Skip to main content

In die vorige drie artikels het ons gekyk na die groeiende huidige tendens om kinders liefs tuis te onderrig as by die skool, sommige van die redes vir die tendens, die geskiedenis en ontwikkeling van tuisskoolonderrig in Suid-Afrika en elders, die wetlike bepalings rondom tuisskoolonderrig in die RSA, en die gebruik van ‘n detoksfase om u kinders en uself in staat te stel om die nodige kopskuif van formele skoolonderrig na tuisskoolonderrig te maak. U het ook tydens hierdie fase die geleentheid gehad om u kinders dop te hou terwyl hulle besig is met dinge wat hulle geniet ten einde te bepaal wat hul belangstellings en leerstyle is asook om na verskillende tuisskoolonderriginstansies en leerplanne op die Internet te kyk.

Hierdie artikel sou die laaste een in die reeks gewees het. Daar was egter soveel belangstelling in die reeks en soveel vrae van lesers dat ons besluit het om die reeks te verleng. In hierdie artikel kyk ons na die keuse van ‘n tuisskoolonderrigleerplan, die implikasies wat sodanige keuse vir die sertifisering en verdere studie of beroepsvoorbereiding van u kinders mag hê.  In die artikels wat volg fokus ons op die ontwikkeling en gebruik van leermateriaal, die skep van een of meer onderrigleerruimtes, verskillende leerstyle en die gebruik van onderrigleermetodes vir elkeen van die.

‘n Leerplan of, soos dit in opvoedkunde en onderwyssirkels heet, ‘n ‘kurrikulum’, is ‘n dokument wat gewoonlik ‘n aanduiding gee van die inhoud wat in elke vakgebied gedek moet word, die vaardighede wat ontwikkel moet word, die metodes wat vir hierdie doel gebruik kan word, die kriteria wat as aanduiders van leerders se bemeestering of nie van die inhoud en vaardighede gebruik kan word en, in sommige gevalle, die metodes wat gebruik kan word om te bepaal in hoe ‘n mate leerders vorder of presteer.

In die RSA, soos in meeste ander lande is leerplanne uitkomsgebaseerd. Vergeet vir die oomblik alles wat u – negatief of positief – van uitkomsgebaseerde onderwys gehoor het. Ons kan later, as u dit wil hê, ‘n artikel daaroor plaas. Vir ons huidige doeleindes beteken dit eenvoudig dat die eerste stap in die ontwikkeling van ‘n leerplan nie is om te besluit wat die inhoud moet wees nie maar wat leerders behoort te weet en te kan doen nadat hulle ‘n spesifieke leerplan deurgewerk het. Daar is basies drie soorte leeruitkomste: langtermyn- (einde van die skoolloopbaan), medium-termyn- (einde van ‘n termyn of jaar) en kortermynuitkomste (einde van ‘n les of tema). Goed ontwikkelde leerplanne begin met die langtermynuitkomste, breek dié op in medium-termyn uitkomste en laat onderwysers laasgenoemde opbreek in kort-termyn uitkomste/doelwitte.

In formele, vakgebaseerde skoolonderrig dien al drie hierdie soorte uitkomste as basis vir die kies van inhoud, vaardighede, onderleermetodiek en assessering. In die RSA, met sy ‘bemagtiginsgsmissie’, is die langtermyndoelwit van skoolonderrig oor die algemeen om leerders voor te berei vir verdere studie. Gevolglik is die klem in onderrig en leer op die verwerwing van akademiese kennis en vaardighede. Dit is daarom dat kennis in die vorm van verskillende vakke gestruktureer, onderrig en geleer word. Mediumtermyn doelwitte dien dus as kriteria wat gebruik kan word om te bepaal wat leerders se vakkennis en vaardighede aan die einde van elke graad moet wees ten einde vir oorplasing na die volgende graad en, uiteindelik, skoolverlating, te kwalifiseer.

Indien u, soos in die vorige artikel aanbeveel is, bietjie navorsing gedoen het oor bestaande, beskikbare leerplanne, sou u gesien het dat almal van hulle min of meer op grond van dieselfde beginsels gebaseer is. Baie van die instansies wat leerplanne vir tuisskoolonderrig in Suid-Afrika in plek het, gebruik basies die voorgeskrewe nasionale CAPS kurrikulum wat deur die Department van Onderwys ontwikkel is. Die inhoud en die uitkomste van die leerplanne is dus dieselfde.  Die pas waarteen kinders moet leer, die leermateriaal wat hulle moet gebruik om die inhoud te bemeester, en die wyse en datums waarop hulle geassesseer word – d.m.v. take en/of portefeuljes – word deur die kurrikulumvoorsieners bepaal. Ongeag of u dus besluit om u kinders by die Departement van Onderwys self te registreer vir tuisskoolonderwys of by ‘n instansie wat basies met die Department geaffilieër is, gaan dit wat u kinders leer, hoe hulle die leer, teen watter tempo, sowel as wanneer en hoe vordering en prestasie geassesseer word, deur die voorsiener van die leerplan bepaal word.

Die grootste verskil tussen die twee opsies is dat die Departement se leerplan en leermateriaal gratis aan u verskaf sal word, indien u kinders as tuisskoolleerders by die Department geregistreer is. By die tuisonderriginstansie sal u dalk vir registrasie by hulle sowel as vir hulle leerplan en leermateriaal moet betaal. U sal booonop dubbel seker moet maak of u steeds kinders tot en met die ouderdom van 15 jaar by die Department moet registreer (soos wetlik vereis) en of u registrasie by die instansie dit onnodig maak.

Ander verskille sluit in die aanname dat die onderrig van kinders wat die departmentele kurrikulum tuis volg sonder dat hulle by ‘n tuisonderriginstansie geregistreer is, kontakonderrig sal ontvang, die departement se tydsrooster sal gebruik, en dat hul vordering, prestasie en die standaard van die onderrig wat hulle ontvang deur departementele amptenare gemonitor mag/moet word. By implikasie het departmentele amptenare die reg om ‘huisbesoeke’ te doen. Hulle mag dit egter nie doen sonder om die ouers vooraf in kennis te stel van die voorgenome besoek nie. In die geval van tuisonderriginstansies is onderrig en leer óf rekenaargesteund, óf kontak, óf ‘n kombinasie van die twee.

Kinders bo die ouderdom van 15 hoef nie by die departement geregistreer te word nie want hulle is nie meer skoolpligtig nie. Indien u hulle wil onderrig is daar verskeie opsies beskikbaar. Sou u ‘n Suid-Afrikaanse diensverskaffer wou gebruik sal u kind in besit moet wees van ‘n Graad 9 sertifikaat ten einde vir kursusse te registreer wat hulle in staat sal stel om die senior sekondêre sertifikaat te verwerf.

U sou ook kon besluit om eerder ‘n internasionale leerplan te volg, een wat u kinders in staat sal stel om, indien hulle wil, oorsee verder te studeer of daar te gaan werk. Die bekendste van hierdie sluit in die Cambridge International Certificate of Senior Education (IGCSE) waarvoor geen bewyse van vorige leer vereis word nie, en waar eksamens op enige vlak op enige ouderdom en by einige erkende eksamensentrum in die RSA geskryf kan word. Die leertempo word deur die leerder bepaal maar gewoonlik duur dit omtrent 3 jaar om hierdie sertifikaatkursus te voltooi. Leerders kan of op hul eie leer of van beskikbare diensverskaffers gebruik maak.

Indien u kind nie in verdere studie belang stel nie maar eerder hom/haarself vir die arbeidsmark wil voorberei kan hy/sy by MOOC (Massive Open Online Courses) registreer vir spesifieke beroepskursusse. Verdere studie in beroepsrigtings is ook beskikbaar by universiteite soos die Open University en MIT. Nie een van dié vereis enige skoolverlaterssertifikaat vir toelating nie.

Indien u kinders enige van die internasionale kursusse voltooi het en dan besluit dat hulle by ‘n Suid-Afrikaanse instelling verder wil studeer sal hulle hul oorsese sertifikate by SAQA (South African Qualifications Authority) moet laat evalueer. Sodanig evaluasie dui dan ook aan in watter mate die oorsese kwalifikasie met soortgelyke RSA kwalifikasies ooreenstem.

Laastens sou u kon besluit om u eie tuisonderrigleerplan te ontwikkel, een wat in die langtermyn u kind vir die volwasse lewe in sy geheel voorberei, nie net vir ‘n spesifieke beroepsrigting nie. By implikasie moet u die gewoontes, waardes, kennis en vaardighede wat kinders moet aanleer om nie net suksesvol by ‘n ewigdurend veranderende wêreld aan te pas nie, maar ook om dit krities en kreatief te kan manipuleer ten einde ‘n gelukkige en suksesvolle bestaan te maak, as langtermynuitkomste identifiseer en gebruik as basis vir besluite oor die kennis, vaardighede en waardes wat hulle in hul tuisonderrigprogram moet aanleer. Om die kind se beroepskeuse as enigste langtermynuitkoms te gebruik is gevaarlik – kinders verander hierdie doelwit gedurig en, in elk geval, bestaan daardie beroepe miskien nie eens meer wanneer u kinders eendag die volwasse wêreld betree nie. Anders as formele kurrikulums behoort u tuisskoolonderrigleerplan dus nie bloot akademies te wees nie: die einddoel is die lewe, nie die universiteit of werkplek nie.  Dit hoef ook nie in vakke ingedeel te word of in ‘n spesifiekke tydsperiode afgehandel te word nie. Boonop, omdat elke kind die geleentheid/vryheid het om teen sy/haar eie pas te beweeg, hoef uitkomste nie ouderdoms- of graadgebonde te wees nie. Leermateriaal, selfs oor dieselfde onderwerp, mag van kind tot kind verskil – regterbreinkinders leer beter met behulp van prente, simbole, visuele stimuli terwyl linkerbreinkinders woorde, syfers en feite verkies.

Dat dit ‘n uitdaging is om so ‘n leerplan op te stel is baie duidelik. Ons sal dus die volgende artikel daaraan wy en ook aandui hoe u kan verseker dat die onderrigleermateriaal en metodes asook die wyse waarop u u kinders se vordering en prestasie evalueer in harmonie met u leerplan en die standaard van onderrig in die RSA en elders is.

 

 

 

Leave a Reply