Skip to main content

ISAAC CLOETE

Dit gebeur nie gereeld dat ‘n voertuig pens en pootjies in ‘n selfoonwinkel beland nie.

Saterdagaand was die vreemde “kliënt” in die MTN-selfoonwinkel op Springbok ‘n Renault-voertuig. Volgens inwoners het hulle die voertuig sien ry en toe ‘n slag gehoor.

Een het gesê: “Ons het die twee persone in die voertuig gesien. Waarskynlik die eienaar en ‘n vrou. Hulle het met die hoofstraat, Voortrekkerweg, gery en toe deur die skuifdeur en tralie-hekke gebars. Dit lyk asof die kar gevlieg het.”

Ander het vertel dat die bestuurder van die Renault na die voorval weggehardloop het. Volgens betroubare inligting was daar geen ernstige beserings nie. Vir die kar en veral gebou was dit ‘n ander saak, want aansienlike skade is aangerig.

Baie inwoners is egter bly dat die voorval nie tydens normale besigheidsure gebeur het nie. Dis ‘n bedekte seën meen hulle, anders kon MTN-personeel en kliënte ernstig beseer gewees het.

‘n Vrou, wat toesig hou oor die geboue, het die week vertel dat skade van etlike duisende rande aan die gebou aangerig is.

“Ons wag nog vir kwotasies sodat ons ‘n volledige skade- en kosteberaming kan doen. Dit is dus moeilik om te kan bepaal wanneer MTN weer sake kan doen.”

Die sekuriteit moes die gebou en voorraad oor die naweek oppas. Maandag was daar begin om die beskadigde deure en veligheidshekke te vervang.

Omstanders het Saterdagaand ‘n video versprei wat verskriklike reaksie uitgelok het. Baie vermoed dat alkohol moontlik ‘n rol in die ongeluk gespeel het. Ander het spoed of swak oordeel die skuld gegee.

Verder is die publiek geloof omdat hulle nie begin het om die onbewaakte plek kaal te stroop, beroof of te besteel nie, soos elders in die land gebeur.

Toe Die Waarheid se joernalis die week die toneel besoek was MTN-peroneel besig om op te ruim. Hulle kon ook nie aandui wanneer weer met sake begin gaan word nie. Volgens hulle word nie ‘n enkele selfoon of ander items in die winkel vermis nie.

 

 

Leave a Reply