Skip to main content

De-bra is vroeg op my case vandag.

“Die nuwe bure gaan my op malpille kry nog voordat dit werklik nodig is,” kla sy oor die foon.

“Ek lê nog in die kooi,” gaap ek.

“Ek ook, maar vertel dit vir die buurman. Hoor jy daar?”

Ek luister. Dit klink soos een of ander besie, en ek sê so.

“Nee, suster, daai is een of ander tuisgemaakte weed-eater. Jy moet sien hoe lyk die ding. Soos ‘n gebreklike naaldekoker.”

Ek probeer dit in my kop sien, maar kry dit nie reg nie.

“En dan het die man nog boonop ‘n plêstiek scooter screen teen die handvatsel vasgemaak sodat die stukkies gras en heiningtakkies hom nie raakpiets nie. Pleks hy net ‘n welding helmet opsit.”

Dit moet ek sien! “Neem ‘n foto en stuur dit.”

“Hou vas,” sê sy en steun uit die bed uit.

Ek hoor ‘n skuurgeluid. Jip, dit klink soos haar aluminiumvenster wat oopgeskuif word.

“Hoei! Hei, buurman!” hoor ek haar stem.

Sy keer terug na sowat dertig sekondes. “Ek het na hom geroep maar hy hoor my nie. Ek stuur ‘n foto van die kant af geneem. Ek wou eintlik sy pensie in die foto kry maar daar is ‘n balhorige windjie wat waai, en dit wapper sy los hemp aanhoudend oor die knoppie wat net bokant sy belt sit. Dit lyk of hy ‘n spanspek heel ingesluk het en dit laat afsak het tot net onder sy naeltjie,” lag sy guitig. “Wat weird is, is dat ek nog nie sy ander helfte gesien het nie. Dis asof sy ‘n spook is.”

“Hoe so?”

“Ek sien haar nooit wasgoed ophang nie. As ek hier uit die boonste verdieping loer, dan hang die wasgoed reeds op die draad. Daar moet kinders ook wees, want hier is verskillende groottes bybiegrows wat vandag buite hang.”

“Wanneer gaan jy terug werk toe? Dit klink of jy te ledig is,” sê ek droogweg.

“Maandag. Nie dat ek uitsien daarna nie. Paperfabrieke stink, hoor.”

“Dis seker beter as lyke was,” lag ek.

“Daai was omdat ek niks anders kon kry nie, hoor? En jy moet erken, ek is magic met lyk-make-up. Hoor jy daar?”

Ek hoor niks.

“Stilte! Die naaldekoker het gevrek. Ek het juis probeer dink of hier iewers nog ‘n GrandPa is. Die gezoei van die aanmekaargeslaande monster sny tot teen die binnekant van my pienk breinlobbe.” Sy sug. “Laat ek maar gaan koffie. Ons praat later.”

En net so word die oproep beïndig. Ek wou nog sê dat breinlobbe eintlik grys is. Vandaar die woord ‘grysstof’.

Die foto van die naaldekoker kom via WhatsApp aan. Vrek lelik, dink ek. Maar vindingryk. Ek wonder of ek so iets kan patenteer.

Later sit ek voor die skootrekenaar en probeer ‘n toneel in my kop beding. Ek kan nie verstaan hoe ek so met hierdie boek sukkel nie. Die backspace knoppie is seker al moeg vir my voorvinger. Dis asof die karakters balhorig is en hulle eie storie wil skryf. Wetters!

My gedagtes gaan na dame Barbara Cartland, ‘n vrou wat 723 boeke sonder moeite kon uitryg. Toegegee, haar boeke het my maagpyn gegee, maar as ek dink aan die geld wat sy gemaak het met karakters wat meer gehyg en geluide gemaak het as praat, dan wonder ek waar my resep verkeerd gegaan het. Hoekom kan ek nie net ‘ah, my darling, your eyes are like pools of turquoise bliss’ uitwurg nie. Of ‘she sighed, her heart beating like a hammer behind her tiny ribcage when he kissed her pale palm’ tipe goed.

Ugh! Nee wat, ek verkies karakters wat leef. En bloei. En guitig lag en hou van soen. En so nou en dan ‘n swetswoord uiter as dit moet.

Ek…

Trrrrrrrr!

Sug. Dit was my voordeurklokkie. Ek hou nie van onverwagse gaste nie. Glad nie.

Dis toe De-Bra. En aan haar glimlag weet ek dat sy weer iets onbesonne aangevang het. Sy pluk haar hand agter haar rug uit. “Ta-daa!” sê sy trots.

Die gebreklike naaldekoker lyk kleiner in die regte lewe as op die foto. Dit sê nie baie van die buurman se grootte nie.

“Raai wie gaan lekker rustig soggens wakker word in die toekoms?” knip-oog sy.

“Dis … diefstal!”

“Ja, maar net as iemand jou vang,” redeneer sy. Sy plak die gewraakte gogga in die hoek agter die deur neer. “Ek ruik koffie,” snuif sy in die lug.

Nou ja, ek moet erken dat daar nog nooit iets fout was met De-Bra se reuksin nie. Met baie ander goed wel, maar met haar neus skort daar niks.

Ons loop elmboë deurgehaak kombuis toe, en ek weet dat ek nou-nou in vol detail gaan hoor hoe sy die tuisgemaakte gogga gegaps het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!