te voer.
Dit sou kon insluit dat hulle hul eie beddens moet opmaak, hul kamers netjies hou, agter hulleself skoonmaak, nie vuil skottelgoed vir ma in die wasbak los nie, nie in mekaar se goed krap nie, betyds opdaag vir ete, of nie iewers heen te gaan sonder om ten minste vir een van die gesinslede te sê waar hulle heen gaan en hoe laat hulle terug sal wees nie.
Sodoende verseker hulle nie net hul eie veiligheid nie maar maak ook seker dat niemand verontrief is of onnodig oor hulle bekommerd sal wees nie. Hulle moet ook terdeë bewus gemaak word van die gevolge indien hulle nie hulle verantwoordelikhede nakom nie.
Sodoende leer hulle nie net verantwoordelikheid nie maar ook self-dissipline, hulpvaardigheid en/of bedagsaamheid teenoor ander.
Nog ‘n manier, wat terselfdertyd tot die ontwikkeling van hulle intellektuele/kognitiewe denkvaardighede kan bydra is om saam met u kinders die gevolge wat ander mense se handelinge mag hê te bespreek.
Die doel is nie om hulle te leer om oor ander mense te skinder nie maar om te kan bepaal of die betrokke persoon of persone se optrede as verantwoordelik of onverantwoordelik beskou kon word.
Hulle sal daarom redes moet gee waarom hulle die persoon se optrede as verantwoordelik of nie beskou. Die ‘leermateriaal’ wat u kan gebruik vir sulke gesprekke kan een of meer van die volgende insluit: werklike gebeure in u en u kinders se daaglikse lewe; dinge wat in u buurt of in die land gebeur (die onlangse onluste in Gauteng en Kwa-Zulu-Natal, byvoorbeeld); artikels wat in koerante, tydskrifte en op aanlynwebwerfe verskyn; TV berigte, sepies of flieks, stories wat op sosiale media en/of deur mense met wie u en hulle in aanraking kom versprei word en, vir jonger kinders, prentjies wat verskillende soorte gedrag uitbeeld.
Die bespreking moet daarop gemik word om te bepaal wat die impak van die betrokke handeling op ander mense en/of op die land kon hê en, op grond daarvan, of die verspreiding van sodanige inligting as verantwoordelik of onverantwoordelik gekategoriseer/beskou kon word.
Met ouer kinders sou u byvoorbeeld burgers se regte en verantwoordelikhede, soos in die Grondwet en Handves van Menseregte geboekstaaf, as maatstaf vir die evaluering van verskillende soorte gedrag gebruik.
‘n Derde manier sou wees om die handelinge van karakters in stories (boeke, TV-reekse en flieks) te ontleed, nie net om die impak van die karakters se handelinge op hulself en ander karakters in die storie te ontleed nie maar ook om krities en/of kreatief te besin oor hoekom hulle so opgetree het.
Laat die kinders dan praat oor hoe hulle dink hulle in ‘n soortgelyke situasie sou opgetree het en wat hulle dink die impak van hulle optrede op die ander karakters in en/of op die uiteinde van die storie sou gewees het.
Stories wat vir dié doel gebruik word moet noodwending gepas wees vir die ouderdom van die kind/kinders wat aan die bespreking deelneem, maar alle stories, selfs tradisionele feeverhale, die mites en legendes eie aan verskillende volke en gebeurtenisse in ons volksgeskiedenis leen hulle tot hierdie soort ontleding.
Nie alleen slyp sodanige besprekings kinders se sin vir verantwoordelikheid en hul vermoë om krities en kreatief te dink nie maar dit dra terselfdertyd by tot die ontwikkeling van hulle emosionele intelligensie – hul begrip en empatie (deernis/meelewing eerder as simpatie) met ander mense in hulle leefwêreld.
Nog ‘n uiters belangrike lewensvaardigheid is om die kinders te leer om verstandig met geld te werk. U kan byvoorbeeld aan elke kind maandeliks ‘n sekere bedraggie sakgeld gee.
Hoeveel u gee hang sal noodwendig deur die kind se ouderdom bepaal word. Hulle moet dan beplan hoe hulle die geld gaan bestee om ‘n hele maand daarmee uit te kom. Jonger kinders kan dalk hulle geld in ‘n spaarbussie hou en self besluit wanneer en vir wat hulle daarvan wil gebruik.
Ouer kinders moet geleer word om te onderskei tussen noodsaaklike uitgawes, ‘bederfies’ en spaargeld wat vir langer termyn doelwitte gebruik kan word. Noodsaaklike uitgawes sou goed soos sjampoe, tandepasta en seep, wat hulle in hul tienerjare self moet aankoop insluit; bederfies goed soos saam met vriende gaan uiteet of fliek, en spaargeld vir iets duurs wat hulle dalk eendag wil koop of doen.
Hulle kan byvoorbeeld ‘n spaarrekening vir die doel oopmaak, dan leer hulle sommer hoe geld d.m.v. rente kan groei. As hulle sakgeld voor die einde van die maand op is moet hulle maar vir die res van die maand sonder geld klaarkom.
As hulle dan by u of die ander kinders geld leen moet hulle rente op die skuld aan die persoon by wie hulle die geleen het betaal. Sit aan die einde van die maand saam met die kinders om ‘n tafel en laat hulle verslag doen – mondeling en/of met behulp van ‘n balansstaat waarop hulle aandui waarop hulle die geld uitgegee het.
Nog lewensvaardighede wat hulle – sonder ‘n spesifieke kurrikulum – behoort aan te leer as deel van hulle voorbereiding vir die volwasse lewe sou byvoorbeeld kon insluit wat dit beteken om gesond te leef (daaglikse higiëne, gesonde en ongesonde kos, oefening, ens.), hoe om probleme op te los en teleurstellings te verwerk en oorkom, hoe om geleenthede raak te sien en te benut, in harmonie te leef met mense wie se waardes, kultuur en leefstyl hulle s’n verskil en bowenal, hoe om ’n balans tussen werk, ontspanning, sosiale verkeer en samesyn met die gesin te handhaaf. Alhoewel die aanleer van vaardighede soos hierdie in ‘n beplande, formele leerplan/kurrikulum aangespreek sou kon word is daar aanduidings dat die aanleer daarvan veel meer suksesvol en volhoubaar is as dit in die daaglikse omgang met ander geïntegreer word – gesprekke om die etenstafel, voor die televisie, gedurende familieuitstappies, na ‘n kuiertjie, ensovoorts.
Dit is dus nie nodig om ‘n formele leeplan vir die aanleer van hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Dit is ook nie nodig om ‘n spesiale leerrruimte daarvoor in te rig nie. Wat wel nodig is, is dat almal wat bydra tot die ontwikkeling van hierdie vaardighede in kinders dit met deernis en respek moet doen. Op geen stadium moet hulle die kinders laat voel dat hulle menings onbelangrik of verspot is nie.
Overgesetsynde, ‘leermeesters of meesteresse’ moet nie net onderrig nie maar moet self ook bereid wees om te leer. Die kinders moet daarom op geen stadium voel dat niemand na hulle idees wil luister nie: hulle moet eerder aangemoedig word om vir hulle self te dink, te eksperimenteer en hulle idees met ander te bespreek, sonder die vrees dat dit summier as verspot of verregaande afgeskiet sal word.
Met ander woorde, ongeag hulle ouderdom en ervaring, moet hulle met dieselfde respek behandel word as wat van hule verwag word.
Dink gerus oor die voorstelle oor maniere waarop u as deel van tuisskoolonderrig hierdie belangrike lewensvaardighede by u kinders kan ontwikkel. U het dalk nie die aanleer van hierdie vaardigheid as deel van tuisskoolonderrig beskou nie want, gegewe die dominansie van formele skoolonderrig, het u, soos meeste van ons, skoolonderrig gelyk gestel aan die aanleer van lees, skryf, somme maak en vakkennis opdoen. Dit is wel tans klaarblyklik die hoofdoel van onderwys in die algemeen maar die insluiting van ‘n vak soos Lewensoriëntering in die skoolkurrikulum is ‘n aanduiding dat selfs in hoofsaaklik akademiese onderrigsituasies die vaardighede wat ons in hierdie artikel as absoluut noodsaaklik uitgelig het, nie geïgnoreer word nie.
Ons posisie is dat hierdie vaardighede nie net die basis moet vorm van alles anders wat geleer word nie, maar dat dit in die onderrig en leer van alle ander vaardighede en kennisgebiede (taal/syfervaardighede, vakkennis en beroepsvoorbereiding) geïntegreer behoort te word.
Hoe dit gedoen kan word vorm deel van die volgende artikel wat spesifiek fokus op die stimulering en ontwikkeling van kinders se sensoriese en kognitiewe vaardighede in ‘n tuisskoolonderrigkonteks.
Tot dan, eksperimenteer na hartelus met maniere waarop u u kinders met die nodige lewensvaardighede kan toerus en, as u enige “Eureka” momente in die proses beleef, deel dit asseblief met ons.