Skip to main content

DR BEVERLEY MALAN

Vasberade om die tuisskoolonderrigroete te volg? Dan begin die harde, maar lekker, werk nou. Elk van die stappe wat hieronder bespreek word is belangrik vir die aanwakker en volhoubaarheid van u kinders se entoesiasme vir die leerproses en hul liefde vir die verwerwing van kennis, begrip en vaardighede wat daarmee gepaard gaan.

Stap 1: Stel die skool in kennis dat u u kinders uit die skool gaan onttrek om hulle tuis te onderrig. Die beste tyd om dit te doen is op die laaste of voorlaaste dag van ‘n skooltermyn of jaar.  U hoef geen rede of lang verduidelikings te gee nie: u stel die skool bloot in kennis van u besluit. ‘n Telefoniese oproep, kort briefie of e-pos – met so min inligting as moontlik – is meer as voldoende.  Van die ouers wat reeds die roete gevolg het, beweer dat sodanige kommunikasie liefs deur die kinders se pa hanteer word, bloot omdat die kans is dat skoolpersoneel gewoonlik minder geneig is om’n man as ‘n vrou te probeer intimideer en/of te oortuig van die roekeloosheid van so ‘n besluit.

Vra ook vir die persoon met wie u kommunikeer om u met die nodige skoolverlatings- en/of oorplasingsdokumentasie, sowel as ‘n aanduiding van die graad waarin die kind is of wat hy/sy reeds voltooi het aan u te verskaf. Hou kopieë van alle dokumentasie, ook van dié wat met tuisskoolregistrasie verband hou indien van toepassing.

Stap 2: Nadat u die kinders uit die skool onttrek het, moet u en die kinders ‘n lewensbelangrike, doodnoodsaaklike ‘kopskuif’ maak. Met ander woorde, u moet uself en u kinders ‘genees’ van die persepsie dat skole en dit wat daar onderrig word die enigste, of selfs die beste, leermetode verteenwoordig.

Wat beteken/behels dit?

In die eerste plek beteken dit dat wat ons – volwassenes sowel as die kinders – ons persepsies oor onderrig en leer drasties moet verander. Ons is almal so gewoond aan die feit dat kinders moet skool toe gaan om te leer, aan die ouderdom waarop hulle ‘skoolgang’ moet begin en eindig, aan die vakke wat hulle moet bemeester, die ure wat hulle aan skoolonderrig en leer moet spandeer en die gestruktureerdheid van die skoolstelsel in die algemeen, dat ons dit as ‘n voldonge gegewe beskou. Die kanse is daarom goed dat, gebaseer op sulke veronderstellings, baie ouers die fout begaan om die skoolstelsel in hul kinders se tuisskoolonderrig te probeer dupliseer. Indien hulle dit doen, kan hul kinders net sowel op skool bly.

Hoekom sou dit ‘n fout wees?

In die eerste plek is die hele idee met tuisskkoolonderrig om dit wat kinders leer en die manier waarop hulle dit doen, by hulle belangstellings, behoeftes, lewensdoelwitte, leerstyle, en leertempo aan te pas, eerder as om hulle in ‘n skoolstelsel te plaas waar hulle implisiet geforseer word om wie hulle is ‘op te offer’ ter wille van stelseloorlewing!!

In die tweede plek is tuisskoolonderrig daarop ingestel om moontlike skade – fisies, intellektueel, emosioneel – wat die kind tydens sy/haar skoolloopbaan berokken is, te negeer. Onderwysers en/of hul skoolmaats kon hulle moontlik as ‘dom’, ‘vreemd’, ‘lui’ of ‘moedswillig’ ge-etikeer het bloot omdat hulle stadiger of op ‘n ander manier as hul eweknieë probeer leer het. Hulle is dalk geboelie, of gedwing om vakke te neem waarin hulle nie belang stel nie maar moet neem omdat dit ‘verpligtend’ is. Of, en dit is ewe belangrik, die waardes waarmee hulle grootgeword het, die taal wat hulle praat, en/of die sosiale klas waaruit hulle kom, het van hulle ‘teikens’ gemaak.

Om hierdie moontlike skade te herstel, het die kinders ‘n detoks periode nodig, ‘n tydjie waar hulle kan herstel van dit wat hulle wese en/of selfvertroue geknak het. Die hantering van detoksifisering is Stap 3 in die skuif na tuisskoolonderrig.

 

Stap 3: ‘n Doelbewuste, goedbeplande skooldetoks/ontgiftingsproses kan verskeie vorms aanneem en ‘n dalk tydjie neem. By implikasie het kinders – en hul ouers – ‘n ruskans van stelselgebaseerde stres nodig. Overgesetsynde: moet nie die oomblik wat die kinders uit die skool gehaal is met tuisskoolonderrig begin nie. Laat hulle ‘afkoel’ deur ander dinge te doen, dinge wat vir hulle lekker, stimulerend en/of nodig is: die verrigting van roetine takies in en om die huis, stokperdjies, speletjies, teken, kunsvlyt, musiek maak, legkaarte bou, ens. Laat hulle toe om te ‘speel’, om kinders in die ware sin van die woord te wees. Dit beteken nie dat hulle heeldag voor die televisie of op hul slimfone moet wees nie – onderhandel met hulle hoeveel tyd hulle regtig voor sulke toestelle hoef deur te bring. Hou hulle dop – kyk wat hulle opgewonde maak, hoe hulle probleme benader/oplos, hoe lank dit hulle neem, hoe hulle met mekaar omgaan, ensovoorts.

Gebruik ook hierdie ‘detoks’- periode om tyd saam met die kinders te spandeer. Sluit by ‘n biblioteek aan en/of ondersteun verkopers van tweedehandse boeke – fiksie (70%) sowel as nie-fiksie (30%). Maak ‘n punt daarvan om daagliks ten minste ‘n uur aan boekvoorlesing en die opsomming, hervertelling, bespreking of debattering oor aangeraakte aangeleenthede te spandeer. Ma, pa, en/of ouer kinders kan om die beurt as voorlesers optree maar alle kinders moet in die hervertelling, opsomming, bespreking of evaluering van dit wat voorgelees is deelneem. Nie alleen gee dit aan ouers en kinders ‘saamkuiertyd’ nie, maar dit brei kinders se woordeskat uit, bevorder hulle artikulasie sowel as hulle ouditiewe vaardighede, slyp hul konsentrasievermoë, help hulle om dinge in volgorde te rangskik, en stimuleer hul kreatiewe en kritiese denke – alles vaardighede wat absoluut noodsaaklik is vir probleemoplossing sowel as  doelmatige en doeltreffende leer.

Nie alleen gee die detoksperiode vir almal tyd om gewoond te raak aan ‘n ander roetine nie – een waarin daar nie gedurig van een skoolaktiwiteit na die ander gejaag hoef te word nie, of waar ouers en kinders se teenstrydige verpligtinge stres en konflik tussen hulle veroorsaak nie – maar gee die geleentheid om tyd saam te spandeer, en gee ouers die geleentheid om hul kinders dop te hou sonder dat hulle die weet. Dit gee ook aan ouers ‘n aanduiding van die inhoud, leertempo en onderrigleerbenaderings wat die beste pasmaats vir elkeen van hul kinders se tuisonderrigprogram mag wees. Anders gestel, dit berei hulle voor vir die dinge waarvoor hulle op die uitkyk moet wees wanneer hulle moet besluit watter leerplan, leermateriaal, onderrigleerbenaderings en assesseringsmetodes die beste pasmaats vir elkeen van hul kinders sal wees. Wees bedag op die feit dat hierdie ‘pasmaats’ dalk radikaal van kind tot kind mag verskil.

Dit is hierdie soort insig wat ouers nodig het om te besin oor of hulle ‘n bestaande leerplan wil gebruik en of hulle liefs hul eie wil ontwikkel.

Stap 4: Besin oor die leerplan of leerplanne wat in die beste belang van elk van u kinders sal wees.

Hoe doen mens dit?

Soos alles anders in die skuif na tuisskoolonderrig moet hierdie beluit nie lukraak, oningelig, onder druk, of emosioneel geneem word nie. Voornemende tuisskoolonderrigouers word daarom aangeraai om die detoksperiode rustig te gebruik om verskeie leerplan en onderrigleerbenaderings met mekaar te vergelyk. Kyk na die voordele en nadele van elk. Weeg dit, sowel as die uitdagings en geleenthede wat elke leerplan vir ouers en kinders het, teen mekaar op voordat enige besluite oor die pad vorentoe geneem word. Gebruik ook die insig wat tydens die detoksperiode oor die kinders se huidige ontwikkelingsstadiums, drome vir die toekoms, belangstellings, leerstyle, begaafdhede en/of leeruitdagings geleer is as ‘padkaart’ vir die leerplansoektog. Wil die kinders eendag verder studeer, eerder die arbeidsmark betree, of hul eie ondernemings begin? Dit is die kruks van die leerplannavorsingsproses.

Met hierdie insig as vertrekpunt, Google “home schooling” en/of “tuisonderrig”. Google gee ‘n lys van bestaande nasionale en internasionale instansies wat, benewens die Departement van Onderwys, reeds leerplanne gereed het wat vir tuisskoolonderrig gebruik sou kon word. Van hulle gebruik die nasionale/departmentele CAPS (Curriculum and Assessment Standards), ander hul eie, en nog ander gee slegs raad oor hoe mense hul eie leerplanne kan opstel, fasiliteer en bestuur.

 

Die implikasies (uitdagings en geleenthede) wat elk van hierdie aan u kinders sal bied –  universiteitstoelating hier en oorsee, byvoorbeeld, die kostes, vereistes, prosesse en onderrigbenadering eie aan elkeen van hierdie instansies, asook by wie u om verdere hulp sal kan aanklop, word in besonderhede in die volgende artikel, die laaste in hierdie reeks, bespreek. Ook ingesluit in die laaste artikel is ‘n bespreking van Stappe 5 (die skep van leerruuimtes), 6 (tuisonderrigleerbenaderings), 7 (die ontwikkeling en gebruik van onderrigleermateriaal), 8 (assessering en sertifisering), en 9 (inskakeling by tuisskoolonderrig spesialiste, ouers, blogs en ondersteuningsgroepe).

 

Tot dan, geniet die leerplansafari, maar ook die voorreg om deel van u kinders se leerproses te wees.  Onthou, dit is nie net u reis en u voorreg nie maar ook elk van u kinders s’n, en die mag van kind to kind verskil. Dit is daarom belangrik dat u voorbereid moet wees op gereelde veranderings – in die leerplan wat u aanvankllik gekies het, die leermateriaal wat u gekies of ontwikkel het, en die metodes wat u en u kinders gebruik om die leerproses by elke kind aan te pas. Moet u nie steur aan die gemeenskap en/of u vriende en familie se reaksie op u besluite nie. Soos met die Covid-inenting mag hulle u keuse dalk aanvanklik kritiseer. Ignoreer die kritiek- as u al die voorafgaande stappe gevolg het was u besluit geensins irrasioneel nie – dit was in die beste belang van u kinders. Hou vas aan die gedagte en alles sal weldra gebeur soos dit moet.

Leave a Reply