Skip to main content

ISAAC CLOETE

Dis tans rose en maanskyn vir ‘n plattelendse hotelgroep te midde van uitdagings.

Dié Country hotelgroep het verskeie hotelle in die Noord-Kaap en spesifiek die Namakwa-streek. Hieronder val die bekende Springbok Inn in Springbok.

Struikelblokke soos korrupsie en Covid-19 het die hotelgroep onlangs hard getref.

Die bestuurder van die Springbok Inn (Country hotelle) hier, Rey Franco, het vertel dat die hotel egter  steeds goeie sake doen.

“Dit is nou lentetyd in Namakwaland en ons is baie besig,” het hy verder gesê:

Volgens Franco het hulle fantastiese personeel wat hulle gaste graag verras en met groot plesier behandel. Behalwe dit is die Springbok Inn teen ‘n skilderagtige bergkoppie geleë. Dit trek die natuurliefhebber. Hy het ook gesê:

“Ons tipe dienste vergelyk goed met die van luukse hotelle. Ons verras ons gaste en groet hulle op hulle name as hulle kom inboek. Ook doen ons akkurate en aggressiewe bemarking deur middel van professionele agente.”

Intussen dui alles daarop dat dit n baie goeie blomme-seisoen sal wees na goeie reëns in die streek. Plek-plek staan al plate blomme, veral oranje daisies. Die vele toeriste hoop nou dat die son rêrig warmpies kop sal uitsteek sodat hulle hierheen kan stroom.

Behalwe die impak van Covid, moet die hotelgroep nog die skade van ‘n korrupsie-saak verwerk. Die 49-jarige Andre Vermeulen, voormalige projekbestuurder van die Country hotelle-groep op Springbok is die verdagte.

Volgens die Valke se woordvoerder, Nonthandazo Mnisi, was hy laasweek te Strandfontein, gearresteer deur  die ernstige handelsmisdaad-ondersoekeenheid.

Daar word beweer dat Vermeulen gedurende 2019 eise ingedien het vir die salarisse van hul personeel. Hy het egter in gebreke gebly om al die geld aan die personeel uit te betaal. In plaas daarvan het hy dit gebruik  vir persoonlike gewin.

Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat geld wat vir die hotel bedoel was in sy persoonlike bankrekening inbetaal was. Hierdie misdrywe het veroorsaak dat die hotelgroep ongeveer R575 000 verloor het.

Oor die saak het Franco  gesê: “Al die gebeure was voor my tyd en die beskuldigde is nie meer by ons werksaam nie. Hy het baie geld van ons gevat, maar die eienaar van die hotel het ‘n saak by die Valke gaan maak.”

Vermeulen het reeds vlugtig in die hof op Springbok verskyn. Hy is vrygelaat op borgtog van R10 000. Sy saak was uitgestel tot 24 November, volgens Mnisi.

Leave a Reply

error: Content is protected !!