Die polisie en verteenwoordigers van die Bela-Bela Belastingbetalersforum (BBTF) het verlede maand ‘n besoek aan Salus-oord in Bela-Bela gebring, nadat klagtes ontvang is oor minderjariges wat na bewering ‘n bejaarde inwoner van Salus-oord teister.
Die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dat haar eiendom met klippe gegooi is, haar toegang tot water kwaadwillig afgesny is en dat kinders hul huishouding gereeld teister.
Die klaer het die beeldmateriaal wat sy met haar selfoon geneem het van ‘n onlangse voorval, waar die kinders geweldadig teenoor haar opgetree het, aan die SAPD verskaf.
Sers. Matt Gouws en Johan Mills ‘n BBTF-voorsitter, het aangebied om die aangeleentheid met die ouers van die kinders sowel as die Bela-Bela-munisipaliteit op te neem, aangesien die eiendom en grond in munisipale besit is.
Indien ‘n minderjarige by ‘n teisteringsklag betrokke is, sal die ouers in die meeste gevalle aanspreeklik gehou word vir die optrede van die kind.
Die kinders se ouers sal eers ‘n waarskuwing van die polisie ontvang. Sou die ouers nie daarin slaag om hul kinders te weerhou van so oortreding nie, kan die klaer strafregtelike klagtes lê.
‘n Vergadering sou met die munisipale bestuur oor die voorvalle gehou word.
Op grond van huidige wetgewing is daar ‘n aantal regsimplikasies wat op oortreders van toepassing kan wees in die geval waar ‘n bejaarde persoon beseer, of geteister word.
Hierdie regte en gevolge val onder die Wet op ouer persone van 2006 en die Wet op beskerming van teistering van 2011.