Skip to main content

Tanika van As, ‘n agtjarige  Kaapstadse skaatser het onlangs ‘n goue medalje verower by die National Figure Skating Championship in die jeug-afdeling wat in Forest Hill City in Centurion plaasgevind het.

Tamika was die jongste deelnemer in haar ouderdomsgroep.

‘Ek het regtig senuweeagtig gevoel en ek het gedink ek gaan laaste kom, maar ek het nog steeds in myself geglo,’ vertel ‘n skaam Tamika vir Huisgenoot uit haar huis in Bonteheuwel. “Ek was gelukkig en trots op myself.”

Haar ouers, Tarren (37) en Graham (53), is net so opgewonde soos hul dogter.

Tamika se reis het begin toe sy vyf jaar oud was. Die jongeling en haar ma het na Grandwest Casino and Entertainment World gegaan om Graham, wat ‘n tafeltennisafrigter is, te ondersteun tydens die 2016 Junior-Wêreldkampioenskappe vir tafeltennis.

Toe Tamika en haar ma verby die baan loop, het sy onmiddellik in ysskaats belang gestel.

‘n Maand later het Tamika, wat daarvan droom om eendag ‘n skaats-afrigter te wees, by die Black Panthers Ice Skating Club aangesluit, waar sy die jongste van 36 solo-skaatsers is.

Toe sy kort daarna aan die klubkampioenskappe deelneem, het sy die kompetisie gewen.

Sedertdien het die graad 3-leerder, wat ook tafeltennis speel, die meeste van haar tyd aan die baan gewy. Sy word nou om 05:00 wakker om vir vier dae van die week 30 minute lank te oefen.

“Dit is regtig vermoeiend, maar ek moet dit doen, want dit is my gunsteling sport,” sê Tamika, wat nou ook voorberei vir haar Westelike Provinsie-tafeltennisproewe.

Maar vir Tamika en haar ouers was die reis nie seepglad nie.

Die passie van hul kind het ‘n finansiële tol op die gesin geëis, sê Tarren. Haar lesse kos R250 vir ‘n halfuur, wat dikwels ‘n uitdaging is, aangesien Graham, wat ‘n skooluniform-onderneming besit, die enigste broodwinner van die gesin is.

‘As besigheid nie goed is nie, kan sy nie gaan nie,’ sê Tarren. ‘Ons inkomste is deesdae nie so goed nie, dus moet ons afskaal op lesse, wat beteken dat sy minder tyd het om te oefen.

Die gesin is nou op soek na ‘n borg.

Ten spyte van die uitdagings, is Tamika, wat hoop om eendag na die Olimpiese Spele te gaan, opgewonde oor haar skaats-toekoms. Die jong meisie berei nou ywerig voor vir die Kaapse Inter-provinsiale kampioenskappe in Oktober.

Leave a Reply

error: Content is protected !!