Hier is ons weeklikse keur van diere vir aanneming in Gauteng. Hou egter in gedagte dat daar reddingsinstansies regoor Suid-Afrika is wat desperaat is om nuwe huise vir wees-troeteldiere te vind. As jy nie ‘n plekkie vir ‘n aanneem-dier het nie, sal elkeen van hulle ‘n donasie van geld, kos of ander benodighede hoog op prys stel.
By Wollies Animal Rescue Project is daar Tipsy, 3-jarige tefie, Proppie, 6-jarige tefie en Bronx, 3-jarige reuntjie. Hul ma is dood en hulle verstaan nie wat aangaan nie. Hulle moet saam aangeneem word. Hulle hou van drukkies en soene, hulle is ook lief vir ander honde, maar geen katte nie.
By Boksburg SPCA is Rex, ‘n gesteriliseerde manlike xCollie van 8 maande. Hy het ‘n fantastiese persoonlikheid met baie energie. Hy is ‘n gelukkige seuntjie, maar luidrugtig en pas dus waarskynlik by kinders van 8 jaar en ouer. Rex is ‘n uitstekende stap- of drafvennoot. Hy het geen probleme met ander honde nie.
By Woodrock Animal Rescue is Goofy, ‘n gemengde reuntjie van ongeveer 13 weke oud. ‘n Tipiese klein hondjie, vol lewe en gereed om die wêreld aan te pak.