‘n Boer is Sondag tydens ‘n plaasaanval op die melkplaas Boslaagte in die Oos-Kaap, digby Port Elizabeth, doodgeskiet.
Die 55-jarige boer, Werner Buchner, sy vrou, Estelle en hulle seun, Werner, is omstreeks 18:30 deur drie aanvallers oorval.
Hulle het by die gesin se huis ingestorm en skote is afgevuur. Werner sr. is in sy rug raakgeskiet en die seun het ook ‘n skietwond opgedoen. Die aanvallers het Estelle ernstig aangerand, albei haar arms is tydens die aanranding gebreek. Sy kon daarin slaag om hulp te ontbied. Haar man is op die toneel dood verklaar. Die seun en ma is na die hospitaal gehaas vir mediese hulp. Die seun het ‘n noodoperasie ondergaan en hy is tans in ‘n stabiele toestand.
Daar word op hierdie stadium net twee selfone en kontant vermis. Die drie aanvallers is egter nog op vrye voet. Die ondersoek duur voort.