Skip to main content

DIRK LOTRIET

Laat ek dit sommer in die eerste sin van hierdie artikel verklaar: Ek is nie ‘n viroloog nie.

Anders as die meeste Suid-Afrikaners het ek nie navorsing oor Covid-19 gedoen nie – ek het nie toegang tot ‘n laboratorium nie en selfs al het ek gehad, sou ek nie geweet het waar om te begin nie.

Maar ek lees baie daaroor na – insluitende akademiese publikasies en navorsingsverslae. En ek het iets wat op die oog af deesdae nie algemeen is nie: gesonde verstand.

Wat my hier noodsaak om my stuiwer in die armbeurs te gooi, is die splinternuwe debat oor inentingspaspoorte.

As jy volledig ingeënt is, kan jy ‘n inentingspaspoort kry, lui die gerugte. En sonder daardie paspoort, kan jy feitlik niks doen nie. Jy sal nie uit die land uit kan reis nie, jy sal nie in ‘n string poste aangestel kan word nie… En, as daai kwaai tannie in Limpopo haar sin kry, sal jy ook nie drank kan koop nie.

Nie omdat drank slegter vir mense sonder inentings is of mense meer geneig maak om dronk te bestuur of jou vrou oor naweke te lyf te gaan nie… sommer net om jou te straf omdat jy die heeltemal wettige ding gedoen het om te besluit om nie die Covid-vaksiene te kry nie.

Bietjie soos die stories wat die slimjanne op skool vir ons vertel het oor die “merk van die dier”, ‘n staafkode wat glo op jou voorkop getattoeër sal word en waarsonder jy persona non grata sou word.

Maar in plaas van die staafkode op die voorkop, kry jy nou ‘n paspoort op jou foon of op ‘n kaartjie in jou leë beursie.

Let wel, hierdie artikel, net soos die idee van inenting-paspoorte of kudde-immuniteit, gaan oor covid-oordraging. Nie oor bespiegeling hoe groot jou kans is om dood te gaan as jy dit kry en of jy hospitaalbeddens gaan vol lê wat eintlik nodiger vir dronkgatte is nie.

Die argument is dat persoonlike regte plek moet maak vir die regte van die gemeenskap, wat natuurlik snert is. Ons probeer daai enetjie al dekades lank, met geen sukses nie.

Kyk maar na inkomstebelasting… In teorie moet die individu wat ‘n goeie salaris verdien, van byna die helfte van die geld waarvoor hy hard werk en waarmee hy vergoed word vir skaars vaardighede, opoffer in die belang van die breë gemeenskap.

Wat verduidelik hoekom ons die laaste honderd jaar daarin geslaag het om die groot ongelykhede in die Suid-Afrikaanse gemeenskappe uit te wis. Oeps… ons het nie.

Waarin ons wel geslaag het, is om sukses te penaliseer en armoede te verheerlik, in so ‘n mate dat niemand regtig die moeite wil doen om buitengewoon suksesvol te raak nie, want jou sukses word eenvoudig gemelk ten voordeel van politici en ANC-getroues wat jou hardverdiende belastinggeld in die sak steek.

Dis net een voorbeeld wat die gate in die redenasie uitlig, maar kom ons keer terug na die Covid-debat.

Hoekom sou mens iets soos ‘n inentingspaspoort wil instel? Of mense wil dwing om ons bestaande Covid-vaksienes te kry? Presies waar kom die “belang van die gemeenskap” in die prentjie?

Ek kan verstaan dat mens ‘n Covid-vaksiene sal neem as dit jou teen infeksie sal beskerm. Soos masels of polio of pokke. Die inentings wat kinders kry, is ‘n vorm van immunisering wat verseker dat jy nie daardie siektes kry nie. Daardie kindersiektes het feitlik van die aardbol af verdwyn danksy die immunisering daarteen.

Maar die Covid-19-vaksiene is nie ‘n vorm van immunisering nie. Ja, dit was een van die doelwitte in die ontwikkeling daarvan. President Cyril Ramaphosa het self nog in Februarie op nasionale TV gesê die doelwit is om kudde-immuniteit te bereik deur 67% van Suid-Afrikaners – sowat 40 miljoen – “met die vaksiene te immuniseer”.

Maar ons weet nou niemand wat die vaksiene gekry het, is immuun daarteen nie.

As ‘n ouer, sou ek graag wou weet die onderwyser wat voor my kind se klas staan, is geïmmuniseer teen Covid-19. Ek weet egter daar is nog nie ‘n effektiewe immunisering ontwikkel nie. Maar ek weet iemand wat die inentings ontvang het, kan die delta-variant van die siekte byna net so maklik opdoen soos iemand wat nie ingeënt is nie. En hulle kan ander – kinders in die voorbeeld van die onderwyspersoneellid hier bo – minstens net so maklik met die coronavirus aansteek as iemand wat nie ingeënt is nie. Waarskynlik makliker, want asimptomatiese besmetting is baie meer algemeen onder gevaksineerde mense as onder ongevaksineerdes.

Ek weet reisigers kan die virus baie vinnig laat versprei – dis immers hoe dit oorspronklik die land binnegekom het. Maar weer: gevaksineerde reisigers hou moontlik ‘n groter gevaar in, want hulle kan asimptomatiese superdraers van die virus wees.

Ons het gehoop dat ‘n inenting ontwikkel sou word wat ons volkome of so na daaraan teen besmetting sal beskerm. Dis hoekom miljoene mense toustaan vir die inenting.

So ‘n person geniet nie eers 92% beskerming teen Covid-infeksie soos aanvanklike kliniese toetse bevind het nie. Ook nie eers 70% nie. Selfs nie 50% nie.

Volgens die Israeliese ministerie van gesondheid bied die Pfizer-entstof – die algemeenste inenting in Suid-Afrika – net 39% beskerming teen besmetting met die delta-variëteit.

Ses maande na die tweede inenting, daal die beskerming teen delta tot so min as 16%.

“Los die Ivermectin,” sê wysneuse. “Ivermectin werk nie, die inenting is betroubaar en effektief.”

39%? 16%? Deels effektief ten beste. As my kar drie oggende van die week nie wil vat nie, sal ek hom nie betroubare, effektiewe vervoer noem nie. Maak nie saak hoe lekker ry hy die ander twee oggende nie.

Daar is toetse wat ander syfers bevind het, maar die Israeli’s het heelwat langer toegang tot die inenting en ‘n baie groot persentasie van die bevolking is reeds ingeënt. Die amptelike Israeliese studie moet dus ernstig opgeneem word.

Volgens die nuutste navorsing (regte navorsing wat in MedRXIV gepubliseer is, nie snert wat op Facebook gelees is of oor WhatsApp versprei word nie) het die grootste vergelykende studie nog tussen infeksie-gebasseerde en vaksiene-weerstand bevind dat iemand wat albei Pfizer-inentings gekry het, se kans om met die delta-weergawe van die siekte besmet te word ses keer so groot is as iemand wat die siekte opgedoen en daarvan herstel het.

Iemand wat ingeënt is, se kans om met delta-Covid in die hospitaal te beland, is ook sewe keer groter as iemand wat weerstand deur die siekte self gekry het.

Infeksie-gebasseerde weerstand duur ook langer as die vaksienes se weerstand.

Benewens Delta is daar nou ook C.1.2, ‘n nuwe variëteit wat in Suid-Afrika gevind is. Daar word nog ondersoek ingestel oor hoe dit op inentings reageer, maar alle kliniese aanduidings is dat dit vaksiene-beskerming kan omseil.

Kom ons kyk weer: Hoekom sal mens ‘n vaksiene-paspoort wil instel? Paspoort-draers kan maklik een van twee bestaande variante van Covid-19 kry, en is net so aansteeklik soos mense wat nie ingeënt is nie.

‘n Ingeënte mens word net so dronk en maak onder die invloed droog net soveel soos ‘n oningeënte persoon.

Ek is bekommerd oor my kind se veiligheid as daar ‘n oningeënte persoon voor haar klas staan. Maar ek is net so bekommerd as die leerkrag wel ingeënt is.

Want almal is verdag. Almal is gevaarlik.

En dit gaan so bly totdat ons met ‘n betroubare immunisering teen infeksies vorendag kan kom. Tot dan, is kudde-immuniteit niks meer as koek hiernamaals nie.

Uiteindelik het ons geen verweer teen die pandemie nie. Dalk werk Ivermectin baie goed. Dalk werk gebed baie goed. Wat ons egter weet, is dat die (huidige) inentings nie baie goed werk as voorsorg teen die virus nie.

Elke mens maak sy eie keuses op grond van die inligting wat beskikbaar is. Ek dink nie enigiemand gaan die vaksiene neem of wegwys om sy eie gesin of die om hom skade te doen nie.

As iemand kies om ingeënt te word, is ek seker hy maak daai keuse met die beste bedoelings. En as iemand kies om liewer nie die vaksiene te neem nie, ondersteun ek sy keuse ten volle.

As ons eendag ‘n vaksiene ontwikkel wat regtig effektief en veilig is en ons teen die siekte immuniseer, sal ek eerste in die ry staan om dit te kry. Maar ek sal nooit iets so diskriminerend, ongegrond en onmenslik soos ‘n vaksienepaspoort kan ondersteun nie.

Wat is volgende? Heropleidingskampe in die Noord-Koreaanse styl vir anti-vaxers? Vuurpeletons?

Gaan soek liewer daai R500 miljard. Dit kan baie meer goed doen as iets so onbesonne, onliberaal en onderdrukkend soos ‘n paspoort.

Leave a Reply