Skip to main content

Dr Estelle Visser van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Gauteng het gewaarsku dat die versuim om huisdiere teen hondsdolheid in te ent onwettig en ‘n risiko vir openbare gesondheid is.

Lede van die publiek moet kontak met vreemde diere vermy.  As iemand aangeval of ‘n troeteldier deur ‘n vreemde dier gebyt word, moet die plaaslike staatsveearts of die plaaslike owerheid se gesondheidsowerheid onmiddellik in kennis gestel word.  Troeteldiere wat nie teen hondsdolheid ingeënt is nie, moet onmiddellik na die naaste privaat veearts geneem word vir ‘n gesondheidsondersoek en om ingeënt te word.  Mense moet kontak met wilde diere soos jakkalse en ratels vermy.

Dokter Didi Claasen, uitvoerende tegniese en markondersteuning by AfriVet, het gesê om die verspreiding van hierdie siekte te voorkom, eienaars jaarliks hulle troeteldiere teen hondsdolheid moet inent.

Drie vroue het positief getoets vir hondsdolheid nadat hulle n week terug in Kromdraai deur ‘n ratel aangeval is. Daar is ook twee gevalle in Khayelitsha aangemeld.

As u gebyt, gekrap of gelek word deur ‘n dier wat vermoedelik hondsdolheid het, moet die wond of kontakarea onmiddellik deeglik met seep en lopende water gewas word.  Soek onmiddellik mediese hulp en lig die gesondheidswerker in dat u moontlik aan hondsdolheid blootgestel is.

Simptome van hondsdolheid sluit die volgende in:  spierspasmas, oormatige speeksel afskeiding, waansin en vrees vir water.  Indien ‘n mens of dier eers gediagnoseer is met die siekte, is dit basies ‘n doodsvonnis en daar bestaan geen behandeling wat effektief is nie.  Dit is gevolglik kritiese van belang om voorkomend op te tree.

Leave a Reply