Steinhoff kan nie gelikwideer word nie.
Dis nou volgens Steinhoff-prokureurs se redenasie dat ‘n hooggeregshofaansoek om dit te laat likwideer, weggewys moet word, aangesien dit ‘n ‘eksterne maatskappy’ is.
Die kleinhandelaar staar ‘n likwidasie-aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof in die gesig wat deur die voormalige eienaars van die skoenhandelaar Tekkie Town ingedien is.
Die vorige eienaars van die gewilde skoenketting beweer dat hulle ‘gedwing’ is om hul aandele in ‘n ‘baie winsgewende, kontantgenererende onderneming’ te ruil vir aandele in Steinhoff, wat sedert laat 2017 skerp in waarde gedaal het.
Steinhoff het likwidasie herhaaldelik as ‘n ergste scenario beskryf en gesê dat dit sy plan in die wiele ry om R25 miljard uit te betaal aan beleggers wat met die val van sy aandeelpryse geld verloor het.