Skip to main content

Katrien sal weekliks Die Waarheid se lesers van raad oor hul persoonlike lewe bedien. Rig jou vrae aan haar by sonja@diewaarheid.com.

Windverwaaid:

Liewe Katrien, my man wil deesdae nie meer met my lepellê nie. Ek kan verstaan dat my boobs nou nie meer so perky is na vier kinders nie, – ja, oukei, dit lê soos ‘n newborn babahondjie langs my in die kooi – maar ek kan nie verstaan hoekom hy so ‘n groot ding daarvan maak as ek hom soebat om my vas te hou nie. Dan sing hy die liedjie uit die Jaws moewie terwyl hy my boobs bymekaar maak en nader na my lyf bring. Teen dan wil ek hom nie meer naby my hê nie. Dink jy hy doen dit aspris sodat ek sy hande wegklap en omdraai?

Antwoord:

Liewe Windverwaaid

Dalk moet jy hom ook so moet bymekaarmaak op ‘n laer plek? En dan ‘n liedjie soos ‘I will survive’ uit volle bors sing?

Dit is egter so dat mans en vroue van verskillende planete af kom en dit nie vir my maklik is om te raai wat in hulle koppe aangaan nie. Women are from Venus, men are from Mars… Daarom het ek jou vraag aan ‘n manlike vriend gestuur om die mansperspektief te kry. Hy skryf:

Jong, Katrien, dit is bitter moeilik om hierdie vraag van jou leser te antwoord sonder om die man wat ter sprake is te ken. Of die boobs wat ter sprake is te sien. Dit is natuurlik so dat mooi borste nie ‘n verskriklike lang rakleeftyd het nie, maar in die meeste gevalle is die probleem nie naastenby so erg soos vroue glo nie. Mans soek nie perfeksie in hulle vroue nie – allermins, want dit sal beteken dat hulle self perfek moet wees, en die meeste van ons besef dat … wel… Boepies, bleskoppe, stoppelbaarde…

Nee wat, daardie komplekse oor ‘n liggaam wat nie meer 22 is nie, is gewoonlik misplaas. Mans hou daarvan om na prentjies van perfekte vroueborste te kyk, maar hulle is heeltemal tevrede daarmee dat swaartekrag en die jare hulle huweliksmaats se lywe nes hulle eie nie met vrede kan laat nie.

Mans is oppervlakkig, maar die meeste van ons trou darem nie met ‘n vrou oor haar perfekte boobs nie. Ons kies ons lewensmaats omdat hulle pret is, ‘n beste vriend… Daardie vriendskap en pret hou natuurlik nie vir altyd nie. Kinders en dag-tot-dag verantwoordelikhede het die manier om dit te smoor, maar dit beteken nie ons mis dit nie.

Verklaar dit dalk die verspotte Jaws-liedjie en die boobs bymekaarmakery? Straks moet jy net bietjie uithaak en self verspot wees. Katrien se voorgestelde optrede kan werk as dit met die regte hoeveelheid stuitigheid uitgevoer word en geen geniepsigheid nie. Hoeveel stuitigheid is genoeg? Baie. Baie, baie, baie.

Vertrou my hieroor. Gee hom die pret, verspotheid en kameraderie waarna hy smag. Die intimiteit waarna jy soek, sal volg.

PS: Baba-hondjies is baie oulik.

 

Leave a Reply