Liewe Katrien
My man het besluit dat hy van die ‘bushy look’ hou, want dis mos glo in die mode. Dit maak my mal om dag na dag te probeer om nie vir hom te kyk nie, want as ek in sy rigting loer, sien ek net sy slordige vol baard raak. Hy het krullerige hare, en ek is gek daaroor, maar hemel, daardie bos onder sy wangbene gil om getem te word.
Ek kan ook nie meer net lekker soen nie, want die harige vingertjies kielie my oral. Wat stel jy voor?
Groete
Viking Gade
Liewe Viking Gade
Daar is meer as een benadering tot jou probleem.
As manlief nie na raad wil luister om sy klosse te tem nie, stel ek voor dat jy ook net alle hare wat jy gewoonlik skeer, net so los. As manlief soos ‘n Viking wil lyk, kan jy mos soos ‘n Viking vrou lyk. Daar was mos nie skeermesse daardie tyd nie.
As hy enigsins kla, en glo my, hy gaan, dan vat jy sy hande in joune, kyk diep in sy oë en soen hom van sy voete af al gril jy jou dood. Dan sê jy vir hom: ‘daar is baie waar daai vandaan kom sodra jou baard netjies en onder beheer is’. En offer dan om hom te help om dit netjies te kry. Jy ontdek dalk net ‘n nuwe nering.
Klik gerus op die skakel hier onder om baie meer inligting te bekom wat manlief hopelik sal noop om iets aan sy woesteny te doen.
https://diewaarheid.com/2021/06/01/baardbek-of-nie-n-tong-in-die-kies-waarheid/