Skip to main content

Oukei, ek moet toegee: ek het aangejaag met De-Bra. Sy is fyngevoelig, en ek behoort dit te weet na meer as dertig jare.

Nou het sy haarself en die nuwe vlam genooi vir ete. Die Magnum PI is glo ‘n vee-gan. Nou wat in die naam van die fênsie illuminati-pous gee mens vir so iemand om te eet?

G’n bees, vark, lam, hoender, eend, vis, skulpvis, mossels, (dankie tog!) eiers, kaas, botter, melk en gepaardgaande suiwelprodukte, (niks roomys nie?!) mayonnaise want dit het eier in, en heuning van alle damn dinge.

Dìs die lys goed wat De-Bra afgerammel het laat gisteraand. Natuurlik het ek daarna nie ‘n oog toegemaak nie, want ek wil haar nie weer afpiepie nie. As die man so belangrik is vir haar, moet ek uit my pad gaan om haar gelukkig te hou.

Fo… hemel alleen weet hoekom sy nie sommer ‘n braaierige ou kon optel nie. Of ‘n omnivoor wat alles eet nie.

Want ek is spesjil, hoor ek haar stem in my kop.

Ja, op meer as een manier, sou my ma gesê het as sy nou die stem in my kop kon hoor.

Fo… deksels!

Gewapen met die lysie van moenies is ek toe mos nou winkels toe. Teen die tyd dat ek deur die derde ry rakke beweeg het was ek in trane. Hoekom is daar melk in alles? het ek met ‘n bewende onderlip vir ‘n ouerig vrou wat ook inkopies doen, gevra.

Sy het haar nekkie so styf getrek, iets geprewel van ‘Tara het weer mense losgelaat’, en so vinnig verkas dat ek haar trollie se tjier-tjier vinnig drie rakke verder kon hoor. “Sy moet afslack, sy gaan ‘n speedwobble kry,” prewel ek vir die bottel Black Cat in my hand.

Teen die tjier-tjier episode het ek slegs ‘n sakkie aartappels, ‘n gesondheidsbrood sonder melk of eiers in, en ‘n pakkie pasta in die trollie gehad. Nou het ek darem grondboontjiebotter ook bygevoeg.

Twee ure later, met ‘n kakebeen wat al moeg geklem is en my lae rug wat wil afbreek, druk ek my bankkaart onder die nors kassiere se neus in.

Plastic?” mor sy.

“Man, maar jou haartjies lyk pragtig,” glimlag ek saggies. “Ek wens ek kon myne so dra.”

“Haibo, ons wil straight hare hê en julle wil braid.” Sy draai na die vrou wat my sakkies kruideniersware inpak. “Nkosi yami, kungani abelungu bengeneliseki ngalokhu abayikho?” (Vader, hoekom is die witmense nie tevrede met wie hulle is nie?”

Die ander vrou kyk skaam weg.

“Ngiyakuqonda,” (ek verstaan jou) kap ek terug. “Ek het op ‘n plaas grootgeword, Sussie.”

Haar spottende glimlag kraak en val summier in haar vet skoot.

My kaart word flink geswiep. Seker om my net daar weg te kry.

“Laat dit vir julle ‘n les wees,” gooi ek oor my skouer toe ek loop.

En nou is ek by die huis met my aankope.

Hoe meer ek uitpak, hoe meer grens ek.

Waddehel moet ek met hierdie goed voorsit? De-Bra en Magnum daag oor drie ure hier op, en terug winkels toe is uit soos bok se kind in ‘n skaapkraal.

Nou kyk, daardie ete se voorbereiding het die snot en trane se walle laat breek. Ek huil toe sommer vir my hondjie wat op ‘n dag verdwyn het toe ek in die laerskool was, vir die simpel ou wat my eers jare na ons matriekafskeid sê dat hy ‘n crush op my gehad het toe ons op skool was, vir die verlange na iemand wat ek nie ken nie, vir die stupid liedjie op die radio, (dankie Rian van Heerden dat jy Madonna se Crazy for you speel en my terugvat na onbeantwoorde liefde op universiteit), en ek huil harder toe ek sien wat ek gaan voorsit vir ete.

Ek kap toe sommer die kurktrekker in die bottel Blaauwklippen Cabernet, en voel nie eers skuldig toe ek ‘n ekstra groot glas uit die kas pluk nie.

Hoe meer ek drink, hoe lekkerder lyk die ete.

Ek skrik my yskoud toe ek die tyd op die muurhorlosie miskyk en is dankbaar toe ek sien dis sesuur en nie seweuur nie.  Dit gee my nog ‘n uur om alles af te handel voor my gaste sou opdaag.

Die leë wynbottel land met ‘n ‘donk’ in die leë asblik.

Alles is vyftien minute later klaar.

Ek ook.

Die stort het my darem so half en half opgesober, en ek moes twee maal tande borsel voordat ek nie meer wyn op my asem geruik het nie. “As ek net regop kon loop dan sal die aand ‘n sukses wees,” praat ek met leepoog Sannie in die badkamerspieël.

Sug. Daardie was inderdaad die voordeurklokkie.

En nou haal ek diep asem, plak ‘n glimlag op my Bell’s Palsy gesig, en pluk die deur oop.

“Tjomma!” omhels De-Bra my asof ons nooit vies was vir mekaar nie. Sy druk my so hard dat ek Blaauwklippen burp. “Dis lekker om jou weer te sien,” straal sy. “En dit,” sê sy voordat sy omdraai en haar hand deur Magnum se arm haak, is Chris.”

Oh my hat! “C-Chris?”

“Ja man, jy onthou hom nog seker van ons skooldae af? Ons het mekaar onlangs op Facebook raakgeloop. Is hy nie dreamy nie?” giggel sy. “Kom, maak jou tuis,” nooi sy die ou in.

Net in geval julle nie geraai het nie … Chris is die ou wat glo die crush op my gehad het op skool. En die gevoel was ongelukkig wederkerig.

“Sal jy vir ons wyn skink?” vra ek oorvriendelik en stop die bottel en kurktrekker in sy hande voordat hy enigiets kan sê.

“Ja, natuurlik.” Hy blaas ‘n soentjie in De-Bra se rigting.

Sooibrand ry branderplank teen my slukpyp op en af terwyl ek met my skouer teen die muur sitkamer toe loop om regop te bly.

“Is jy oukei? Jy lyk effe bleek?” vra Chris terwyl hy wyn skink. “Ek moet sê, jy het nogal nie sleg verouderd nie,” fluister hy in my nek toe ek verbyskuur kombuis toe.

“Ekskuus?” Jimmel, moet ek so hard praat?

“Nee, ek het niks gesê nie,” knip-oog hy.

Nou kyk, ek weet dat ek gewyn was, maar die gebeure daarna sal nogal lank nie vergeet kan word nie.

“Kyk, my tjom,” het ek vir Steve Irkel gesê, (ja, hy was dadelik ge-downgrade in my oë), as daar nou een ding is wat jy nie gaan doen nie, is dit met my flirt terwyl jy met my vriendin deurmekaar is. Het jy my?”

“Nee, maar ek sal like om jou te kry,” het hy gefluister.

Ongelukkig vir hom het De-Bra reg agter hom gestaan toe hy daardie nege fatale woordjies geuiter het.

“Wa-a-a-at?” het sy oor sy skouer gebulder.

“Niks nie, my Pop.”

“Pop se poe … poedieng!” het De-bra haarself vinnig gekorrigeer. Sy probeer minder vloek. “Hit jy op my tjom?”

“Natuurlik nie!” Die ou wou nog sy hand op De-Bra se wang sit toe spring ek op sy rug.

Nugter alleen weet hoekom nie. Dalk is dit omdat ‘Don’t stop believing op die radio speel. (Dankie Rian.) Of dalk is dit net eenvoudig omdat ek goed gewyn was.

“Uit my huis uit,” het ek in sy nek gesis.

“Ja, kom ek wys jou waar die deur is,” het De-bra genooi en die ou aan sy lapel stoep toe gehelp. “Laat jy rol, jou dr… driehoek,” skel sy en slaan die deur in sy gesig toe.

Die stilte kom skielik en nie een van ons twee het geweet wat om te sê of te doen nie.

“Wyn?” vra De-Bra skielik en ons bars uit van die lag toe ons hoor hoe Magnum daar wegspin.

“Ja, hoekom nie?”

Later sit ek en sy en lag. Hard en lelik, so uit ons pense, terwyl ons die ete bekyk wat ek wou voorsit.

Daar was geroosterde gesondheidsbroodjies wat dik gesmeer was met grondboontjiebotter. Bo-op die Black Cat was piesings in onegalige ronde skywe gesny. Wyn se skuld. Ek moes dit op ‘n kol in die oond gehad het want die piesangskywe was bruin en heel pap. En vir nagereg was daar tofu vingers  – wat omtrent soos visvingers gelyk het – wat in vlak olie gebraai was en toe in koeksister stroop gelê was. Waar ek aan daardie idee gekom het, sal net Blaauklippen weet…

“Tjom, ek is net bly dat die ding met Chris voor ete gebeur het. Sal ek vir ons ‘n pizza of twee bestel?” lag De-Bra steeds.

“Ja. Tjeers!” druk ek my glas teen hare. Ek was maar net te bly dat ek en De-Bra nou weer oukei was.

Leave a Reply