Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Vissersgemeenskap is in rou gedompel na die verdrinking van ‘n kleuter.

Liam Cloete (3) van Port Nolloth het Dinsdag net vermis geraak nadat hy gaan speel het. Sy liggaampie was eers Woensdagmiddag ontdek deur ‘n ondersoekspan.

‘n Polisie-woordvoerder, Renique de Wee, het gesê dat daar aanvanklik op Dinsdag ‘n vermiste persoon-klag ontvang is. Daarvolgens was die kleuter soek, nadat hy vroeër by die riooldamme in die Sizamele township by Port Nolloth gespeel het.

De Wee vertel: “Volgens Liam se mammie het hy eers in die straat naby die huis gespeel. Toe hy na ‘n lang tyd nie terug was nie, het hulle na hom begin soek.”

Die inwoners het onthou dat hulle hom by die dam gesien het. Aanvanklik het die Richtersveld munisipaliteit begin om die damme te probeer leegtrek, maar kon niks kry nie.

Die hulp van ‘n see-reddingspan van Upington en Kimberley was ingeroep. Woensdagmiddag het hulle op sy liggaampie in die damme afgekom.

‘n Ingeligte na aan die ondersoekspan het anoniem gesê dat Liam en twee kleutertjies (ook 3) saam naby die riooldamme gespeel het.

Die bron het gesê: “Die tweetjies het ons vertel dat ‘Liam in die kakwaters is,’ toe ons hulle konfronteer. Hierna het hulle ons gaan wys waar hy in die dam geval het.”

Geskokte inwoners hier het vertel dat die riooldamme nie omhein is nie. Hulle is ook nie seker of hierdie tragedie die eerste voorval is nie.

Richtersveld munisipaliteit kon nie vir kommentaar bereik word nie ten spyte van vele pogings.

Op die oomblik word geen gemene spel vermoed nie. Die polisie doen egter ‘n geregtelike ondersoek na sy dood.

Leave a Reply

error: Content is protected !!