Skip to main content

Tong-in-die-kies sterre, soos voorspel deur Madame Zee

29 Aug tot 4 Sept

RAM 21 MAR – 19 APR

Daar kan uitdagings in die werkplek wees. Jy het dus geduld nodig wat jou loopbaan betref. Tensy jy wìl wegbreek. Gaan dan gróót. Mense moet jou agterna beslis kan onthou, al is dit met ‘n sidder in die stem.

Hierdie week kan vir enkellopendes ‘n geheime liefdesverhouding bring. ‘n Skielike liefdesverklaring van ‘n kollega of vriend mag jou dalk onkant vang. Ja, daardie een wat jou nog altyd op ‘n afstand bewonder het. Hou matigheid voor oë aangesien die Son, Mercurius en Mars saam in Leo is en dit kan amok maak. Buitendien, dis effe gevaarlik om te vry waar jy jou brood en botter verdien. Tensy hy/sy die moeite werd is, natuurlik. Dan moet jy dit aan albei kante dik smeer.

STIER 20 APR – 20 MEI

Daar kan ‘n gemengde resultaat wees in sake oor geld en finansies gedurende hierdie week. Jy sal moontlik gelyktydig geld iewers bekom maar ook onnodige uitgawes aangaan. Vermy familie soos die pes, veral die wat jou steeds geld skuld. Kontak ook al die ou mense in jou verlangse familie, net ingeval hulle hul testamente in orde wil kry. Stuur blomme as jy moet.

As jy ‘n diereliefhebber is, gaan hierdie komende week jou hartsnare roer. Jy sal moontlik oorweeg om een van die diere op Die Waarheid se webblad aan te neem. Go for it! Jy sal nie spyt wees nie.

TWEELING 21 MEI – 20 JUN

Jou eienaardighede, wat ‘n bron van vermaak vir ander was, sal u hierdie week ‘n paar voordele vir jou inhou. As jy na ‘n partytjie genooi word, aanvaar gerus die uitnodiging. Jou lewendige, entoesiastiese en buitengewone energie sal hierdie week die regte mense na jou toe lok.

Dit is tyd om uit jou gemaksone te beweeg en met baldadige mense te meng. Soek die vrou met die effense snor in die skare uit, die man wat sy kuif ekstra groot dra, en enigeen wat nie omgee om wit sokkies by swart denims te dra nie. Hùlle sal jou lewe omtower en jou meevoer in die stories van hul lewens. Jy kan ook deel word van hul vertellings.

KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE

Die planetêre impak op jou persoonlike lewe is waarskynlik positief gedurende hierdie week. Jy word meer gemaklik in jou verhouding, en dit kan ‘n strelende uitwerking op jou gemoed hê. Nou is die regte tyd om persoonlike goedjies wat jou in jou verhouding pla, aan te spreek. Jou maat behoort nie aanstoot te neem nie. Praat oor die NikNaks of koekie etery in die bed, die toonnaels wat oral heen vlieg wanneer hy/sy dit knip, ensovoorts.

Steek jou hand denkbeeldige in die lug, en sê jou sê. Jy is die sous werd!

LEEU 23 JULIE – 22 AUG

Oe, jinne! Ek sien ‘n finansiële kwessies wat met moeite opgelos kan word as vooruitsig vir hierdie komende week. Ja, ek weet dat SARS soos ‘n blinde Chihuahua is wat net hap wat voorkom, maar moenie dat hulle jou pret bederf nie. Die invloed van Jupiter kan egter jou senuwees tot ‘n mate help kalmeer. As dit nie werk nie, sing uit volle bors saam met ‘n Boeddhistiese monnik-koor-cd terwyl jy op een been in die middel van jou grasperk staan met jou hande bokant jou kop en jou oë toe. Gebruik muskietweerder want dis amper sulke tyd.

MAAGD 23 AUG – 22 SEP

Dit sal voel asof jou week onderstebo begin, maar geleidelik kan die impak van Venus die warmte in jou werksomgewing laat terugkeer. Aangesien jou emosies baie intens is gedurende die einde van hierdie week moet jy waak teen verlief raak op totale vreemdelinge wat leepoog na jou staar langs die dansbaan of die kar langs joune in ‘n verkeersknoop.

Jy gaan moontlik mense probeer oortuig dat jy vir Elvis in die supermark se parkeerarea gesien het, maar dit is net omdat jy lanklaas ‘n hele sjokolade skelm opgeëet het. Jou liggaam kort suiker! Luister daarna. Die naam Cadbury sal in jou gedagtes posvat.

WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT

Almal weet dat jy al lankal lyndans-klasse wou neem. Nou is die regte tyd daarvoor. Dit sal jou kreatiewe talente laat vloei, en jy sal daardie laslappie deken wat al vir jare in die kas lê nader sleep en dit uiteindelik klaarmaak.

Moenie moed verloor as jy dalk voel dat jy nou in ‘n verhouding is waar niks klaarblyklik gebeur nie. Jou ander helfte wag op jou om die oemf terug te sit in die passie wat nou net effe flikker. Wees braaf! Gee uiting aan jou gedagtes, maar maak net seker dat die geluide nie te luiddrugtig is nie. Mure het ore. Bure ook.

SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV

Die week is vol verandering. ‘n Nuwe ervaring beloof om aan jou deur te klop, en jy sal beslis tevrede wees met jou nuwe stokperdjie. Alhoewel daar effense pyne tevoorskyn gaan kom, is hierdie pyne waarskynlik te wyte aan jou nuwe leefstyl.

Die opwindende joga-gogga het jou teen die einde van die week behoorlik beet, en die goeie gevoel wat die oefeninge in jou ontketen kan veroorsaak dat jy ‘n reis wil onderneem. Kies enige eindbestemming wat ver weg is van Afghanistan. Dinge is tans baie stram daar.

BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES

Die inperkings begin nou sy tol op jou gemoed eis. Daar is net een manier om dit reg te ruk: skryf ‘n boek. Enige boek. Maar maak seker dat daar genoeg humor in is. Mense lag te min. En jy weet dat jy baie snaakse gebeure in jou lewe het waaroor jy kan skryf. Gee skuilname om dagvaardigings te vermy.

Maak seker dat jy na jou gesondheid omsien. Die feit dat jy drome kry waar jy vir ‘n eksamen moet aansit in ‘n skoolsaal en jy niks geleer het daarvoor nie, is ‘n bewys dat jy rus en vitamines kort. ‘n Kort vakansie sal ook jou nagmerries help verlig. Moet dit net nie by familie spandeer nie.

STEENBOK 22 DES – 19 JAN

As gevolg van ‘n paar taalverwante probleme, kan jy lelik klei trap hierdie week. Ja, ek weet mense sê dat jy kan vloek sonder om kommin te klink, maar daar is ‘n tyd en plek om hierdie gawe te beoefen.

Die komende week, asook die posisie van die son in jou sterre, dui alles daarop dat hierdie tydperk jou eer, aansien en gesag, gaan laat geld. Staan vir burgemeester. Of doen aansoek vir jou droomwerk. Sonder taalverwante dinge, natuurlik. Wat ookal jy aanpak, sal geslaagd wees.

Hou net by positiewe dinge. Al wil jy hoe graag ‘n bouncer by Hooters wees, tel jou ouderdom teen jou, en wat sal die dominee sê as hy jou in die verbyloop daar moet sien?

WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB

Hersiening en ontleding is die sleutel om die gewenste resultaat in die volgende week te kry. Die heranalise van jou werks- en leefstylgewoonte asook probleemoplossende houding sal jou die middelpunt van almal se aandag maak.

Dis die regte tyd om ontslae te raak van gatkruipers, skindersusters, moeilikheidmakers en familie wat net kom kuier as hul eie drank op is.

Koop daardie pooltafel waarna jy al lank hunker. Jy weet dat jy ‘n goeie oog het vir ‘n bal.

VIS 19 FEB – 20 MAART

As jy ‘n student van navorsing of hoër studies is, sal jy hierdie week sukses behaal. Jy kry moontlik in die aankomende maand die geleentheid om na ‘n vreemde land te reis en ook die geselskap van vriende te geniet. Jy sal tien teen een baie nuwe dinge in ‘n vreemde land leer, maar hou dit vir jouself wanneer jy terugkeer. Die mens om jou is baie eng.

‘n Skielike nuwe belangstelling in die aanleer van okkulte wetenskappe sal veroorsaak dat mense skeef na jou kyk, maar wie nie waag nie, sal nie wen nie. Wys al die skewenek kritici dat daar meer in jou steek as wat hulle dink. En dan druk jy jou duim teen jou neus, en sê ‘wê-wê-wê-wê-wê’ voordat jy kop omhoog na jou nuwe lewe stap.

Leave a Reply