Tong-in-die-kies sterre, soos voorspel deur Madame Zee
RAM 21 MAR – 19 APR
Genade, hierdie week gaan mense omtrent jaloers wees op jou. Jy het ‘n huppel in jou stap, jou glimlag is wyer as wyd, en jy voel skoon jeugdig. Lente is hier, en jy wil hê almal moet dit weet. Jou positiewe gesondheid is vanweë die son se posisie in jou sterreteken. Jy sal hierdie week enigiets kan vermag. Maak gebruik daarvan. Vra vir daardie verhoging wat jy verdien. Vra jou kêrel/nooi om te trou. Neem ‘n kind aan; die weeshuise loop oor. En as jy enkel is, soen iemand wat jy al lankal wou. Jy sal nie weer so ‘n geleentheid kry nie.
STIER 20 APR – 20 MEI
Die week begin op ‘n lae noot, maar dit sal nie lank duur nie. Ek weet, menopause is ‘n euwel, en as jy vroulik is, gaan jou buie ekstra aangepak wees. Vermy liefs mense, en neem ‘n kort vakansie as jy kan. As jy manlik is, is ek bevrees dat jy onder vroulief se tong gaan deurloop. Verdra dit met liefde. Onthou wie jou kos maak…
Later in die week sal alles terugkeer na normaal. Dit is die regte tyd om ‘n paar rand te waag op die Lotto of Powerball, want jou planete lê in die ‘geldgordel’. Moet net nie jou hele salaris wegwens nie.
Jy kom ook agter dat ongewone dinge by die huis gebeur. Sleutels verdwyn, jy vergeet dinge, ensovoorts. Moenie vrees nie, dis net ouderdom.
TWEELING 21 MEI – 20 JUN
Jou week begin skrander, maar namate die dae verloop, loop jou battery af. Dit is omdat jy verveeld is met jou lewe. Wanneer laas het jy jouself bederf met ‘n aandjie uit? Gaan dans langarm, drink ‘n yskoue duur drankie, want jy mag! Sing kliphard in die kar, al kan jy nie noot hou nie. Kam jou paadjie anderkant toe en sê vir die nuwe jy ‘ek is lief vir jou!’
Jy sal interessante mense ontmoet, en dit sal jou lewe in ‘n ander rigting stuur. Jy sal glad ‘n nuwe stokperdjie begin. As jy op valskermspring besluit, maak net seker dat jou valskerm deur professionele mense opgevou word. Jy wil nie vinniger aarde toe kom as wat jy moet nie.
KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE
Jy is redelik geïrriteerd hierdie week. Dit is tyd om van al die ou koeie ontslae te raak. Pak daardie stoorkamer uit, gooi die klere uit wat jy bêre ‘vir in geval’ dit jou weer sal pas. Soms is dit nodig om óm jou skoon te maak om jou kop ook skoon te kry. Die seisoen-verandering het ook iets met jou gemoed te doen. Die goeie nuus is dat lente in die lug is, en die bloeisels wat oral kop uitsteek sal jou weldra beter laat voel.
Om ‘goedvoel’ vinniger terug te bring, grou al jou ou musiek uit, maak ‘n playlist van jou gunstelinge en luister dit kliphard. As jou bure kla, draai dit harder. Mens mag mos raas tot 22H00 in die aand sonder om gearresteer te word.
LEEU 23 JULIE – 22 AUG
Og, alle leeus sal net hierdie week partytjie wil hou. Mens gaan julle moeilik keer. Die maskerdraery begin julle nou irriteer, en daar is ‘n partytjie persoon binne-in jou wat gil om vrygelaat te word. As jy voel dat die gevoel wel die oorhand begin kry, maak seker dat jy die partytjie by jou eie huis hou. Dan hoef jy nie skuldig te voel as jy vir ure lyfskud nie. Wees net paraat teen vlieënde klippe. Jou bure is Jandooie, en sal kapsie maak teen die lawaai.
‘n Veiliger opsie is om dalk almal in jou straat te nooi. Maak net seker dat almal hulle eie drank bring, en as julle braai, kyk dat die bure nie jou lekker vleis gaps nie. Leeus hou mos nie van goedkoop snitte nie.
MAAGD 23 AUG – 22 SEP
‘n Persoon uit jou verlede gaan skielik opduik. Dit gaan struwelinge in jou verhouding of huwelik veroorsaak, en selfs al voel jy dat jy alles oorboord wil gooi en die persoon met ope arms ontvang, moet dit nie doen nie. Tensy hy/sy ‘n masker dra. Dan kan jy maar druk en tekere gaan.
As jy dit oorweeg om te emigreer, onthou dat die horlosie aanstap, en mense bo 40 word selde aanvaar in meeste lande. Die ander opsie is om eerder hier te bly, en te help om korrupsie uit te roei. Sonder geweld, natuurlik. Die lewe kort mense wat liefde uitdeel.
WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT
‘n Besluit waaroor jy al lank wik en weeg gaan hierdie week vierkantig in jou oë kyk. Moet jy, of moet jy nie? Die vraag is eerder: sal daardie blink paal jou gewig dra? En indien jy ‘n versterkte een kan bekom, waar sit jy dit op by jou huis? Die bure sal die polisie bel as jy half naak probeer paaldans waar hulle jou kan sien. En hoe kyk jy hulle dan Sondag in die kerk in die oë?
‘n Familielid na aan jou gaan onwelvoeglike voorstelle maak wat dokumentasie betref. Onthou, SARS is nie onnosel nie. Hulle sal jou uitvang as jy kroek op die opgawes wat jy indien.
SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV
Die feit dat jy op hoogte bly van alle nuus is nie goed vir jou bloeddruk en gemoed nie. Wanneer laas het jy uit jou maag gelag? Probeer in die komende week afskakel, en kyk slegs TikTok video’s of pluk weer daardie ou bordspeletjies uit. Grootmense vergeet dat hulle ook pret nodig het.
As jy enkellopend is, is hierdie nie ‘n goeie week om in kuierplekke rond te hang nie. Al die gomtorre is vandeesweek uit op ‘n lente-leeujag, en jy wil nie in sy/haar strik gevang word nie.
BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES
Jou kreatiewe sy kom vandeesweek na vore. Die uitdaging is egter om iets nuuts aan te pak. Probeer iets doen wat jou uit jou gemaksone haal. As jy ‘n man is, probeer om ‘n koekversieringklas by te woon. As jy ‘n vrou is, skaf vir jou ‘n oorpak aan en leer om ‘n muur met pleisterpatrone te versier. Elke tweede ou doen abstrakte verfwerk, en dis boring.
‘n Geleentheid sal hom voordoen waar jy die kans gaan kry om aansoek te doen vir ‘n nuwe betrekking. Onthou, die gras is nie noodwendig groener aan die anderkant van die draad nie. Soms is die gras van daardie plastiese, kunsamtige goed. Kyk maar eers die kat goed uit die boom.
STEENBOK 22 DES – 19 JAN
Soms is dit moeilik om uit die kollig te bly, en die komende week gaan weer só ‘n week wees vir jou. Hierdie keer gaan dit egter vir verkeerd redes wees. ‘n Medewerker gaan probeer om jou uit te lok, maar moenie vir die ou kantoortruuk val nie. As iemand op kantoor jou ‘n poets bak, moenie hom/haar probeer terugkry nie. Dit sal hulle poging as ‘n mislukking laat voorkom.
Kry hulle eerder op ‘n ander manier terug. Soos ‘n bevrore stuk vis in ‘n wieldop of iewers in hul karre versteek. Jy sal wel mettertyd met ‘n glimlag kan rondloop.
WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB
‘n Mens is geneig om oor die jare jou eie opinie oor dinge en mense, en veral jouself, op te bou. Soos dat dié wat sê dat ‘n stuk papier slegs sewe keer gevou kan word, en jy dink dat jy dit agt keer kan doen. Nou is die tyd om iets op jou emmerlys aan te pak. Voor jy jou oë uitvee is jy op aftree-ouderdom, en dan het jy nog niks lekker gedoen nie.
Nael kaal oor ‘n rugby-einstryd se veld. Steek vir ‘n spietkop tong uit. Betaal ‘n munisipale rekening met munte. Jy verdien ‘n bietjie opwinding in jou lewe, al glimlag jy agter ‘n masker.
VIS 19 FEB – 20 MAART
Mense wat onder hierdie sterreteken val sal vandeesweek ‘n holderstebolder tyd beleef. Hou net kop en vat elke dag soos dit kom. Raak ontslae van alle dinge wat jou ontstel. Gooi byvoorbeeld dadelik jou e-toll rekening in die asblik. Sit jou skaal op die sypaadjie as donasie vir die informele skrootgaarders wat verbyloop. Blok jou skoonma se oproepe.
Wees hierdie week die volstruis met sy kop in die sand. Dit sal wel oorwaai.
As jy moeg is vir moeilikheid, bel ‘n vreemde nommer en pak by hom/haar uit wat jou pla. Soms kry mens vreemdelinge wat luister.