’n Viëtnamese man, Guyen Phong (46), het die afgelope week in die Bela-Bela-landdroshof verskyn nadat hy glo vroeë die maand in die Buyskop-omgewing buite die dorp met verskeie verwerkte diereprodukte betrap is.
Luidens ’n verklaring van die departement van omgewingsake het lede van die polisie se Groen Skerpioene, die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, SANparke en die departement van landbou en toerisme in Gauteng, klopjagte uitgevoer om die onwettige handel van bedreigde spesies te stuit.
Dit het gevolg ná ’n maandelange ondersoek. Die klopjagte het by stooreenhede in Pretoria en op ’n kleinhoewe in die Bela-Bela-omgewing plaasgevind.
Die ondersoekspan het beslag gelê op 4,19 kg leeutande, leeukloue en meer as 60 kg verwerkte diereprodukte.
Die verwerkte produkte is na verneem word leeuvleis wat in gelatien omskep is. Daar is ook op ’n vuurwapen op die perseel beslag gelê.
Hy is ook aangekla van die besit van ’n ongelisensieërde vuurwapen en onwettige besit van bedreigde spesieprodukte.