Skip to main content

De-Bra is moedswillig. Ek brand om te hoor hoe sy aan die gebreklike naaldekoker wat agter my voordeur staan, gekom het, maar nee, sy slurp behaaglik en in stadige aksie aan die boeretroos.

“Daar is niks so lekker soos kondensmelk-koffie nie,” grinnik sy. “Nee, nou praat ek deur my nek. Sek…”

“Hei, mens praat nie uit die slaapkamer nie,” val ek haar in die rede. Ek weet watter woord sy wou sê.

“Jy is ‘n regte prune,” lag sy hees.

“Die woord is prude, dame.”

“Jimmel, sarkasme en soet koffie kan summier sooibrand veroorsaak. Stadig op die kursiewe gedrukte woorde,” betig sy my.

“Het jy al ooit weer van Magnum gehoor?” verander ek die onderwerp.

“Gmf, ek het die jaffle geblok. Die lewe is te kort om te worry oor valsheid.”

“Die woord is javel, dame,” kom die onnie in my weer na vore.

De-Bra se oë vernou en sy draai haar kop met die pienk dos stadig in my rigting. “Oe, as ek tussen die lyne lees was jy lanklaas tussen die lakens saam met iemand anders as jou tor,” draal sy.

“My tor?”

“Ja. Jou wie-bra-tor.”

My soet koffie trek ‘n boog oor die kombuistafel en ‘n paar moedswillige druppels land teen De-Bra se keel. Daar waar mans adamsappels het. Sy doen niks aan die koffie-slangetjies wat nou mik om tussen haar twee buuste in te verdwyn nie.

“En?” vra sy prontuit.

“En niks. Wat weet jy van my torre af?”

“Oe, so jy het meer as een?” rol sy haar oë en vat nog ‘n sluk koffie.

Ek kan sien sy wil lag. Ek wag daarvoor, maar haar lippe sluit vasberade om die koffiebeker.

“Vertel my hoe jy die weed-eater gegaps het.”

“Ons keer netnou terug na die torre,” belowe sy met ‘n knip-oog. “Anyway, Buksie, – ja, dis sy naampie,” praat sy in ‘n piepstem, “en ja, dis hoe sy spookvrou praat, het op ‘n kol die sweet uit sy oë gevee… Noudat ek daaraan dink: ek wonder of hy nie geweet het dat ek hom afloer nie.”

“Hoe so?”

“Hy het sy mullet uit sy nek gelig en sy kop agtertoe gegooi voordat hy na my huis gekyk het. En toe het hy sy kop opgelig, met sulke halfmas oë voor hom gestaar, sy los hemp se een punt stadig opgelig, en toe sy hele gesig nog stadiger afgevee. Ek kan nie die ding van die oë verstaan nie. Hy het gelyk soos ‘n hoender wat ‘n Goodyear tyre kraam.”

“Dalk was dit sy come-to bed-eyes-look,” lag ek hardop. Die vriendin van my het nogal ‘n manier om dinge uit te druk.

De-Bra se wenkbroue sit nou net onder haar pienk kuif. “Jy reken? Dit verduidelik dan alles.”

“Wat alles?”

“Wel, sy spookvrou het by die deur uitgestorm, iets gegil van ‘flirting vlermuis! Dis van daai mullet gooi dat daar ‘n string kinders is’, en hom aan sy oor by die deur ingesleep. Dit was vir lank stil. Toe dog ek dat vroulief hom seker binne aan ‘n bed se poot vasgemaak het. Anyway, ek onthou toe dat hy die squealy, uhm, dis nou die rantsnyer … – lekker woord, né? – teen die skeidsmuur staangemaak het.” Sy sluk die laaste koffie weg en sug behaaglik. “Ek kon myself nie keer nie. Dis nes daai dag toe ons Kuifie se lessenaarlaai oopgebreek het want ons was heilig oortuig dat hy drank daarin gehad het. Onthou jy?”

“Ek onthou. Ons was in diep moeilikheid by die skoolhoof.”

“Ja. Anyway, ek het ou paddaman nader gesleep, want as ek op hom kon staan was ek net hoog genoeg om oor die muur te loer vir die lawaai-gedrog.”

Paddaman is ‘n stewige padda tuin-ornament.

“Die oorspronklike idee was om net die ding behoorlik te bekyk. Ek weet nie wat my besiel het nie. Dis Buksie se eie skuld. As hy dit nie perfek regop gesit het nie, sou ek dit nooit kon bykom nie. En toe ek dit klaar gesteel het, toe klim ek dadelik in my kar en jaag hierheen. Ek kan mos nie dat hulle die gesteelde ding in my huis kry nie.”

“Maar ek moet met dit sit? Jy beter dit terugvat huis toe.”

“En wat sê? Sorrie, tjom, ek het per ongeluk jou monster gesteel?”

“Plak dit net saggies terug oor die muur!”

De-Bra sug. “Oukei. Ten minste weet ek dat ek reg was oor een ding.”

“En wat is dit nogal?”

“Dat ek vermoed het dat daar meer as een baby langsaan is. Spookvrou het mos nou self erken dat die man konynmateriaal is,” lag sy.

Sy stoot haar stoel terug. “Dis seker tyd dat ek waai. Dankie vir die koffie. Nee, moenie saam uitkom nie. Ek ken mos nou al die paadjie.”

Die gebreklike naaldekoker word met eerbied opgetel voordat sy die deur oopmaak, “stuur groete vir jou torre” oor haar skouer skreeu en met spoed by die stoeptrappe afhol.

Ek is te lui om haar te jaag. Maar ek gaan haar vir seker terugkry. ‘n Plan sal wel na vore kom…

Leave a Reply

error: Content is protected !!