Dit gebeur dikwels dat lesers van Die Waarheid op ‘n interessante oudhede afkom, maar nie weet of dit waardevol is nie.
Soms trek jou ouers ouetehuis toe, en jy kom tussen die goedjies waarvan hulle ontslae wil raak af op iets wat jou baie interesseer. Of dalk word jy die eienaar van ‘n afgestorwe familielid se nalatenskap….
Jy mag hier jou spoggoed uithaal en vir ons wys, en met graagte die geskiedenis agter die artikel met ons deel. Plaas ‘n foto van jou artikel op die blad, as iemand weet wat die waarde daarvan is, deel gerus jou mening. As jy dit wil verkoop mag jy dit ook doen.
As jy wil navraag doen of sommer net wil spog, stuur jou foto’s na dirklotriet1966@gmail.com
Hier volg oppervlakkige agtergrond oor oudhede om jou net ‘n bietjie meer kennis oor die onderwerp te gee.
Meubels:
Antieke stukke: Dit is meubels wat ouer as 100 jaar is met estetiese of ontwerpersbelang.
Retro-stukke: Art deco, art noveau en sestigerstukke is baie gewild.
Bal-en-klou, stukke met Queen Ann-pote, Boere-oorlog-stukke (veral sg. Campaign-stukke) is baie gewild onder versamelaars.
Porselein:
Britse eetservies of teestelle is betreklik gewild.
Royal Albert bly die koning van die vervaardigers. Spode/Copeland Spode is ook gewild, asook stukke deur die bekender ontwerpers soos Suzie Cooper of Clarice Cliff. Onder die Hollandse porselein is dit veral Delft en Gouda wat gangbare pryse haal.
Royal Doulton, Alfred Meakin, Johnson Bros ens is nie meer so gewild soos ‘n paar jaar gelede nie, maar goeie stelle sal altyd goeie pryse haal. Soos met alle modes, kom porseleinvervaardigers se gewildheid maar in vlae. Wat nou nie gewild is nie, kan oor ‘n paar jaar die versamelaars laat toustaan.
Hollandse porselein:
Delft en Gouda haal goeie pryse op veilings.
Japannese porselein:
Noritake is gewild, maar die mark is baie kleiner as vir Engelse porselein. Daar is ‘n hele klompie baie entoesiastiese Imari-versamelaars.
Duitse porselein:
Meissen en Rosenthal is baie gewild. (dit word ook Dresden porcelaine or porcelaine de Saxe genoem).
Suid-Afrikaanse porselein:
Ardmore is die koning as dit by waarde kom.
Retro-stelle, soos Constantia uit die sewentigs, begin baie gewild word.
Glas:
Murano, asook kristal deur Waterford, Stuart, Val saint Lambert en stukke deur die Franse ontwerper Rene Lalique behaal uitstekende pryse.
Matte:
Goeie handgeknoopte Persiese, Afgaanse en Chinese matte maak versamelaars gaande. Kelims kry ook aftrek, maar is minder waardevol.
Silwer:
Veral soliede silwer is waardevol.
Kyk na die stempels. Die woorde Silwer of Sterling beteken dit is silwer. ‘n Stempel van ‘n leeu beteken dit is sterlingsilwer. Wees ook op die uitkyk vir die syfers 925 vir stelingsilwer of 830 of 800 vir Europese silwer.
Stempels van die sogenaamde Assay Offices: Birmingham, Londen, Endeburgh, Sheffield ens is ‘n waarborg van gehalte. Dit word gewoonlik van ‘n datumstempel vergesel, wat jou in staat stel om die betrokke stuk se waarde te bepaal.
Goud:
Wees op die uitkyk vir stempels wat se 9k, 10k, 14k of 18k
Of 375 (9k) of 750 (18k)
Ou juweliersware:
Hierdie is ‘n spesialiteitsgebied. Vra ‘n kenner.
Ou speelgoed:
Dit kan baie waardevol wees, veral treine. (Lima) Baie ou modelkarretjies of blik-opwenspeelgoed of ou Kewpie-poppe maak versamelaars rasend.
Ou skilderye:
Pierneef, WH Coetzer of Irma Stern kan miljoene werd wees.
Maar dit is nie net die groot, bekende name wat waardevol is nie, ander name soos John Dykman, Jeanette Dykman, Otto Klar, Christiaan Nice, Adriaan Boshoff en andere is ook baie werd.
Ou munte:
Party is van soliede silwer gemaak. Versamelbare munte en ou geldnote is egter ‘n kennersgebied.
Krugerrande:
‘n Krugerrand van een ons is digby R30 000 werd. Mens kry ook kleiner Krugerrande – halfgroottes, kwarte en selfs tiende Krugermunte.