Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die ontstellende nuus oor prostitusie en seksslawerny het Springbok die week uit sy rustige plattelandse slaap geskud.

Dit nadat die 37-jarige Leandre Williams in die Kaap verskyn het vir beweerde sekshandel met plaaslike meisies.

Volgens die staat het Williams, haar Kongolese man, Edward Ayuk, en haar swaer, Yannick Ayuk, ‘n soort bordeel in Milnerton, Kaapstad bedryf. Meisies van die Springbok-area was hierheen gelok onder die valse voorwendsel van werk. Hierna moes hulle hulle liggame verkoop en die geld aan Edward en Yannick gee.

Volgens die Valke op Springbok het meisies reeds in April 2017 sake op Springbok teen haar gemaak.

“Ons het haar in Kaapstad gaan arresteer, nadat sy ‘n meisie aan een van ons agente verkoop het. Sy is skuldig bevind en beboet.”

Van die meisies wat weggekom of gevlug het, was verwagtend en die vermoede bestaan dat van hulle seksueel-oordraagbare siektes opgedoen het.

Volgens ‘n bron na aan die ondersoeke was Williams ook later gedwing om prostitusie te doen. Toe sy moeg hiervoor was het sy na Springbok gekom om nog meisies te werf.

Drie van die  meisies is van Matjieskloof, buitekant Springbok, een van Okiep (Skietbank) en die vyfde waarskynlik van Steinkopf of Komaggas afkomstig.

Hulle bly anoniem en sal teen die drie gaan getuig.

Williams en Edward het drie kinders. Vermoedelik is die kinders in ‘n plek van veilige bewaring geplaas.

Williams en haar man, Edward,  asook Yannick, moet weer op 13 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof wees. Hulle staan tereg op ongeveer 40 klagtes wat verband hou met prostitusie en die bedryf van n bordeel.

Sy is tans uit op borgtog van R3 000.

Leave a Reply