DOREEN VERMAAK
Misdaad is deesdae op almal se Iippe.
Daar verloop nie ‘n dag of die media lewer verslag oor een of ander vorm van misdaad wat plaasgevind het nie. Die vraag is nou wat gedoen kan word om die vlaag van misdaad in Suid-Afrika te stop en lewe en eiendom te beskerm.
Daar is nie slegs ‘n enkele stap wat gevolg kan word om misdaad te voorkom nie. ‘n Gesamentlike poging deur die hele gemeenskap is die enigste wyse waarop misdaad voorkom kan word.
Proaktiewe polisiering kan alleen slaag indien die gemeenskap verantwoordelikheid vir misdaad aanvaar en daadwerklik optree om misdaad te voorkom. Die polisie het ‘n opvoedingstaak, deurdat hulle die gemeenskap moet inlig oor hoe misdaad gepleeg word, wanneer en waar dit gepleeg word en wat gedoen kan word om kwesbaarheid te verminder.
‘n Gesindheid van omgee vir mekaar moet dus by die gemeenskap gekweek word. Hieruit volg respek vir die lewe en eiendom van ‘n ander en dit sal lei tot aktiewe optrede. Die betrokkenheid van die gemeenskap sal die omgewing veilig en aangenaam vir almal maak.
Sukses kan slegs verseker word indien die polisie en die gemeenskap ondersteuning van ander departemente ontvang. Slegs wanneer die gemeenskap totale samewerking van alle belanghebbendes ervaar sal hulle gemotiveerd wees en voort gaan om betrokke te bly.
My ondervinding: vanoggend op pad werk toe, word my pad versper deur ‘n onwettig padblokkade. Ek sê onwettig, want daar is geen padtekens of ligte wat aandui dat daar ‘n padblokkade gehou word nie, net twee ongemerkte voertuie met noodligte aan en gemaskerde mans in uniform wat voor die voertuie inspring.
‘n Verkeerskonstabel wys vir die voertuig voor my om af te trek en ek kan opmerk daar is ‘n woordewisseling tussen die bestuurder en verkeersman. Die volgende oomblik word die deur van die voertuig oopgeruk en die bestuurder word beveel om uit te klim.
In die proses merk ek op hoe die konstabel die bestuurder se vuurwapen wat onder sy baadjie uitsteek, uit sy holster gryp. Waarom is die korrekte prosedure nie gevolg nie, die bestuurder met geen respek hanteer nie en wat as daar ‘n skoot afgegaan het? Hoeveel onskuldige omstanders se lewens was op daardie oomblik in gevaar? Is dit dalk ‘n gebrek aan opleiding of dat daar geen respek meer vir jou medemens is nie?
Die situasie kon soveel anders hanteer geword het.
Ek ry maar stadig verby met klomp emosies en gedagtes wat deur my kop gaan toe ek nie eers drie kilometer verder ‘n trok voor my opmerk wat die pad versper. Al wat ek sien is honderde mense wat van alle rigtings af hardloop met sakke en mekaar slaan en vloek. Ek het die toneel stadig genader met die idee dat ek dalk moet omdraai toe ek merk dit is ‘n trok wat sy vrag met aartappels verloor het en die gemeenskap van die nabygeleë plakkerskamp besig is om die trok te plunder en onder mekaar te baklei.
Is die gedrag normaal? My lewe was nie direk in gevaar nie, waarvoor ek baie dankbaar is, maar hoeveel mense het nie al erger situasie ervaar en beleef nie? Deel gerus julle ervaring met ons.