Die Covid-sterftesyfer is besig om ontstellend te styg, maar die probleem is in die regte wêreld veel groter as net ‘n groeiende syfer op ‘n selfoonskerm.
Volgens rdl. Amelia Bester (foto), die Johannesburgse stradsraadslid vir die wyk wat Constantiakloof, Weltevredenpark en Fairland insluit, sê sy het die laaste tyd verskeie kere te doen gekry met inwoners wie se lewensmaat aan Covid-19 sterf en dan met ‘n geweldige geldelike en administratiewe las sit omdat die oorledene nie ‘n testament gehad het nie.
“Dit kom elke keer as ‘n geweldige skok omdat daardie person gedink het sy of haar maat se sake is in orde,” het rdl. Bester aan Die Waarheid gesê.
“Ek het besef as die inwoners van my wyk so sukkel, moet die problem veel groter wees,” sê sy.
Sy het ‘n boodskap op Facebook geplaas waarin sy professionele mense om gratis of bekostigbare hulp gevra het, en sy is oorweldig deur die reaksie.
“My fone het so gelui. Prokureurs van so ver soos Mpumalanga het hulle hulp aangebied. Ook finansiële raadgewers, insluitende die Capital Legacy groep.”
Die bemoedigende reaksie het haar genoop om ‘n spesiale geleentheid te hou waar mense met ‘n kundige kan gesels om seker te maak hulle sake is in orde. Die geleentheid is vir Saterdag, 28 Augustus tussen 9vm en 2nm in die Roodepoortse bugersentrum in Christiaan de Wetweg gereël.
“Ons doen deesdae alles aanlyn, maar mense verkies maar om hulle geldsake met ‘n regte mens voor hulle te bespreek. Maar ons sal wel Covid-protokols handhaaf,” sê sy.
Volgens haar het die statistiek rondom administratiewe huiwerigheid haar verstom. Toe sy begin nalees, het sy uitgevind dat Suid-Afrikaners in beginsel huiwerig vir administrasie is.
“Ek het uitgevind net een uit vier Suid-Afrikaners doen finansiële beplanning. Vir Afrikaanssprekendes is dit net een uit tien.”
“Administrasie is vir die meeste van ons ‘n las. Ons glo ons sal nog eendag daarby uitkom. Covid het egter veroorsaak dat daardie ‘eendag’ vir baie mense nooit aanbreek nie.”
Rdl. Bester versoek belangstellendes om haar te SMS by 072472 4196 sodat sy ‘n aanduiding kan kry van hoeveel mense belangstel om die inligtingsdag by te woon.