Skip to main content

Vrot van korrupsie.

Dit is presies wat die Zondo-kommissie se openbaarmaking was na ‘n ondersoek van drie jaar. Die getuienis en bewerings was vir sommige skokkend en vir ander maar net nóg ‘n langvingerproses wat ontbloot is.

Dis nou vir die wat wou deelneem. Zuma wou met alle geweld niks weet nie, en lê nou lekker in ‘n hospitaalbed. Ek hoor daai laggie van hom in my kop.

Cyril was vir laaste gebêre.

Vir drie jaar moes ons luister hoe mense soos Nhlanhla Nene, Pravin Gordhan en ander staatsamptenare Pandora se boks oopmaak en die elle-lang lys van korrupte ANC wurms ontbloot. Daar wás baie… Die Guptas. Transnet. Prasa…

Die ANC en sy makkers het die land drooggebloei. Verkrag. Wetteloosheid goedsmoeds goedgekeur en as ‘n nuwe norm aanvaar.

Die verslag sal nou gefinaliseer word en uiteindelik aan Ramaphosa oorhandig word, wat dit dan openbaar sal maak.

Wie in die ANC is nié korrup nie? Wie kan met eerlikheid met ‘n skoon gewete hand opsteek vir dié vraag? Ek is seker dat net die piek van die korrupte berg geklim is. En onder draai die duiwels steeds rond.

Die groot vraag is wie vervolg gaan word en wie skotvry gaan afkom. Sover dit Die Waarheid aanbetref, moet ons dit eenvoudig oorweeg om tralies voor Shell House se deure en vensters aan te bring.

Die les van die Zondo-kommissie is dat ons lankal ‘n mislukte staat is. Die algemene aandrang op vervolgings wys dat ons morel nog lank nie ‘n mislukte gemeenskap is nie.

Leave a Reply